Maar Petrus sê vir Hom: “U sal in alle ewigheid nooit my voete was nie!” Daarop sê Jesus vir hom: “As Ek jou nie was nie, het jy nie deel aan My nie.” Simon Petrus sê toe vir Hom: “Here, dan nie net my voete nie, maar ook my hande en my gesig.”
Lees Johannes 13
Kommunikasie het oor die afgelope dekades drasties verander. Jongmense ken nie ’n wêreld sonder Facebook, Twitter, Instagram en WhatsApp nie. Familie en vriende kuier saam terwyl die een of ander skerm eerder as die mense rondom hulle die fokus is. Opvoedkundiges meen kinders se breine word deesdae anders “bedraad” en ontwikkel anders, omdat eendimensionele kommunikasie hul lewens oorheers. Dalk geld dit nie net vir kinders nie, maar ook vir volwassenes.
Onlangs met ’n kinderdiens het ek uit Johannes 13 gepreek oor Jesus wat sy dissipels se voete was. Dit het gehandel oor diensbaarheid. Voor in die kerkgebou het die kinders om die tafel gesit. Daar was ’n skottel water met ’n handdoek. Nie een van hulle wou gelukkig so in die winterweer hul voete laat was nie.
Maar die boodskap wat hulle gehoor het, was nie net ouditief nie, dit het ook hul ander sintuie betrek. Hulle het dit nie net gehoor nie, maar het ’n tasbare prentjie daarvan gekry. Hopelik gaan hulle dit nog lank onthou. Ek gaan minstens hul deelnemende reaksie onthou.
Die dissipels het ’n duidelike ervaring en ’n prentjie van Jesus se liefde en diensbaarheid gekry toe die Meester hul vuil voete gewas het. Sy dade het net so sterk of sterker gespreek. Keer op keer het Hy tasbaar aan hulle die evangelie verduidelik met ’n koringkorrel, suurdeeg, ’n wingerdstok, ’n wasskottel, en uiteindelik met die kruishout. In die bovertrek het Hy selfs Judas, sy verraaier, se voete gewas en daardeur sy liefde en genade gewys.
Hoe verkondig ons vandag die evangelie in die digitale era waar mense soms die virtuele realiteit verwar met die harde werklikheid? Wat is die prentjie wat ons oordra aan die wêreld? Miskien moet ons die geleenthede wat digitale kommunikasie bied bemeester en benut, maar tegelykertyd weer bewus word van die rol van gewone, eenvoudige, tasbare kommunikasie en interaksie.
Die dissipels kon daar aan die tafel Jesus se warmte, liefde en omgee ervaar. Kom ons hoor weer die opdrag om mekaar lief te hê soos Hy ons liefhet. Dit is dalk een van die grootste behoeftes in die kerk en in die wereld. Ons kan dit alleenlik doen vanuit ons verhouding met Hom wat die Bron van liefde is. Dan sal ons as lote wat in die wingerdstok ingeënt is, waarlik die vrug van sy liefde en genade dra.
Hierdie liefde is nie gefokus op die eie ek nie, maar op ander. Heelwat van die dissipels was daardie dag so bewus van hul eie belangrikheid dat hulle beslis nie hierdie vernederende taak van ’n dienskneg sou verrig nie. Ons as Jesus se navolgers is geroep om nederige liefde te leef en te verkondig. Dit hoef nie beredeneerd en teologies korrek te wees nie, maar moet eerder net geleef word. Ons moet eerlike, egte liefde saai deur Jesus se hande en voete hier op aarde te wees.
Miskien moet ons voortdurend selfondersoek doen en begin by ons eie hart. Ons moet as God se kinders al meer die hart van ons Vader openbaar. Jesus het ons kom wys en kom vra om sy voorbeeld te volg.
Die Here se liefde vir ons is nie net woorde en lippetaal nie, dis dade. Die kerk vertoon sy liefde sigbaar en tasbaar op talle maniere, en ons moet besef dat dit die enigste manier is waarop ons boodskap werklik geloofwaardig kan wees. Vra jouself af: Hoe lyk die skottel en handdoek wat voor jou staan? Wat is die gawes wat aan jou toevertrou is waarmee jy kan dien? Waar is die voete wat gewas moet word? Wat is die nood in jou omgewing wat jy met jou gawes kan aanraak?
Kom ons verkondig die evangelie met al die middele tot ons beskikking.