In die vyftiende regeringsjaar van keiser Tiberius was Pontius Pilatus prokurator van Judea. Herodes was tetrarg van Galilea, en Filippus, sy broer, was tetrarg van Iturea en Tragonitis, en Lisanias was tetrarg van Abilene. In die tyd toe Annas en Kajafas die hoëpriesters was… (Luk 3: 1-2, AFR2020).
Lukas doen moeite om reeds vroeg in sy Evangelie die presiese tydstip in die geskiedenis aan te dui van Johannes die Doper en vervolgens ook Jesus se openbare optrede. Asook die persone van mag wat toe ’n invloed op die destydse Palestina uitgeoefen het. Dit mag dalk na onnodige inligting klink, maar Lukas wil sy lesers help om die agtergrond waartydens Johannes optree, duidelik raak te sien. Dit was om en by 27 nC.
Rome het die gebied vir ongeveer honderd jaar regeer. Keiser Augustus, die eerste keiser, het in 14 nC gesterf, en sy plek is ingeneem deur die genadelose Tiberius, wat reeds as ’n god in die oostelike dele van die ryk aanbid is.
Die keiserkultus was vinnig groeiend, hoogs sigbaar en kragtige politieke en godsdienstige propaganda. Waar Rome vrede na die wêreld gebring het (die Pax Romana), verlossing van chaos gegee het, ’n nuwe gevoel van eenheid geskep het uit voorheen strydende nasies, was daar ’n onvermydelikheid dat Rome self, en die keiser as sy heerser, as goddelik gesien word. Rome het gedoen – Augustus het gedoen – Tiberius het gedoen – die soort ding wat net gode kan doen. Rome het mag gehad: die mag om alle opposisie opsy te vee; die krag, gevolglik, om ’n buitengewone nuwe wêreldorde te skep. Rome het beweer dat hy geregtigheid aan die wêreld gebring het; inderdaad, die godin Iustitia was ’n skepping van keiser Augustus. Die toetrede van die keiser, en ook sy verjaardag, kon dus as euaggelion (evangelie) beskou word, die goeie nuus. Die keiser was die kurios, die “Here” van die wêreld, die een wat aanspraak gemaak het op die getrouheid en lojaliteit van onderdane regdeur sy wye ryk. Toe hy persoonlik ’n staatsbesoek aan ’n kolonie of provinsie kom bring, was die woord vir sy koninklike teenwoordigheid parousia.
Terug by Lukas se lysie…
Twee van Herodes die Grote se seuns, Herodes Antipas en Filippus, het ietwat wankelrig, onder Romeinse toestemming, in die noorde van die land regeer, maar Rome het direkte beheer oor die suide oorgeneem, insluitend Jerusalem self. Die meeste Jode het nie Herodes se seuns as ware heersers beskou nie; hulle was ’n selfgemaakte koningshuis wat, soos Rome, deur vrees en onderdrukking regeer het. Die hoëpriesters was nie veel beter nie. Hierdie lys van name lees soos die Wie’s Wie van korrupte maghebbers in daardie tyd. Agter die lys van name en plekke is ’n verhaal van onderdrukking en ellende wat besig was om op te bou tot ’n breekpunt. Korrupsie, wreedheid, opportunisme en politieke koalisies was aan die orde van die dag, en die gewone mense was soos pionne op ’n skaakbord – uitgelewer.
Populêre bewegings van weerstand het gekom en gegaan, en is selfs in sommige gevalle wreed tot ’n einde gebring. Almal het geweet dinge kan nie aangaan soos dit was nie. Iets moes gebeur. Maar wat?
Vroom Jode het verlang na ’n nuwe boodskap van God af. Sommige het geglo dat profesieë uitgesterf het, maar dalk eendag herleef kan word. Baie het verwag dat ’n beweging sou begin waardeur God die eeueoue verbond sou hernu, wat Israel uit slawerny na ’n nuwe vryheid sou bring. Die ou profete het gepraat van ’n tyd van vernuwing, waardeur God sélf na hulle sou terugkom. Hulle het net ’n skrapse idee gehad van hoe dit alles sou lyk, maar toe ’n vurige jong profeet in die Judese wildernis verskyn het, wat van dorp tot dorp gegaan het en mense vertel het dat die tyd aangebreek het, was hulle gereed om te luister.
Dit was ’n donker tyd toe God vir Johannes geroep het om helder en duidelik te sê dat die Here hier is. Die teks self wys dit ook uit: Daar was groot behoefte by mense vir verandering, hulle het in groot getalle na Johannes gegaan om gedoop te word.
