……………… en ………………., familie en vriende, die teksvers vir die prediking is uit Spreuke 30 vers 18: “Daar is drie dinge, nee, vier dinge wat ek nie verstaan nie: Hoe ’n aasvoël in die lug bly, hoe ’n slang teen ’n rots op seil, hoe ’n skip op die diepsee vaar en hoe die liefde tussen ’n man en meisie werk.”

Familie en vriende, eintlik is die mens ’n snaakse wese! Het julle al ooit daaroor nagedink wat die woordjie “liefde” beteken? Alles wat om ons aangaan en wat met ons gebeur, moet ons met die logika probeer verklaar. Ja, alles het mos ’n rede en ’n oorsaak. Niks is sommer-maar-net nie! Nee, ons is so afhanklik van ons logiese redenasievermoë, dat ons soms vergeet om net met die hart te glo. Alles moet egter uitmekaar gehaal word en tot die fynste detail ondersoek word … dan eers sal ons gelukkig en tevrede wees. Ja, selfs iets so mooi en skoon soos die liefde tussen ’n man en vrou moet met die verstand verklaar kan word.

Ek is seker dat julle tog al gehoor het hoe verliefdes mekaar probeer oortuig en verseker van hulle liefde: “Ek is lief vir jou, want …”, en ook “Ek is lief vir jou, omdat …” Hoekom moet daar altyd ’n rede gegee word oor hoekom jy lief is vir iemand? Wat het geword van die sin: “Ek is lief vir jou!” … geen “omdats” en geen “wants” nie, net gewoonweg: “Ek is lief vir jou”! Die vraag is egter nou: Kan ons vir iemand lief wees sonder enige bybedoelings of redes? Is dit menslik moontlik?

Gemeente, weet ons werklik nie meer hoe die liefde tussen ’n man en vrou werk nie? U weet, ons kan vanmiddag vir ………… en ……….. vra of hulle dan dom en onnosel is om te gaan staan en trou! Kan hulle dan nie sien dat die huwelik vandag uitgedien is nie? Dit het werklik nie meer ’n doel nie! Waarom bly hulle nie maar net saam nie? Die media, die flieks, die boeke, die tydskrifte … ag, noem maar op … alles maak die verhouding tussen man en vrou iets goedkoop. Die huwelik het basies net ’n gebruiksartikel geword! Die oomblik as dit uitgedien is, word dit of heeltemal tot niet gemaak of vervang met iets anders.

……………. en ……………….. , die rede hoekom ek juis uit Hooglied gelees het, is nie net omdat dit sekerlik die enigste gedeelte in die Bybel is wat eksplisiet gerig is tot die bruid en bruidegom nie, maar ook omdat die outeur hierdie boek bedoel het as ’n wonderlike leerboek vir die liefdesverhouding tussen man en vrou. Die boek Hooglied wil juis vir ons wys dat God wel iets te sê het oor die intiemste verhouding tussen ’n man en ’n vrou. Dit was tog immers God sélf wat die huwelik ingestel het. In Genesis 2 vers 18 staan daar: “Verder het die Here God gesê: ‘Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom iemand maak wat vir hom kan help, sy gelyke’”. Daarom is dit ook God se wil dat ’n man en vrou, wanneer die tyd daarvoor reg is, met mekaar in die huwelik sal tree, sodat Hy daardeur vereer en geloof kan word.

Die huwelik is ’n instelling deur God, en as ons sê dat die huwelik ’n instelling van God is, dan beteken dit dat, wanneer twee mense trou, hulle dit in die geloof moet doen. Liefde word dan ’n geloofsdaad waardeur óns ons op die trou en verbondsbeloftes van God in Jesus Christus beroep. Die permanensie van die huwelik word dan nie net gesetel in die onderlinge liefde van man en vrou nie, maar ook in die egpaar se geloof en vertroue in die genade van God. Ja, ’n man en vrou trou gewoonlik omdat hulle mekaar liefhet, maar God leer ons dat ons mekaar móét liefhê ómdat ons getroud is. Die huwelik word dus nie net op liefde gebou nie, maar veral op die wil van God. Die huwelik moet in stand gehou word as heilige instelling van God, en daarom kom die bevel van God dat ons mekaar móét liefhê – deur dik en dun! Julle moet glo dat dit God se wil is dat julle twee vandag aan mekaar trou beloof, en dat hierdie huwelik ook ten diepste God se huwelik is.

