In die Oktober 2023-uitgawe van Die Hervormer is ’n verkorte resensie van prof Natie van Wyk se boek Martin Luther. ’n Inleiding tot sy lewe, denke en geskrifte geplaas. Hierdie is die volledige resensie.

Titel: Martin Luther. ’n Inleiding tot sy lewe, denke en geskrifte
Outeur: Prof Ignatius WC van Wyk
Uitgewer: AOSIS as HTS Teologiese Studies, Supplementum 13
Samestelling: Inhoud 284 bladsye; Chronologie 13 bladsye; Bronnelys en literatuurverwysings 25 bladsye; Indeks (Afrikaanse woordelys) 9 bladsye
Publikasiejaar: 2019
ISBN 978-1-928523-07-9
Die werk is ook beskikbaar as ’n e-boek en in PDF-formaat

In Hervormde Kerkverband het prof Natie van Wyk net so min bekendstelling nodig as wat Martin Luther in Reformatoriese kringe nodig gehad het. Beide se werk het hulle as’t ware verkoop en hul impak op die gemeenskap het ver wyer uitgekring as net die onmiddellike akademiese kader.

Prof Natie se werk in Afrikaans oor Martin Luther vul ’n onooglike lakune in Afrikaanse akademiese literatuur. Desnieteenstaande die feit dat die naam Martin Luther bekend is, nie net onder lede van Afrikaanse kerke nie, maar wêreldwyd, is dit opvallend dat die meeste mense slegs die naam ken, terwyl enkeles oppervlakkige kennis het van Luther se werk. Dit is slegs ’n handjievol geleerdes wat deeglik op die hoogte is met Luther se lewe en werk, en nie een van die insette uit hierdie bronne is in Afrikaans nie.

Dit is hier waar prof Natie se werk so ’n enorme bydrae lewer. Die twee boeke wat hy sedert 2019 in Afrikaans gepubliseer het oor leidende figure in die Kerkhervorming van die 1500’s, naamlik Martin Luther en Philipp Melanchthon (2022), ontsluit die omvangryke akademiese en kerklike arbeid van hierdie twee reuse vir ’n jonger geslag Afrikaanssprekendes. Dit laat ook nie na nie om die kennis van die ouer generasie na vele jare af te stof en op datum te bring.

Maar hoe prop ’n mens so ’n oorweldigende lewe soos dié van Martin Luther in een 300-bladsye-boek in as ’n hele kompendium nie voldoende sou wees nie om reg te laat geskied aan die man?

Eerstens stel die titel dit duidelik dat dit ’n “inleiding” tot Luther is. Die bedoeling is nie om ’n ensiklopedie ter tafel te stel nie, maar ’n werk wat hopelik die deur op die dieper aspekte van Luther se lewe vir ’n populêre leserspubliek sal open. Die enigste vangplek is dat dit dan nie in Afrikaans sal wees nie.

Tweedens word daar ’n redelike vaste patroon in die samestelling van die nege inhoudelike hoofstukke gevolg, wat die inhoud makliker verteerbaar maak. Met die uitsondering van hoofstuk 6, wat die kernpunt van Luther se teologie bespreek, word daar deurgaans ’n patroon gevolg in elke hoofstuk wat begin met ’n inleiding om die tema toe te lig, dan ondersteun word deur biografiese invloede op daardie spesifieke tema. Dit word gevolg deur ’n ontknoping van die tema in die tyd toe dit ontstaan het (tydens Luther se lewe), van toepassing gemaak in ’n moderne Suider-Afrikaanse konteks, en afgerond met ’n samevattende oorsig van die betrokke hoofstuk.

Struktuur

In agt hoofstukke word aspekte van Luther se teologie en leer behandel wat vandag nog net so aktueel is soos 500 jaar gelede. Kortliks lui dit soos volg:

Hoofstuk 1 – Gesinslewe, opvoeding en onderwys
Hoofstuk 2 – Tersiêre opleiding en die taak van die universiteit
Hoofstuk 3 – Die klooster, oftewel dan die vraag “Wie is God?”
Hoofstuk 4 – Wat is teologie? Of eerder “Wie is ’n teoloog?”
Hoofstuk 5 – Die Bybel: Vertaling, verstaan en gebruik
Hoofstuk 7 – Regverdiging en geregtigheid in die ekonomie
Hoofstuk 8 – Kerk en politiek
Hoofstuk 9 – Oudword, siekte en die dood

Teologiese swaartepunt

Opsigtelik is dat hoofstuk 6 nie in bostaande lys is nie. Dit is omdat dit die essensie van Luther se teologie bespreek wat wentel om sy regverdigingsleer. Hier is dit opvallend in watter diepte na verskillende aspekte van Luther se teologie gekyk word en verdien dit spesiale vermelding dat prof Natie nie wegskram van ’n deurgrondige bespreking van Luther se kontensieuse vertaling van Romeine 3: 28 nie, waar hy die woordjie sola (slegs) ingevoeg het in die Duitse vertaling om dit te beklemtoon dat regverdiging SLEGS deur die Wil van God moontlik is en nie deur enige verdienste wat op goeie werke berus nie.

Alhoewel nie in soveel woorde vermeld nie, kan ons nie vergeet nie dat dit ’n brandende vraag onder die Roomse skolastici was en dat Luther se regverdigingsleer soos dit oor ’n aantal jare en deur etlike publikasies ontwikkel het, die onderbou vorm vir die latere belydenisskrifte wat hierop voortgebou het. Dit word wel baie mooi saamgevat in die opmerking dat dit nie beteken dat Luther teen goeie werke gekant is nie. Vir hom is dit vanselfsprekend dat ’n gelowige goeie werke sal doen. Sy polemiek gaan daaroor dat die skolastiek geloof met moraliteit verwar en dat verkeerde geloof nie voortdurend goeie werke kan oplewer nie (bladsy 172, 6.2.6. Geloofsgeregtigheid en werke).

Biografiese elemente en historisiteit

Martin Luther. ’n Inleiding tot sy lewe, denke en geskrifte is nie ’n biografie in die engste sin van die woord nie. Tog is daar in elke hoofstuk, net na die inleiding, ’n gedeelte wat duidelik as biografie aangedui word.

Hier word dan biografiese ekserpte in ’n koherente besinning aanmekaar geheg of met mekaar in verband gebring om die impak van daardie betrokke fase in Luther se lewe op sy akademiese bydraes uit te lig. Buiten dat dit baie interessant is, is dit ook nodig om van die moderne kritiek teen Luther in konteks te plaas. Prof Natie maak gereeld daarvan melding dat, ten spyte van Luther se bewese genialiteit, hy steeds ’n kind van sy tyd was, en in sekere opsigte ’n revolusionêr, alhoewel waarskynlik nie intensioneel nie. Ten minste kan daar nie beweer word dat Luther ’n rebel was nie. Uit die gestalte wat ’n mens in die boek se inhoud ontmoet, blyk dit eerder dat Luther baie graag sou wou gehad het dat die pous die kritiek teen die aflaat ernstig sou opneem, en self die kerk sou “hervorm”.

Dit was egter nie vir Luther beskore nie, aangesien die sekulêre politiek van die dag waarskynlik net so ’n groot rol gespeel het in die makro-historiese momentum, as wat Luther se eie geloofsoortuigings gedoen het.

Disputasie as geldige akademiese debatvoering

Die proses wat min of meer in 1517 in aanvang gebring is deur Luther se Disputasie teen die Skolastieke Teologie, en later in dieselfde jaar deur sy 95 Stellings teen die Aflaatstelsel, het uiteindelik, net meer as drie jaar later, uitgeloop op die Pouslike Ban wat in Januarie 1521 oor Luther uitgespreek is. Dit het hom in ’n onmoontlike posisie geplaas met die Ryksdag van Worms op 17 en 18 April 1521, waar Luther moes verskyn op aanklagte van kettery.

Dit is net na afloop van hierdie gebeure dat Luther “ontvoer” is deur sy politieke weldoeners, waarskynlik om sy lewe te beskerm omdat die pouslike ban hom outomaties voëlvry verklaar het en hy sy lewe nie seker was nie.

Vir twee jaar het Luther ondergronds opgetree as verstekeling in die Wartburgkasteel, maar hy het nie die tyd verkwis nie. Tydens hierdie periode was hy besonder produktief en het talle geskrifte die lig laat sien. Dit is ook tydens hierdie inperking dat hy begin het met die vertaling van die Nuwe Testament in gewone Duits, ’n bykans onmenslike taak wat hy na bewering in slegs 11 weke voltooi het.

Gegrond op beskikbare dokumentasie en meer resente navorsing, word dit nou redelik algemeen aanvaar dat Luther self nooit sy 95 Stellings teen die Wittenbergse kerkdeur vasgenael het nie. Prof Natie gaan in redelike besonderhede in op hierdie stukkie legende en dui oortuigend aan waarom die hele episode waarskynlik legendaries is, gegewe die heersende disputasiesisteem om akademiese standpunte te verdedig of aan te val.

Leesbaarheid

Na die aanvanklike skok dat hier vir die eerste keer in 30 jaar weer ’n werk van hoogstaande gehalte in Afrikaans beskikbaar is, moet die leser tog by die punt kom waar die inhoud smag na ’n deurdagte oordeel. In dié verband is dit aan te beveel, veral vir lekelesers, om nie by die eerste hoofstuk te begin nie, maar eerder by die nutsbare chronologie vanaf bladsy 277 tot bladsy 290. As daar eers begrip is vir die historiese konteks, dan is dit veel makliker om die eksistensiële en leerstellige kwessies te plaas. Lees dan vervolgens hoofstuk 8 om die historiese inbedding te begryp, en begin dan met hoofstuk 1.

Die werk is aangenaam om te lees ten spyte van die akademiese Afrikaans in baie gevalle. Die inhoud is tematies in hoofstukke ingedeel soos hierbo uitgelig, met relevante insigte en toepassings vir die moderne lewe.

Die voetnotas is uitgebreid en soms effe oorweldigend. Wat die boek so uniek maak, is dat prof Natie in ’n menigtal gevalle die nuwe insigte in Luther se lewe en werk baseer op navorsing wat hy self in die oorspronklike dokumente gedoen het, en hom nie verlaat op sekondêre bronne nie. Die Latynse vertalings blyk akkuraat te wees vir diegene wat nog Latyn studeer het, en die oud-Duitse aanhalings se vertalings is meestal in die kol, alhoewel ek nie altyd eenstemmig is met die Duitse vertalings nie.

Dit werk in sy geheel is tegnies goed versorg, maar sal baat by ’n finale proeflees wat met aandag uitgevoer word. Daar is te veel tik-, spel- en grammatikale foute vir ’n akademiese werk van so ’n hoogstaande gehalte.

 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap