In 1976 is ’n Spesiale Olimpiese Spele in Seattle gehou – vir persone met ’n verstandelike of fisiese gestremdheid. Die item waaroor daar nog jare later gepraat sou word, was die 100 m-naelloop. Op die wegspringstreep was nege deelnemers wat in afwagting gereed gestaan het. Toe die geweer knal, toe begin hulle hardloop.

Die nege jong seuns en meisies het alles ingesit. Een van die seuns het egter gestruikel en geval. Twee van die ander deelnemers het hom gehoor huil. Hulle het omgekyk en hom daar sien lê. Hulle het omgedraai en hom gaan help. Hulle het hom opgetel, afgestof en by hom ingehaak, en so het hulle hul weg gevind na die eindstreep. Teen die tyd dat die driemanskap by die wenstreep gekom het, het almal in die stadion gestaan en hulle toegejuig.

Wat het die skare gesien daardie dag? Hulle het liefde in aksie gesien. En dit het so ’n kragtige effek op hulle gehad dat hulle nie anders kon nie as om op te staan en hande te klap.

Jesus het vir sy dissipels gesê: As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is (Joh 13: 35). Met ander woorde, as ons liefde deur ons dade wys, sal die wêreld notisie neem, hulle mag dalk selfs staan en hande klap.

In Johannes 13 lees ons dat Jesus vir Petrus en Johannes vooruitgestuur het om die ete gereed te kry. Die kos was gaar. Die tafel was gedek. Ek is seker die dissipels het gereken dat hierdie voetewasoefening ook gereël was. Dit was nie!

Hulle gaan lê aan by die tafel, maar hulle voel ongemaklik: Iemand moet darem seker net ten minste Jesus se voete was. Maar niemand bied aan nie; elkeen dink: Ek gaan dit nie doen nie, een van die ander moet dit maar doen.

Klink amper soos ons partykeer in die kerk – ons dink ook mos baie keer iemand anders sal. Ons ken nie al die details van wat in daardie kamer afgespeel het nie – ons weet net een ding wel: Niemand het opgestaan om die situasie te red nie.

Toe het Jesus … opgestaan …en begin om sy dissipels se voete te was… (Joh 13: 4-5). Ek dink ’n hele paar monde aan daardie tafel het letterlik van verbasing oopgehang, toe Jesus opstaan om die slaaf se werk te doen. In plaas daarvan om vir hulle ’n lesing te gee oor diens, gee Hy vir hulle ’n voorbeeld.

Hou op preek en wees ’n preek!

Daar is ’n sêding: Mense gee nie om hoeveel jy weet, voordat hulle sien hoeveel jy omgee nie.

Daar was ’n behoefte, en almal het die behoefte gesien, maar Jesus was die enigste wat iets daaromtrent gedoen het. So sien ons ook baie keer, hier is ’n behoefte: Hierdie mense het hulp nodig; hierdie kind het leiding nodig; hierdie vriend het iemand nodig om mee te praat… Maar ons doen niks daaraan nie – net soos die dissipels; ons wag vir iemand anders om dit te doen.

Jesus gaan egter oor tot aksie.

Jesus vra: Verstaan julle wat Ek vir julle gedoen het? (Joh 13: 12b).

Ja, ons moet die genade wat ons van die Here ontvang het, ook kan weggee.

Dit is die liefde van Christus wat in ons harte oorloop, wat van jou en my voetewassers maak.

’n Lewensles van Jesus af: Was mekaar se voete! Hou op preek en wees ’n preek!

Mag die Here ons oë oopmaak vir “vuil voete” en vir ons die hart gee om daardie “voete” te was.

Onthou die rimpeleffek: Verander ’n lewe en jy verander ’n familie; verander ’n familie en jy verander ’n gemeenskap; verander ’n gemeenskap en jy kan ’n stad verander; ensovoorts. Dit begin met ’n klein rimpeling. Mag jy dan eendag onthou word vir die gewer, die diener en die voetewasser wat jy was.

Dien is nie wat ek doen nie. ’n Dienskneg is wie ek is!

Gebed
Here, U het ons eerstehands kom wys wat dit beteken om te dien en om nederig te wees. Ek moet erken daar is dikwels oomblikke wanneer ek verskonings soek om nie te dien nie, kere waar ek dalk wag vir ander om eerder te dien. Soms is ek net eenvoudig lui, ander keer te selfsugtig en op myself gefokus. Ek bid Heer, maak my meer gewillig om weg te kyk van myself, en om ander om my wat hulp nodig het, te help en by te staan. Om ander op te bou en te motiveer en aan te spoor om goed te doen. Om eerder mense se lewens te vier as om naywerig te wees. Om bly te wees as ander bly is en net stil saam met ander te wees as hulle hartseer is; dat my blote teenwoordigheid soms vir ander goed is – dat hulle weet ek gee om, ek is daar, al is dit net met ’n skouer om op die huil of ’n arm wat ek om iemand slaan. Help my om op te hou preek en praat oor dien, maar self die preek te wees in die manier waarop ek lewe. Laat dien nie iets wees wat ek doen nie, maar dienaar wees wie ek is. Help my om te begin dien by my huis – om my maat te dien, my ouers te dien, my vriende te dien, almal met wie my pad kruis te dien, soos U gedien het.

Ons dra saam ons land aan U op, Here. Ons bid dat U sal doen wat net U kan doen – ons bid vir verandering in ons land. Ons bid vir vrede; vir veiligheid, vir vryheid.

 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)

Visetesourier: NHSV Hoofbestuur

Share via
Copy link
Powered by Social Snap