Donderdag 26 Maart 2020. Die aand toe Suid-Afrika se grendel-inperkings in werking getree het. My man, prof Piet Geyser, is deur ons jare lange huisarts gediagnoseer met ’n akuut ontsteekte galblaas wat dringend verwyder moes word en is die middag deur ’n ervare chirurg by ’n bekende hospitaal in Pretoria gehospitaliseer.

Deurtrek met onuithoudbare pyn, was sy laaste woord aan my voordat ons ons huis verlaat het: Impasse, asof hy ’n dodelike aanvoeling gehad het dat ’n onvermydelike doodloopstraat voorgelê het.

Ten spyte van die verdoemende ultraklanksonar-uitslag wat onmiddellike noodoptrede bepleit het, is my man in ’n gewone chirurgiese saal opgeneem, terwyl sy kritieke toestand reeds opname in die hoësorgeenheid vereis het, en het die chirurg verkies om ’n standaardprosedure te volg deur binneaarse antibiotika toe te dien om die ontsteking onder beheer te bring voordat die galblaas verwyder word.

Alle prosedures in die hospitaal is vanuit vrees vir die impak van die Covid-pandemie benader en geen prioriteit kon aan ’n 76-jarige pasiënt met galblaasontsteking gegee word nie. Die moontlikheid van ’n noodoperasie om ’n verdagte obstruktiewe galsteen asook die galblaas te verwyder, kon glad nie oorweeg word nie. Die chirurg het ook nie die risiko van nalating om die galblaas te verwyder, met my bespreek nie. Daardie aand het ek my lewensmaat van 52 jaar met ’n onrustige gevoel in my hart gegroet, nie-wetend wanneer ek hom weer sou kon besoek nie.

Vrydag 27 Maart het ek drie keer telefonies met hom gepraat, maar gehoor dat hy baie pyn verduur en intens gedisoriënteer was. Die chirurg het van diens afgegaan en my man in die sorg van sy aflos gelaat. Geen bloedtoetse is geneem om die uitwerking van die antibiotika op die ontsteking te monitor nie. Daar was geen manier om met die dokters te kommunikeer nie en kommunikasie met die verpleegpersoneel was uiters niksseggend en frustrerend.

Saterdagoggend 28 Maart het die doodsvonnis gebring. In die afwesigheid van die chirurg is ’n vreemde internis ontbied wat bevestig het dat die ontsteking na die bloedstroom versprei het, bekend as septisemie of sepsis, en besig was om al my man se organe te vergiftig. Nierversaking het ook reeds ingetree.

Hy is na die intensiewesorgeenheid verskuif in ’n poging om sy lewe te probeer red. Ingrypings buite my beheer is deur ’n span spesialiste toegepas. Hy is geventileer en die sterkste denkbare binneaarse antibiotika is toegedien, terwyl hy in ’n hepatiese koma met skrikwekkend hoë ammoniakvlakke vir 17 dae weggeraak het.

Die 76 dae in die ISE was ’n uitmergelende poging om sy lewe te probeer red. En soos sy immuniteit afgeneem het, het hy almeer vatbaar geraak vir hospitaalbakterieë wat deur supersterk antibiotika met verwoestende newe-effekte behandel is. In die proses is sy gehoor heeltemal verwoes en kon niemand telefonies met hom kommunikeer nie. Gedurende hierdie lang tydperk is ek wel vergun om hom te besoek, maar nie my kinders of kleinkind nie.

Gedurende sy rehabilitasietydperk van twee maande in verdere hospitale was die militêre reëls nog strenger. Geen besoek is toegelaat nie en die enigste manier om met hom te kommunikeer, was deur middel van briefies wat ons saam met sy skoon wasgoed afgelewer het. Die enkele kere dat ons wel toegelaat is om hom te besoek, was ons almal oorstelp van blydskap.

Altesaam het hy ’n uitgerekte lewenstryd van 157 dae deurworstel. Hoe hy hierdie uitmergelende fisiese en geestelike lyding, omring deur koue hospitaalmure, oorleef het, kan net toegeskryf word aan ’n vreemde Krag van Bo wat hom gedra het. Hy was geliefd onder die dokters en verpleegpersoneel omdat hy na almal uitgereik het en nooit gekla het nie. Een van die spesialiste het aan my geskryf dat hy ’n inspirasie was.

Drie dae voor sy dood het hy gevra dat ek moet kom en ’n Bybel moet saambring. Ek moes uit Johannes 1: 1-14 vir hom lees, wat hy saam met my geprewel het. Daarna het ek vers 6 weer vir hom gelees en Johannes se naam met Petrus vervang: Daar was ’n man wat deur God gestuur is. Sy naam was Petrus. Hy het gekom om van die lig te getuig sodat almal deur hom tot geloof kon kom. Hy was self nie die lig nie, maar hy moes oor die lig getuig.

Op Saterdag 29 Augustus het ons geliefde Petrus sy aardse stryd gewonne gegee. Die aardse impasse waarna hy verwys het. Slegs ek en my kinders was teenwoordig, saam met die suster wat hom verpleeg het. Daar was geen dokter beskikbaar om ons by te staan nie. Dié wat daar was, was besig met die Covid-slagoffers. Maar ons genadige Heer het Hom ontferm oor ons hulpkrete: God het hom na Hom toe weggeneem … en toe was hy nie meer daar nie (Gen 5: 24).

Ek en my kinders en kleinkind is ook deur hierdie wrede impasse verwoes en probeer nou die oorblywende stukkies van ons lewe optel na die onvervangbare verlies wat ons gely het.

(Louise Geyser is die weduwee van prof Piet Geyser)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap