Die Kerk loop leeg. Nie net die Almanak-syfers sê so nie, die kerkbanke skreeu dit uit.

Daar is natuurlik goeie redes waarom ’n mens jou nie daaroor moet verknies nie, en ewe goeie redes om jou snags te laat wakkerlê.

Josh Daffern maak op die webwerf Patheos ( https://www.patheos.com/ ) ’n lys van die top-tien-redes waarom mense die rug op die kerk draai. Nie eens een van hulle is juis nuus nie; ons het hulle almal al gehoor. Maar wat my pla, is dat ons aan minstens ses, dalk sewe, miskien selfs agt, van die tien iets daadwerkliks sou kon doen. Anders gesê: dat die meeste van die redes vir mense se aanstoot aan die kerk, óns skuld is. Die kanse is beter as net gemiddeld dat ons wat in die kerk is, mense hiervandaan verjaag.

Ons kán met kerk beter doen. Dis net nie goed genoeg dat ons Gods water oor Gods akker laat vloei, en aanhou onskuld pleit nie. Kerkwees is ons opdrag.

  1. (Nuwe) mense voel nie by ons welkom nie. Dít, sê Daffern, staan boaan die lys. Besef ons dan nou nog nie dat om net te gaan môresê, en te nooi vir tee, wondere verrig? Dat om net al gasvry te wees, die liefde van God tasbaar maak? Of is ons self, in ons eie gemeentes, nog nie tuis genoeg nie? Want as iemand tuis oor jou drumpel kom, laat jy hulle tog welkom voel in jou huis. Jy doen moeite. Dis ’n skande as jy dit nie doen nie! Het óns by die kerk nog nie dieselfde vrymoedigheid nie? Hierdie is ook jou huis, joune én God s’n. Wie ook al vreemd voor jou staan, is klaar deur God ingenooi; behandel jy hulle dan net so.
  2. Ons is manteldraaiers. Dit het min te make met die klere wat ons dra, meer met wat onder die klere aangaan. Pas gedrag nie by geloof nie, is die gelóóf verdag, en ons oneg. Al dra ’n aap ’n goue ring… Ja, ons doen allerhande kwaad. Maar dis nie waar Daffern dink die probleem lê nie. Kerkgangers én kerklos mense weet maar alte goed hoe dit voel om aan die ontvangkant van sonde te staan. Dit is ons al te wagte, want ons is, almal van ons, van nature boos. Wat ewe erg seermaak, maar gans te maklik by ons in die kerk ongesiens verbygaan, is dat ons beweer dat ons God liefhet, en geen mens kan dit aan ons agterkom nie. Dat ons glo in vergiffenis, laat ons nog nie met liefde moeite doen nie.
  3. Die kerk maak seer. En moenie vir my probeer sê dis aan hul dun velletjies toe te skryf nie, want ek het ook al gebloei. Die kerk is soms wreed, meer as net ongevoelig. Gelukkig verstaan ons al vir God en mense anders. Ons weet dat jy God nie aan sy baadjie kan takseer nie. Onder die vodde, leef ’n God met ’n groot, warm hart, maar die verflenterde toiings van die kerk hou min mense nog regtig warm. Ons weet al om dieper te kyk, en nie deur die rooi tapyt geflous te word nie. Maar mense wat met sterre in die oë by die kerk opdaag, loop dikwels gebroke hiervandaan die duister in.
  4. Ons veroordeel. Nou kyk, gelowiges is juis mense wat móét oordeel. Sonder dié gawe van goeie oordeel en onderskeidingsvermoë sou ons die kwaad omhels. Daarom is ’n eenvoudige moenie oordeel nie! net nie goed genoeg nie. Die kerk moet bekendstaan vir liefde aan sondaars. As net enkele onder ons wie se sonde skande maak, veroordeel voel as hulle die kerk inkom, doen ons dit verkeerd. As die kerk gedurig met straf dreig, waarom sal enigeen van ons lank daar vertoef? Toepaslike straf is nie waarvoor ons oordeelsvermoë kry nie. Natuurlik sien die kerk sonde raak vir wat dit is. Dan stel die kerk genoeg genade vry om al wat ’n sonde is, te bedek. Straf is op Golgota al afgehandel.
  5. Ons vervals die evangelie. Ons hou van vol kerke. Ons is bekeringgedrewe. Aan dié wat ons reeds het, klou ons verbete. Dit doen jy net met ’n plooibare evangelie wat paai as dit moes vermaan, vervloek as dit moet vryspreek. ’n Vervalste evangelie is nie goeie nuus nie, en fopnuus nie volhoubaar nie. Erger nog, vervlak jy die evangelie tot menslike hulpbronontwikkeling, lieg jy oor God. God gaan nie keer as die hel só ’n kerk wil oorweldig nie. Wees uit die staanspoor oor God eerlik. Mense kom nie oor ’n lekkerkerkery na God toe nie, net kerk toe. En mense wat regtig na God op soek is, kry jy nie lank geflous nie. God is aantreklik soos God is. Die kerk hoef geen grimering aan te smeer nie.
  6. Ons het nie ons vinger op die pols nie. Jesus laat ons goed verstaan Hy is vir siekes hier en Hy het hulle gesondword in die oog. Siekes het ’n dokter nodig. Maar ons slaag daarin, sê Daffern, om die dokter en die medisyne, die siekte en die sorg, irrelevant te maak. Alles lyk dan van ver af só gesond! Ons wil nie meer siekte diagnoseer nie, die voorgeskrewe behandeling nie toedien nie. Trouens, ons kom die siekte nie eens meer agter nie, daarom is alle behandeling naderhand oorbodig en selfs aanstootlik. Dat ons daarin geslaag het om die evangelie so uit te rangeer dat dit geen saak of verskil meer maak nie, so sê Daffern, is die een aantyging wat die seerste maak. Hy sê, en hier haal ek hom aan: Faith no longer seems relevant. Somehow, someway, the church can take the most relevant and life-changing message in the world and communicate it in such a way where people see it as absolutely irrelevant.
  7. God misluk. Dat ons God verkeerd verstaan, hou verband. Baiekeer moedig ons hul misverstand aan. Talle keer die rug op geloof omdat God nie aan hul verwagtinge voldoen nie. Hulle het vooropgestelde idees oor wie God is en waarvoor ’n mens op God behoort te kan reken. Maar hierin het God jammerlik misluk. God skiet so ver te kort met onverhoorde gebede, onbeantwoorde vrae, gebrekkige uitkomste, verskonings en ’n verleentheid van ’n kerk, dat hulle die pad vat. Ten diepste is ’n verkeerde Godsbegrip ook die kerk se skuld, of, en dis al hoe meer die geval, oordrewe selfvertroue.
  8. Dit gaan te goed. Die kerk groei waar daar armes is, taan waar mense gegoed raak. Let wel: nie goed word nie, maar gegoed, met baie meer goeters as wat goed is vir ons. Hoe beter dit met ons gaan, hoe meer verdwyn gaandeweg die nood, en later selfs die vraag na God. Geld vul elke gemis. Dis nie dat ryker mense teen God draai nie. Glad nie! Hulle is dankbaar vir die seën. Maar hulle sien ook nie meer die nodigheid in van te moet betrokke bly by gemeentes waar mense met minder as hulle, ’n las op hul gewete word nie. Daffern is vriendeliker as ek: Hy sê dis nie dat gegoede mense teen God draai nie, hulle dink net nie meer godsdiens is regtig nodig nie. Die onderliggende idee is dat God noodsaaklik word as dit met jou sleg gaan, maar daar is weinig nut in godsdiens as dit met jou voor die wind gaan. Hierdie is een van die redes vir die weglopery waarvoor die kerk seker nie altyd kan pa staan nie. Dit bly moeilik om uiteenlopende kulture in een gemeente gelukkig te hou. Ek het ’n gemeente hieroor gesien skeur.
  9. Ons is gans te besig vir kerk. As ons programme te besig raak, word ons gedwing om af te skaal. Dis nie die belangrikste goed wat om jou tyd kompeteer wat uiteindelik wen nie; dis die goed wat onmiddellike resultate oplewer wat koning kraai. Baie is spyt oor hulle kerkgaan moet prysgee, maar daar is regtig net te veel ander goed wat gedoen moet kom. Sulke mense maak die kompromis dat hulle kerk toe sal kom as daar niks anders aan die gang is nie. Die probleem is, daar is natuurlik altyd iets anders aan die gang! Gelukkig weet ons almal nou ook al jy hoef nie net in die erediens met God te praat nie; God kyk ook graag krieket. Hieraan kan die kerk nie veel doen nie, behalwe om die beste eredienste waartoe die dominee in staat is, op te dis. En, geroepe of nie, ons kom nie almal by nie. Daar sal altyd iemand beter wees.
  10. Die Bose is ’n probleem. Van alle leerstellige redes vir padgee uit die kerk, is die Bose die grootste. Dit hou weer verband met ’n skeefgetrekte evangelie en ’n fout in ons Godsbeeld, maar dis een rede wat kerkverlaters aanvoer waarteen die kerk tevergeefs preek. As God dan almagtig, alwetend en liefdevol is, waar kom die Bose vandaan en waarom het dit die oorhand? Ten diepste is dit ’n vervlakking in die teologiese antropologie: Ons vat die mens se geneigdheid tot sonde vlak, want van onsself verwag ons om die dood nooit kwaad of boosheid nie. Ek kan nie help nie om te dink dat relevante prediking, oftewel behoorlike toepassing van die evangelie in ons deurleefde harde werklikheid, hiervoor ook kan help.

Ek het geskommel aan die nommering van Josh Daffern in sy Patheos-artikel. Die idee was om dié redes vir kerkverlating waaraan ons dalk nog iets kan doen van die ander te skei. Maar ek is bevrees dit werk toe ook nie so goed nie. Want dis alles maar die kerk se skuld.

Noudat ons die redes ken, en die antwoorde het, gaan ons niemand meer toelaat om weg te gaan nie, nè?

My gemeente is hier, einde Februarie, kleiner as ooit. Moenie na my luister nie!

https://www.patheos.com/…/10-reasons-why-your-friends-a…/2/…

 

 

(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)

af
af
Deel met behulp van
Copy link