Familie en vriende, …………… en …………., die huweliksliefde, en die uitleef daarvan, geskied egter binne ’n veiligheidsruimte. Dit is juis as gevolg van losse sedes van die wêreld, en die samelewing se vyandigheid wat veroorsaak dat ’n mens vandag kan vra na die sin van die liefde tussen ’n man en vrou. Die ware uitlewing van hierdie liefde geskied net binne die ruimte wat die Skepper vir die man en vrou bepaal het, naamlik die huwelik. Buitehierdie veiligheidsruimte loop die liefde gevaar om misbruik te word vir eie bevrediging en wellus. Dit is wanneer ons te doen kry met seksuele losbandigheid en egbreuk. As dit egter binne die veiligheidsruimte – soos wat God dit vir die mens bedoel het – beoefen word, dan het die liefde juis ’n doel en dít is tog nie so moeilik om te begryp nie! En dít is dan ook die bedoeling van Hooglied: Die wedersydse liefde tussen die man en vrou binne die huwelik word beskryf.

Om nou terug te kom tot ons gelese gedeelte: Die bruidegom begin op ’n uitsonderlike- en unieke manier sy bruid te besing. Hy dink aan al die dinge van die lewe om haar skoonheid mee te vergelyk. Hierdie bruid van hom het sy hart gesteel … sy het met haar skoonheid sy voete skoon onder hom uitgeslaan. Hierdie erotiese beskrywing van sy bruid, wys dat hy glad nie skaam is om sy liefde vir sy bruid te wys nie. Nee, inteendeel … hy vergelyk haar skoonheid met al die bekendste en mooiste bakens van sy tyd.

……………(man), die bruidegom besing sy bruid as ’n lushof vol keurige vrugte … hy besing haar as ’n tuin wat ommuur is … as ’n fontein wat afgekamp is! Hoor hoe bely hy sy liefde vir haar: “Jy is mooi, my liefling, jy is mooi …” en: “Alles aan jou is mooi, my liefling, aan jou is niks verkeerd nie …” en ook: “Jy het my hart gesteel, my beminde bruid …” …………… (man), jy hoef net te luister na die bruidegom se lofprysings, dan raak jy sommer weer van vooraf verlief op …………………. Hierdie bruidegom besing nie net sy eie bruid nie, maar hierdie lied is basies ’n loflied tot elke bruid.

Maar, ……………… (vrou), hierdie bruid staan glad nie afsydig teenoor haar bruidegom se lofprysings nie. O nee, hierdie bruid is glad nie op haar mond geval nie. Sy beantwoord haar geliefde se lofprysings met ’n pragtige antwoord. Sy roep die noorde- en suidewinde om hierdie ommuurde tuin, wat haar bruidegom so mildelik besing en begeer, se geure na hom te versprei. Sy nooi as ’t ware haar bruidegom uit om na sy tuin te kom en van hierdie keurige vrugte te kom eet – hierdie keurige vrugte wat sy in haar ommuurde tuin bewaar het en net vir hom wil gee!

Alhoewel die beskrywing van die manlike en vroulike seksualiteit in die boek Hooglied vervullend is, is dit beslis nie grof en afstootlik nie. Daar word ook nie gepoog om estetiese uitsprake te maak aangaande die liefde nie. Nee, dit gaan in hierdie boek om die ware liefde tussen ’n man en ’n vrou wat mekaar vind, bewonder, betas en geniet ten spyte daarvan dat hulle in ’n tyd van polegamie, dit wil sê veelwywery, geleef het. Daarom is hierdie liefde, die liefde in die veiligheidsruimte van die huwelik, ’n positiewe liefde! Ja, eintlik is die rede voor die handliggend: Dit beskryf die liefde tussen één man en één vrou binne die huwelik!

