’n Nuwe lied in ons moedertaal. 80 jaar gelede is die eerste Afrikaanse Psalm- en Gesangboek in gebruik geneem, volgens aanbeveling van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering plegtig op Hervormingsondag 29 Oktober 1944 of ’n Sondag so na daaraan as moontlik.
Daar is in die 11 jaar ná die 1933-Bybel al met ongeduld uitgesien na ’n Afrikaanse liederebundel, alhoewel Nederlands as deel van Afrikaans op skool onderrig is en die jonges nog op ’n manier kon verstaan wat gesing word. Vanaf 1937 is die Afrikaanse Totiuspsalms al in die Gereformeerde (Dopper-) Kerk gesing en nou vir die eerste keer ook in die susterkerke.
Met die vreugdevolle en dankbare ontvangs was daar ook weemoed oor die afskeid van ’n 130 jaar oue gezangenboek wat van wieg tot graf ons voorouers begelei het deur die Groot Trek en oorloë. Die oues het ’n offer gebring ter wille van ’n jonger geslag en geslagte van die toekoms. ’n Afrikaanse kerklied om te sing by huisgodsdiens, eredienste, skole, Sondagskole en openbare geleenthede soos troues, begrafnisse en volksbyeenkomste.
Die 1944-bundel was nuut en ánders. Nie sommer net “oorgesit” in Afrikaans nie. Nuut berym, sommige verse weggelaat, heel nuwe gesange en nuwe wysies. Tog was die woorde soms byna dieselfde en baie wysies steeds bekend. Gesange het nuwe nommers ontvang, ingedeel in nuwe rubrieke. In die Nederlandse boek was 192 gezangen – nou 193. Daar was 150 Afrikaanse Totiuspsalms en nog twee alternatiewe berymings. Anders as vandag, was byvoorbeeld Gesang 12 te vind op bladsy 20. Die eerste vers (strofe) was afgedruk met die sopraannote. As gevolmagtigdes van die Nederduits (sic) Hervormde Kerk van Afrika teken op die binneblad B Gemser, JGM Dreyer en TFJ Dreyer by ons kerkwapen, en belangrik – volgens die onderhandelde skikking – was al vier die provinsiale NG Kerke en die NHKA se name in dieselfde letterformaat en grootte. Hierdie Gesangeboek was in gebruik tot 1978. Die standaardgrootte was 11 x 15,5 x 2,5 cm.
In 1928 het die Hervormde Kerk die NG Kerk genader vir samewerking om die gezangenboek (van 1807/1814/1866) te hersien. Die NGK het landwyd al sedert 1917 begin met hersienings en vertalings. Die Gesangekommissies van die NHKA en die NGK het, onder leiding van dr GBA Gerdener van die NGK, sáámgewerk aan hierdie reuseprojek – uiteindelik ’n volksaak. Wyd is gesoek na digters of berymers wat wel ter tale was en komponiste met die béste melodieë.
Vanaf 1930 is meer as 12 groot vergaderings gehou wat soms tot drie weke elk geduur het. Raadpleeg ’n mens die bokse vol dokumente in ons Kerkargief, kom jy diep onder die indruk van die omvattende werkproses. Ds AJ Barger het in ’n stadium gesê: Ons skryf genoeg, maar ons kom geen stap verder. Veral interessant is die vele drukproewe op kladpapier wat bewaar gebly het – daarop is elke klein veranderinkie aangebring. Tans bly hierdie skaafproses met Vonkk- en Flam-liedere nie meer so volledig behoue in ons digitale tyd nie.
Dikwels was die arbeid moeisaam. Soms het samewerking nie gevlot nie, en is dit selfs tydelik opgeskort omdat die verskille oor die metode van samewerking ’n dooiepunt bereik het. Toutrekkery oor outeursregte het ook die proses vertraag en Oswald Pirow in die Tudor-gebou op Kerkplein is in 1941 daaroor gekonsulteer. Fyn venynigheid teenoor die werk van ander bydraers is hier en daar te bespeur uit briewe.
Van ons Kerk het baie predikante en lidmate waardevolle kopiereg-, letterkundige en musikale insette gelewer, soos proff LJ Coertze, Daniel Pont, dr Abel Coetzee, dr TJ Buning, dr A van Selms en HC de Kock. Ons Gesangekommissie was prof Berend (Bé) Gemser as voorsitter, di JGM Dreyer as sekretaris, TFJ Dreyer, JJ Kühn en dr A van Selms.
Die Hervormers in die Hersieningskommissie het veral gewaak oor die godsdienstige standaard. Geen vroom gevoels-elemente of huppelwysies sou by hulle verbysluip nie! Daar moes gehou word by klassieke kerkliedere met koraalmusiek en liefs nie Halleluja- of Kinderharp-liedere nie. Stille Nag byvoorbeeld het daarom nie die paal gehaal nie.
Daar is ook met moeilike vrae geworstel: Moes die volkslied Die Stem ingesluit word? Die besluit was nee, omdat die lied nie voldoen aan dogmatiese vereistes vir kerksang nie en omdat dit nie gebruiklik is om volksliedere in kerklike liturgiebundels op te neem nie.
Die uitgewer en eienaar van die gesange-outeurskap was die Suid-Afrikaanse Bybelvereniging (SABV) (later bekend as NG Kerk Boekhandel) onder voorsitterskap van ds PF Greyling. Die outeurskap van die Psalms het by Totius en die ander twee digters berus. Drukwerk is op 17 November 1943 begin by Nasionale Pers in Kaapstad en drukkoste per boekie was 2 sjielings 6 pennies en 3 oortjies.
Papierskaarste was aan die orde van die dag, want dit was die Tweede Wêreldoorlog (1939-1945). Gelukkig het die SABV voor die oorlog al ’n hoeveelheid “Bybelpapier” vir die boekies ingevoer, anders sou daar tot ná die oorlog gewag moes word. Daarom was die eerste oplaag beperk tot 100 000. Die NHKA se kwota daarvan was 12 748: 4 552 in September 1944 en verder 910 maandeliks. 150 koraal(begeleiers)boeke is vir al die gemeentes bestel, maar dit was ongelukkig nie gereed teen einde Oktober nie.
Die administrateur, mnr Jan HH Janson, wat die algemene kerkkantoor by sy huis op Dullstroom gehad het (toe al van die huis af gewerk!), het per goederetrein die boekies in houtkiste ontvang en weer vandaar uitgestuur na gemeentes volgens bestellings. ’n Gesangeboekie het 5/6 (vyf en ses) oftewel 5 sjielings en 6 pennies gekos; posvry, want per spoor het die regering geen koste gehef nie. Destyds was dit ’n liggewig skaap se prys! Die Hervormer het toe jaarliks 2/6 gekos. Later sou ’n kleiner, goedkoper slapbanduitgawe met net die woorde sonder musieknote uitgegee word. In 1944 is daar nog gewag op linnemateriaal vir die buiteblad en papier uit die VSA. Veldprediker (Weermagkapelaan) ds JP van den Berg van Bloemfontein wou by die Kommissie van die AKV weet of soldate boekies sou kry, en hy is geantwoord dat hulle sélf moet betaal.
Gemeentes het oral begin met ’n kwartier sangoefening voor eredienste. Ds DF Erasmus van Ventersdorp het die Kerk opgeroep om nou soos van ouds weer die Afrikaanse Psalms op lang en kort note te sing. Sy wekroep was voorts: Kinders hou van sing – gee hulle die kans! Omdat dit lank sou neem vir almal in die gemeentes om boekies te kry, is gebruikgemaak van getikte of handgeskrewe bladsye wat “geroneo” is – dit wil sê, op ’n inkafrolmasjien gedupliseer is.
Vir die groot dag is beskikbaar gestel: ’n gedenkkaart met ’n kleur Kerkwapen om voorin te plak en ’n inligtingspamflet van agt bladsye geskryf deur prof Gemser. Laasgenoemde is ook in die 1945-Almanak geplaas.
In Die Hervormer van einde 1944 vind ons beriggies oor die ingebruikneming – die nuus is egter skraps. Dit was oorlog. Foto’s én spasie ontbreek in die Kerkkoerant. Pretoria en voorstede het ’n gesamentlike diens gehou. Noordwestelike Pretoria se superintendent van Sondagskole het al vroeër vertel hoe hulle met opgewondenheid uitsien. Ventersdorp getuig van geesdrif tydens die oggenddiens, en meld van die tydelike pamflette vir die boekieloses. Benoni het die Sondagaand “uit volle bors in eie taal” gesing. Heidelberg het weer op 5 November tydens die middagdankseggingsdiens na die Oggendnagmaal die geleentheid gevier – die ou sangboek is afgehaal van die kansel om in die gemeenteargief gebêre te word, en die Sondagskool oorhandig ’n nuwe boekie vir kanselgebruik. Witbank se nuwe kerkgebou is op Saterdag 28 Oktober met die nuwe boek ingewy.
Om Die Huisgenoot van 27 Oktober 1944 aan te haal: Die laaste spoor van Nederlands het nou uit die Afrikaanse Kerke verdwyn.
Die ou Nederlandse gezangenboek was dus 130 jaar lank in Suid-Afrika in gebruik, daarna die 1944-bundel 34 jaar lank tot in Oktober 1978, en die 1978-boek 23 jaar lank totdat die Liedboek van die Kerk in 2001 bekendgestel is.
(Ds Carel Johann de Bruin is emerituspredikant en sekretaris van die Komitee vir die Argief, Museum en Biblioteek)