Titel: Martin Luther, ’n Inleiding tot sy lewe, denke en geskrifte
Outeur: Prof Ignatius WC van Wyk
Uitgewer: AOSIS as HTS Teologiese Studies, Supplementum 13
Samestelling: Inhoud 284 bladsye; Chronologie 13 bladsye; Bronnelys en literatuurverwysings 25 bladsye; Indeks (Afrikaanse woordelys) 9 bladsye
Publikasiejaar: 2019
ISBN 978-1-928523-07-9
Die werk is ook beskikbaar as ’n e-boek en in PDF-formaat
In Hervormde Kerkverband het prof Natie van Wyk net so min bekendstelling nodig as wat Martin Luther in Reformatoriese kringe nodig gehad het. Beide se werk het hulle as’t ware verkoop en hul impak op die gemeenskap het ver wyer uitgekring as net die onmiddellike akademiese kader.
Prof Natie se werk in Afrikaans oor Martin Luther vul ’n onooglike lakune in Afrikaanse akademiese literatuur. Desnieteenstaande die feit dat die naam Martin Luther bekend is, nie net onder lede van Afrikaanse kerke nie, maar wêreldwyd, is dit opvallend dat die meeste mense slegs die naam ken, terwyl enkeles oppervlakkige kennis het van Luther se werk. Dit is slegs ’n handjievol geleerdes wat deeglik op die hoogte is met Luther se lewe en werk, en nie een van die insette uit hierdie bronne is in Afrikaans nie.
Dit is hier waar prof Natie se werk so ’n enorme bydrae lewer. Die twee boeke wat hy sedert 2019 in Afrikaans gepubliseer het oor leidende figure in die Kerkhervorming van die 1500’s, naamlik Martin Luther en Philipp Melanchthon (2022), ontsluit die omvangryke akademiese en kerklike arbeid van hierdie twee reuse vir ’n jonger geslag Afrikaanssprekendes. Dit laat ook nie na nie om die kennis van die ouer generasie na vele jare af te stof en op datum te bring.
Maar hoe prop ’n mens so ’n oorweldigende lewe soos dié van Martin Luther in een 300-bladsye-boek in as ’n hele kompendium nie voldoende sou wees nie om reg te laat geskied aan die man?
Eerstens stel die titel dit duidelik dat dit ’n “inleiding” tot Luther is. Die bedoeling is nie om ’n ensiklopedie ter tafel te stel nie, maar ’n werk wat hopelik die deur op die dieper aspekte van Luther se lewe vir ’n populêre leserspubliek sal open. Die enigste vangplek is dat dit dan nie in Afrikaans sal wees nie.
Tweedens word daar ’n redelike vaste patroon in die samestelling van die nege inhoudelike hoofstukke gevolg, wat die inhoud makliker verteerbaar maak. Met die uitsondering van hoofstuk 6, wat die kernpunt van Luther se teologie bespreek, word daar deurgaans ’n patroon gevolg in elke hoofstuk wat begin met ’n inleiding om die tema toe te lig, dan ondersteun word deur biografiese invloede op daardie spesifieke tema. Dit word gevolg deur ’n ontknoping van die tema in die tyd toe dit ontstaan het (tydens Luther se lewe), van toepassing gemaak in ’n moderne Suider-Afrikaanse konteks, en afgerond met ’n samevattende oorsig van die betrokke hoofstuk.
In agt hoofstukke word aspekte van Luther se teologie en leer behandel wat vandag nog net so aktueel is soos 500 jaar gelede. Kortliks lui dit soos volg:
Hoofstuk 1 – Gesinslewe, opvoeding en onderwys
Hoofstuk 2 – Tersiêre opleiding en die taak van die universiteit
Hoofstuk 3 – Die klooster, oftewel dan die vraag “Wie is God?”
Hoofstuk 4 – Wat is teologie? Of eerder “Wie is ’n teoloog?”
Hoofstuk 5 – Die Bybel: Vertaling, verstaan en gebruik
Hoofstuk 7 – Regverdiging en geregtigheid in die ekonomie
Hoofstuk 8 – Kerk en politiek
Hoofstuk 9 – Oudword, siekte en die dood
Opsigtelik is dat hoofstuk 6 nie in bostaande lys is nie. Dit is omdat dit die essensie van Luther se teologie bespreek wat wentel om sy regverdigingsleer. Hier is dit opvallend in watter diepte na verskillende aspekte van Luther se teologie gekyk word en verdien dit spesiale vermelding dat prof Natie nie wegskram van ’n deurgrondige bespreking van Luther se kontensieuse vertaling van Romeine 3: 28 nie, waar hy die woordjie sola (slegs) ingevoeg het in die Duitse vertaling om dit te beklemtoon dat regverdiging SLEGS deur die Wil van God moontlik is en nie deur enige verdienste wat op goeie werke berus nie.
Alhoewel nie in soveel woorde vermeld nie, kan ons nie vergeet nie dat dit ’n brandende vraag onder die Roomse skolastici was en dat Luther se regverdigingsleer soos dit oor ’n aantal jare en deur etlike publikasies ontwikkel het, die onderbou vorm vir die latere belydenisskrifte wat hierop voortgebou het. Dit word wel baie mooi saamgevat in die opmerking dat dit nie beteken dat Luther teen goeie werke gekant is nie. Vir hom is dit vanselfsprekend dat ’n gelowige goeie werke sal doen. Sy polemiek gaan daaroor dat die skolastiek geloof met moralitetit verwar en dat verkeerde geloof nie voortdurend goeie werke kan oplewer nie (bladsy 172, 6.2.6. Geloofsgeregtigheid en werke).
Na die aanvanklike skok dat hier vir die eerste keer in 30 jaar weer ’n werk van hoogstaande gehalte in Afrikaans beskikbaar is, moet die leser tog by die punt kom waar die inhoud smag na ’n deurdagte oordeel. In dié verband is dit aan te beveel, veral vir lekelesers, om nie by die eerste hoofstuk te begin nie, maar eerder by die nutsbare chronologie vanaf bladsy 277 tot bladsy 290. As daar eers begrip is vir die historiese konteks, dan is dit veel makliker om die eksistensiële en leerstellige kwessies te plaas. Lees dan vervolgens hoofstuk 8 om die historiese inbedding te begryp, en begin dan met hoofstuk 1.
Die werk is aangenaam om te lees ten spyte van die akademiese Afrikaans in baie gevalle. Die inhoud is tematies in hoofstukke ingedeel soos hierbo uitgelig, met relevante insigte en toepassings vir die moderne lewe.
(Artikel verkort; lees hier die volledige resensie)
(Ds Daniel Steinmann is redakteur van Namibia Economist en leraar in Gemeente Windhoek)
