In die slegste tye, wanneer die ergste dinge om ons gebeur, moet ons steeds onthou: Selfs op die slegste plek op aarde is almal nie sleg nie. Jý kan daardie uitsondering, daardie vars briesie van God se liefde en genade wees.

Daardie dag het die gesprek by die Bybelstudie uitgerafel. Daar was weer berig op berig oor mishandeling, moord, verkragting en selfs ’n ontvoering in die koerante. Die sosiale media het gegons met videogrepe, berigte, raaiskote en soms fopnuus. Almal was bedruk, moedeloos en teen die grond. Wat het van ons land geword? Hoe is dit moontlik?

En toe praat sy, verpersoonliking van wysheid. Haar wyse ou stem het helder en duidelik gekom met die teregwysing, maar veel meer met die woord van hoop. Onthou, sê sy, selfs in die slegste plek op aarde is al die mense nie sleg nie…

Ja, selfs op die slegste plek op aarde is al die mense nie sleg nie.

Soms, wanneer die lewe in sy felheid om ons gebeur, is ons geneig om te dink dat almal boos en sleg is. Ek het nog elke keer wanneer ek slagoffers van plaasmoorde moes begrawe só gevoel. Ek beleef dit wanneer ek hoor van kinders wat mishandel word, iets wat nogal aktueel in jou huis is as jy met ’n maatskaplike werker wat in ’n kinderhuis werk, getroud is…

Elke sinnelose moord, hetsy uit passie, haat, bendegeweld of watter ander afstootlike rede ook al, maak my moedeloos.Mense se onnadenkende twiets en Facebook-plasings wat ander seermaak, maak my woedend.

Dan vra ek ook hoe ons hier gekom het. Was dit die verlede se skuld, ons kerklike agtergrond, want daar moet ’n rede, ’n verskoning wees…

Dan kyk ek met agterdog na almal om my. Elke man word ’n molesteerder, ’n verkragter, ’n moordenaar. Elkeen wat aan ’n ander volk as ek behoort, gaan my leed wil aandoen.

Dan eggo haar woorde weer in my ore. Onthou, selfs in die slegste plek op aarde is al die mense nie sleg nie… En dan dwing dit my om op te hou om te veralgemeen, dwing dit my om weer hand in eie boesem te steek en aktief daaraan mee te werk om deel van die verskil te wees.

Jare gelede, toe ek nog ’n kapelaan in die Weermag was, moes ek eenmaal ’n kursus bywoon – let op hoe ek dit beleef het: ek moes dit bywoon, omdat ons moes leer om as verskillende weermagte te integreer.

Maar hoe verrassend, hoe anders… Hulle het vir ons ’n video gewys van ’n ou man wat op die strand loop. ’n Ent van hom af is ’n jongman wat lyk of hy dans. Nuuskierig loop die ou man nader. Wat doen jy, vriend? Die jongman antwoord: Ek tel seesterre op en gooi hulle terug in die see. Die ou man kyk hom geamuseerd en ’n bietjie uit die hoogte aan en sê: Watter verskil kan jy maak, hierdie strand is kilometers lank en daagliks spoel daar honderde uit. Jy kan tog nie almal red nie…

Dit is waar, gee die jongman toe, buk af en tel ’n seester op en gooi dit in die see. Vir daardie een het ek ’n verskil gemaak…

Hoe kan ons ’n verskil maak? Nee, hoe kan ons ’n verskil wéés? Met elke klein handeling. Deur jou ingesteldheid, jou optrede oor sake te verander.

Mans doen verskriklike dinge aan vroue, maar nie alle mans doen dit nie. Nie alle mans gee vir meisies punte ná die wedstryd nie. Wees jý die man wat die verskil is, wat die gety draai. Wees jý die man wat vroue as gelykes sien en hulle met waardigheid behandel. Wees jý die verskil, want as jy in één mens se lewe ’n verskil kon maak, het jy baie bereik.

En dit is juis waarvan drr Gerhard Nel en Martin van Rensburg in hul bydraes vertel. Hoe een mens se visie ’n verskil in die lewens van 300 mense kon maak. Hoe ’n video ’n gemeente kon inspireer om ’n verskil te maak. Hoe iemand se raaksien van die worsteling met droogte ander kon inspireer om ’n verskil te maak deur voer vir diere en daardeur hoop te skenk.

Die tyd is nóú dat ons moet ophou om oor randgoed te stry en te etiketteer en te veroordeel, en dat ons daadwerklik as Kerk meer moeite moet maak om persepsies te verander en mekaar in liefde as gelykes voor God te behandel.

Mag ons nooit so afgestomp raak dat ons as Christene nie meer mekaar se nood raaksien, huil saam met dié wat hartseer is en veg vir dié wat verdruk word nie. Mag die Here gee dat ons as Kerk, as gelowiges, die verskil sal wees waar die Here ons ook al laat leef.

Want onthou, selfs op die slegste plek op aarde is almal nie sleg nie. Jý kan daardie uitsondering, daardie vars briesie van God se liefde en genade wees.

af
af
Deel met behulp van
Copy link