Familie en vriende, hierdie liefde tussen die man en sy vrou word beskou en ervaar as ’n geskenk van God wat dankbaarheid, blydskap en verantwoordelikheid by die verliefdes wek. In die eerste plek wek dit dankbaarheid, omdat dit God se genade is wat dit vir julle moontlik gemaak het om steeds in hierdie wêreld, waar losbandigheid en sedeloosheid die botoon voer, trou aan mekaar te beloof. Onthou, dit is voor God dat julle, …………….. en ……………., aan mekaar trou beloof, en daarom is julle ook dankbaar vir die geleentheid om God te dien met hierdie huwelik. Hierdie huwelik moet tot eer en verheerliking van God se heilige Naam strek.

In die tweede plek wek die liefde blydskap by julle, omdat die liefde geduldig, vriendelik, nie afgunstig, nie grootpraterig, en nie verwaand is nie! Blydskap, …………… en ……………., omdat julle kinderlik gelowig moet glo dat God julle vir mekaar gegee het en Hy julle huwelik ook sal seën, sodat julle mekaar kan liefhê in sowel goeie as slegte tye, want die liefde bedek alles, glo alles, hoop alles, en verdra alles!

Derdens wek die liefde by julle ook die verantwoordelikheid om in hierdie huwelik hard te werk aan julle liefde vir mekaar sodat hierdie huwelik kan slaag. In hierdie tye wat ons leef, is daar soveel ander faktore wat die huwelik vyandiggesind is en dit ook met alle mag sal wil vernietig. Daarom word daar van jou, ………….., en van jou, ………….., verwag om verantwoordelik met julle huwelik voor God om te gaan. Onthou, selfs die intiemste verhouding tussen man en vrou, die huwelik, word deur die boosheid en Satan bedreig, juis omdat dit deur God ingestel is. En as Satan eers daarin geslaag het, bring hy nie net mure van skeiding tussen man en vrou nie, maar ook tussen die mens en sy God.

……………. en …………….., ten slotte word die paartjie in hierdie liefdeslied deur die digter toegeroep met die woorde: “Eet, vriende, drink, word dronk van die liefde”. Hierdie woorde moet nie gesien word as ’n uitnodiging van een van die verliefdes aan hulle vriende en vriendinne nie. As ons dít doen, dan skend ons die beeld van die “ommuurde tuin” as ’n geslote en private wêreld-van-twee. Dit is eerder ’n byvoeging deur die digter sélf om die bruidegom en die bruid aan te spreek, en om hulle aan te moedig om die mooi seksuele liefde tussen ’n man en sy vrou, binne die huwelik, met volle oorgawe te geniet. Daarom is dit ons almal, wat hier teenwoordig is, se wens en seën vir julle twee.

Mag ons Here, Jesus Christus, vir julle die krag en vreugde gee sodat hierdie belofte wat julle vandag aan Hom doen, tot eer en verheerliking van sy heilige Naam kan dien. Mag julle huwelik ook vir God aanneemlik wees en Hom tot vreugde stem; mag julle huwelik ook vir die wêreld daar buite tot voorbeeld wees sodat hulle kan besef dat die liefde tussen man en vrou nie so onmoontlik is om te verstaan nie, omdat dit ’n moontlikheid vir God is! Ja, al kan ons nie verstaan hoe ’n slang teen die rots kan opseil nie, al kan ons nie begryp hoe ’n aasvoël so lank in die lug kan draai nie, ja, al kan ons nie verstaan hoe ’n groot skip op die waters vaar nie, kán ons verstaan hoe die liefde tussen ’n man en meisie werk. Dit kán werk omdat God die Gewer van liefde is … wat vir ’n mens onmoontlik lyk, is vir God moontlik, want Hy het self die huwelik en liefde ingestel. 
Amen

Share via
Copy link
Powered by Social Snap