In Julie vanjaar het ek die voorreg gehad om die jaarlikse kongres van die European Association of Biblical Scholars by te woon, wat hierdie jaar in Sirakuse, Sicilië aangebied is. Aanvanklik is ’n mens dankbaar en verheug oor ’n week se onderbreking van die alledaagse wel en wee van gemeentedominee wees. ’n Mens sien uit na die stimulasie van akademiese diskoers op ’n hoë vlak, en die feit dat ’n idilliese stad langs die Middellandse See die gasheeroord is, is natuurlik ’n bonus.

Tydens die openingseremonie in die katedraal van Sirakuse noem die voorsitter dat Paulus hier voet aan wal gesit het. Was Paulus in Sicilië? Ek gaan soek dit op. Sowaar! Ons het in Sirakuse gekom en drie dae daar gebly (Hand 28: 12). Dit is asof die plek se naam so terloops genoem word, sommer so in die verbygaan. Tydens ontbyt merk die vrou van ’n Ou Testamentiese professor uit Stellenbosch op: Net drie dae?! As ek Paulus was, het ek langer gebly. Dit is dan so mooi hier! Paulus was egter op pad Rome toe, en die aandoen in Sirakuse was waarskynlik net om vars voorrade te kry, maar ’n klomp Nuwe Testamentici bymekaar se verbeelding vat vlam by die aanhoor van die blote gedagte, dat die man wie se tekste ons so sukkel om te verstaan sowaar hier voet aan wal gesit het.

Die volgende dag herinner die snuisterywinkeltjies my aan die feit dat Archimedes natuurlik ook van Sirakuse kom. In hierdie stad het hy sy wêreldberoemde Eureka-uitspraak gemaak en volgens die legende uit die bad gespring en naak in die straat afgehardloop om vir die koning te gaan vertel van sy wiskundige ontdekking. My gedagtes loop ver paaie terug na my skooldae toe my Latynjuffrou ons van Archimedes geleer het en die mitologiese verhaal van Alfeos en die nimf Aretusa – my akkommodasie was net ’n klipgooi van hierdie soetwaterfontein.

Die naweek gun ek myself ’n uitstappie na die vallei van die tempels in Agrigento. By die aankyk van die majestueuse kolosse, wat gebou is om soos die gode wat dit moes vereer onsterflik te wees, probeer ek my voorkennis van die antieke wêreld versoen met dit wat ek voor my sien. Reusagtige, imposante tempels wat al eeue lank in wind en weer en snikhete son staan. Geen moeite, onkoste of arbeid is ontsien nie tydens die bou van hierdie indrukwekkende godsdienstige sentra. In die antieke wêreld moes ’n mens die gode gelukkig hou, anders bring hulle rampe oor jou, veroorsaak droogtes of hongersnood, of jy word dalk deur ’n weerligstraal getref.

In hierdie wêreld het Paulus kom vertel van die “Onbekende God”. Die God wat nie offers en tempels nodig het nie. Die God wat nie die hele tyd deur ons goeie werke behaag moet word, sodat Hy ons net nie moet straf met teenspoed nie. Die God van liefde en genade. Die lewende God wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daar is, gemaak het. Ek wonder of Paulus weet watter geweldige vrug daar uiteindelik op sy arbeid was. Dit maak my nederig en vervul my met heilige ontsag: Here, hoe groot is U!

 

(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap