Namate frustrasie met sosiaal-politieke omstandighede in Suid-Afrika toeneem, groei die aandrang van lidmate dat die Kerk haar stem moet laat hoor. Die herderlike skrywes uit die Algemene Kerkvergadering en sy Kommissie is nie genoeg nie, word beweer.

Ons wil gehoor word. Dit is so dat ’n enkele stem nie ver kom nie. Daarom moet ons saam praat.

Maar dis ’n vergissing dat die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika in die politieke arena danige invloed het, of selfs dat wat die algemene kerk sê, groot gesag het. Kenmerkend van ideologie is juis narsisme en ’n hardnekkige doofheid vir verskil, en dis die vooroordeel wat ons samelewing stuur.

Dit moet die Kerk nie met stomheid slaan nie. As die kerk nie oor God praat nie, sal niemand anders dit doen nie, en as die kerk niks oor sosiale geregtigheid te sê het nie, versaak die kerk haar verantwoordelikheid. Minder is egter meer: Die Kerk moet waak teen ’n knaende klaery, want dan word ons getuienis net geraas.

Die Kerk moet oordeelkundig die aangeleenthede waaroor ons met gesag kan praat, onderskei: dit waaroor God praat. Praat dan dáároor, en praat die waarheid, altyd.

Die rede vir waarom ons praat, is nie om ons eie stem te laat hoor nie, en die Kerk is geen platform vir partypolitiek nie, nie nou nie, nooit nie, ongeag hoe eenders lidmate van die Kerk, vir ons gevoel, tans polities dink.

Ons is dit net eens oor wat ons glo.

Die vraag is: Hoe sit ons vir die wêreld ore aan, letterlik (en dalk ook figuurlik)?

Praat. Praat jý. Doen dit self. Jy mag en jy moet.

Voor jy praat om aan magtige kragte ’n verskil te maak, hou in gedagte:

  • Geen vryheid is so eg soos dié wat van waarheid kom nie.
  • Geen vrede gee rus soos die rus wat van God af kom nie.
  • Geen blydskap is so blywend soos die goeie nuus oor God nie.
  • Geen wysheid is so geloofwaardig soos jou eie afhanklikheid van God nie.

Luister eers goed voor jy praat, na Gód, en na die ménse wat jy hoop jou sal hoor.

Nader jou gehoor op gepaste maniere. Skryf, praat, praat saam, saai uit, staan op, daag op, sluit aan, neem deel, steek hand op, steek hande uit, doen en dien. Basta met die vrees vir en afsku aan sosiale media; leer dit reg gebruik.

Wees tog net eg: Wees self wat jy van ander verwag.

Moenie SKREE nie. (Hoofletters skreeu, in e-pos en sosiale media.)

En leer dit maar van die Kerk: Moet ook nie preek nie; niemand luister buitendien nie.

In die ou dae het ons geskrik vir hierdie woord: getuig. Moenie meer bang wees nie! (In ’n tyd waarin mense die moed het om te sê dominees lieg as hulle preek, keer vrees niemand mos meer nie?)

Praat jou hart uit. Dis nie dieselfde as om jou mond uit te spoel nie.

Nee! as dit moet. Sê net meermale Ja!

Met die hoed in die hand, kom jy deur die ganse land.

Eelte aan jou ore (of waar ook al jy jou gevoelens bêre) sal help. Die liefde is dikvellig. (Jesus is met deernis meedoënloos.)

En hou tog net in gedagte hierdie is nie die hemel nie en die koninkryk gaan ook nie hier in vervulling nie, nie deur enigeen se toedoen nie, ook nie joune nie, alle goeie bedoelinge ten spyt.

Gaan dit ’n verskil maak? Ek het geen idee nie. Maar dit is hoe ’n mens dit doen. Wees op die uitkyk vir mense wat dit reeds doen, en wys jou ondersteuning. Sodoende groei die gewaarwording: Ons is baie hier.

 

(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)

af
af
Deel met behulp van
Copy link