Hierdie geskiedenis kon netsowel op vandag van toepassing gewees het. Dat ons in hierdie land in ’n donker tyd is, is seker. Magsbeheptheid, leë beloftes van tye wat beter gaan wees, koalisies en verbrokkeling van koalisies, magtige mense wat onreg pleeg en daarmee wegkom omdat hulle die regte konneksies het, is aan die orde van die dag. En dit is duidelik dat dit in die groter wêreld nie veel anders is nie. Dit is natuurlik nie vreemd nie, die wêreldgeskiedenis is een van onvrede en geweld. Opportunisme, misdaad, geweld en korrupsie is so oud soos die mense self. Dit lei tot onreg in die ergste graad, geweld en oorloë en bitter lyding vir mense.
Dit was in so ’n tyd dat Johannes geroep word vir sy profetiese taak. Sy boodskap is dat die mense hulle moet bekeer, dan sal God hulle vergewe, en hulle moet hulle laat doop. Waarom is dit nodig? Omdat die Here aan die kom is! Johannes haal Jesaja 40: 1-5 aan om dit uit te wys – lees gerus die res van Lukas 3.
Die agtergrond vir hierdie Jesaja-teks is Israel in ballingskap. ’n Volk wat ontwortel is, wat hul identiteit as volk van God verloor het. Mense in skok en verwarring, mense wat na God roep om hulp, mense wat met ’n verwagting leef dat God sal ingryp. En dan is die Here se woord deur Jesaja vir hierdie mense: Die uitkoms is hier! Dit is goeie tyding, julle swaarkry is verby.
Dan die belangrike deel in sy profetiese oproep: Maak vir die Here ’n pad in die woestyn, maak in die barre wêreld ’n grootpad vir ons God! Elke laagte moet opgevul word en elke berg en rant moet gelykgrond word en elke koppie ’n vlakte. Dan sal die mag van die Here geopenbaar word, al wat leef sal dit sien. Die Here self het dit gesê.
Dit is natuurlik simboliese taal om te sê wat Johannes in Lukas ook sê. As julle die Here verwag, as julle smag na die ingrype van God, moet julle tot bekering kom. Dit beteken julle moet jul lewens toets aan God se eise van reg en geregtigheid! Hulle moes introspeksie hou en regmaak met God en met mekaar.
Ons kan nie in donker tye verwag dat God moet kom regmaak, maar ons hoef niks te doen nie. Dit is Johannes se boodskap ook, die Here vir wie julle verwag, is reeds hier.
Dan vra die mense vir Johannes: Wat moet ons dan doen? En hy antwoord: Wie twee kledingstukke het, moet dit deel met dié wat nie het nie. Moenie meer invorder as wat vasgestel is nie. Moenie deur geweld vals aankla of afpers nie.
Met ander woorde, in plaas daarvan om ingesuig te word in die kultuur van ons tyd, kies vir die evangelie van Jesus Christus. Kies vir sy liefde en omgee, en daarom vir sy reg en geregtigheid. Dit is daarom dat die eerste Christene woorde wat deel van die Romeinse propaganda was soos vrede, evangelie, geregtigheid, brood, kurios (Here), parousia (teenwoordigheid), ekklesia (kerk), met nuwe betekenis gevul het. Die gelowiges het gewys só lyk God se koninkryk waar hierdie dinge op grondvlak gebeur.
Dus, die aankondiging dat ons geroep word om die weg van die Here voor te berei en in die woestyn ‘n grootpad vir ons God reguit te maak, is ’n verklaring dat ons plek maak vir die koms van ’n koning.
En nou, skielik, kry Lukas se verwysing na die keiser, en na die verskillende konings van die streek, ’n nuwe betekenis. Dit is die konings van die wêreld, hulle wat beweer dat hulle magtig is en voorsien, maar Johannes roep ons om voor te berei vir die koms van die Koning van die Konings. Van ’n Heerser (kurios) wie se koninkryk geen einde sal hê nie.
Want die koninkryk wat ons by Advent, met Kersfees en deur die jaar verkondig, is nie ’n koninkryk van mag en koalisies nie, maar een van vlees en bloed en liefde. Dit is nie ’n koninkryk van verbygaande, vlietende krag soos die koninkryke en ryke van die wêreld nie, maar een waarvan daar geen einde sal wees nie.
Sien, daar is altyd die een of ander Tiberius op die wêreldverhoog. Altyd die een of ander mag wat beweer dat dit die eintlike heil gaan bring. Altyd die een of ander skynbaar onoorwinlike ryk wat die res van die nasies van vrees laat bewe. Maar ons verkondig geen keiser of ryk as ons redding nie. Ons sing mos in die ou Psalm 146: Moet op prinse nie vertrou nie…
In die bewind van ’n keiser Tiberius, maghebbers wat kom en gaan, heersers van geweld en vrees, verkondig ons die ware en ewige koninkryk van die Here van liefde en lig. Gaan maak die paaie gelyk! Hier kom die Koning…
(Ds Martin Slabbert is leraar in Gemeente Philadelphia)
