Die hedendaagse staat Israel het dieselfde probleem wat Suid-Afrika voor 1994 gehad het: Hulle het die propaganda-oorlog verloor. Dit maak glad nie meer saak dat Israel die enigste (relatief) vrye demokrasie in die Midde-Ooste is nie, dit maak ook nie meer saak dat hulle in konstante vrees vir terreur leef nie, die wêreldmening, dié van gewone burgers, het teen hulle gedraai.

Daarvoor mag ons hulle maar jammer kry. Veral mag ons maar in ag neem dat hulle nog maar altyd aan die ontvangkant van wrewelige haat en afgryslike geweld was, tot op die randjie van volksmoord, en nie net van Palestyne, oftewel Arabiere nie, maar ook aan die hande van goeie “Christene” en befaamde Westerlinge soos ons.

As egter op die Sondagoggend na die ergste Palestynse terreuraanval, ’n dominee op RSG kwytraak dat Israel, “God se uitverkore volk” (sic), deur die Palestyne vervolg en nou ook uitgemoor word, en ons ons klakkeloos by Israel moet skaar, krimp ek ineen, wel wetend wat kom: Israel gaan nog wraak neem.

Om alles te kroon, ontvang ek onlangs etlike kere hierdie WhatsApp, ’n aanhaling uit Amos 1: 6-8:

So sê die Here: Selfs as Gasa net drie keer sonde gedoen het, sou Ek sy straf nie herroep het nie. Maar nou het hy ’n vierde sonde daarby gevoeg: hy het mense voor die voet as ballinge weggevoer en aan Edom uitgelewer. Daarom sal Ek binne die mure van Gasa ’n vuur laat losbreek en dit sal sy mooi huise verteer. Ek sal die inwoners van Asdod en die regeerder van Askelon uitroei. Ek sal my hand teen Ekron oplig, en die Filistyne wat nog oor is, sal omkom, sê die Here my God.

Daarmee saam kom die kommentaar: Kyk hoe speel die Bybel hom voor ons eie oë af: Dit is presies wat nou gebeur. Só, aan die hand van Amos 6, moet ons wat nóú gebeur, verstaan. Duidelik is die gedagte dat ons Israel moet steun en hul wraak op die Palestyne moet goedpraat, want die Bybel sê so.

Terselfdertyd word uit die Koran die tekste aangehaal waarmee Palestyne hul haat vir Israel regverdig, en dié dryfvere word as verfoeilike “Islamitiese fundamentalisme” veroordeel. Asof ons Amos hier nie ook fundamentalisties aanwend nie.

Kom ons wees nugter daaroor, soos niemand in die Midde-Ooste voor die hand liggend meer kan nie, Israel ingesluit. Die gawe van onderskeiding kom immers van die Heilige Gees wat ons saam met God die Vader en die Seun aanbid en verheerlik. (Ek spel dit uit, want ek weet baie gaan sê dit is maklik om te praat as jy nie self betrokke is nie.)

Die huidige staat Israel is net so min die Here se witbroodjies as wat Afrikaners dit is. Om wat Israeli’s aanvang, goed te praat omdat ons dink hulle is die Israeliete van ouds, is bygeloof en afgodsdiens. Dit is so vergesog as Angus Buchan se destydse bewering “Afrikaners is God se nuwe verbondsvolk”. Net so is om die saadjie te plant dat Gasa die land van die eertydse Filistyne was en die idee te skep hulle is nog net so verwerplik soos destyds, en daarom is wat hulle nou oorkom verdiende loon, misplaaste politiek en klaaglike vals leer.

Moderne Israel is ’n sekulêre staat. Daar woon in hierdie huidige Israel rasegte Israeliete, Jode, dit is waar, mense wat hul bloedlyn tot by Abraham, Isak en Jakob en ook Dawid, kan terugvoer. In dieselfde staat Israel leef daar ook, met volle burgerskap, Arabiere, Palestyne. Trouens, dit was nog nooit anders nie, nie eens in Bybeltye nie. By tye het die twee nasies so goed met mekaar klaargekom dat die Israeliete die Palestyne, of noem hulle ook maar Kanaäniete as jy wil, se gode aanbid het. In familieverband en huweliksbed het die twee nasies verstrengel geraak.

Daar is onder Israeli’s ’n godsdiensgroep, ’n geloof genaamd die “Joodse geloof” (ek gebruik met opset hierdie formulering en nie “Judaïsme” nie, want ’n “-isme” is nie meer ’n geloof nie, maar ’n ideologie). Die Joodse geloof is van ons eie Christelike geloof die voorganger.

Jesus was ’n Jood, in Juda gebore. Maar Hy het op grondgebied van wat eens ou Israel was, die van Juda afgeskeie Noordryk, grootgeword. Sy ouers was Joodsgelowiges. Jesus het Joodsgelowig grootgeword. Jesus het oor die einste God vir wie Joodsgelowiges destyds, en dalk nou nog, aanbid, JHWH, ’n hele nuwe perspektief gebring, het juis God se beloftes aan Joodsgelowiges in vervulling laat gaan, en in gedagte gehad om wat destyds al tot Judaïsme verword het, te hervorm. Die Judaïste onder Joodsgelowiges kon egter nie die kopskuif maak nie, het God se Messias nie herken nie, en Hom met geweld verwerp.

Nou is ’n paar gewaarwordinge wat belangrik is om in gedagte te hou:

Dit bly waar dat God nooit ’n belofte verbreek nie, en God met sy verbond vertrou kan word, ons nie.

Dit bly waar dat selfs wanneer mense sy verbond vertrap, God sy genade nie onttrek nie.

God se liefde is ewig.

Daarom bly die aardse mens Jesus van Nasaret hartstogtelik lief vir sy eie volksgenote, die Jode. Hy fokus op hulle, plaas hulle eerste.

Daarom is dit nie vergesog nie om te bly vertrou dat God se band met die Jode, minstens van God se kant, ’n voortslepende misterie is, en nie vergete of tot niet is nie.

Nuwe Testamentiese skrywers veroordeel wel die Jode, of aanhangers van “die Joodse geloof”, oor hoe domastrant hulle hul eie God se verlossingswerk in Christus weeg en te lig bevind, maar waag nie om te sê dis neusie verby en die Joodsgelowiges is hel toe verdoem nie; inteendeel, ’n res uit hul geledere sal ook nog deur Jesus Christus gered word. Wanneer en hoe, is God se besluit, ’n geheimenis. Hou aan bid vir hulle. Preek vir hulle oor Christus.

Intussen het daar onder Israeli’s van Joodse afkoms en soms ook van Joodse geloof, ’n ideologie posgevat, ’n gevaarlike vermenging van wat hulle van God glo en hoe hulle oor hulself dink. Hulle is nie tevrede met die idee dat die beloftes wat God aan hulle gemaak het, almal vervul is nie. Jesus is nie hul Christus of Messias nie, sê hulle. God se Gesalfde Verlosser wat in hul heilige skrif vooruitgesien word, sou vir hulle ook politieke voordeel ingehou het, en Jesus voldoen nie aan hierdie verwagting nie. Politieke voordeel sluit in dat God aan hulle beloftes van ’n eie grondgebied gemaak het, en dié het nie voor 1948 gerealiseer nie.

Hulle dink steeds hulle is dié een en enigste uitverkore etniese volk van God, ’n groot nasie, dog is hulle al male sonder tal byna uitgeroei. “Judaïsme” het ontstaan, die Joodse geloof met ’n Sionistiese (Sion is die naam van die heuwel in Jerusalem waar die tempel gestaan het) element – ’n hunkering na hul historiese woonplek in die Midde-Ooste. Judaïsme is ’n Joodsnasionalisme waarmee Israeli’s op grondgebied aanspraak maak wat hulle voel God hulle in die Ou Testament al gegee het. Dat God hulle al telkemale weer die grondgebied ontneem het, oor hulle nog geen verbond met God kon hou nie, is vir ’n wyle gerieflik vergete.

Maar daar was goeie rede dat die vorige ballingskap vierhonderd jaar geduur het, die laaste amper tweeduisend. Daar was goeie rede waarom God Israeliete nie meer met grondgebied vertrou het nie, benewens dat hulle juis tussen vreemdes moes gaan woon om alle volke op aarde van die Here te oortuig. Daarin het hulle ook nog nie geslaag nie.

Na die verskrikking van Joodse volksmoord in die Tweede Wêreldoorlog, het die Weste die staat Israel in Palestina tot stand gebring, tot argwaan van die plek se boorlinge. Nou het Judaïste politieke mag én militêre slaankrag.

Maar ek sien Israeli’s nie daarmee dieselfde Here dien as die Vader wat ek ken nie, wie se Seun aan die kruis vir sonde gesterf het en toe opgestaan het om alle dood te stuit. Terselfdertyd ken ek geen soewereine staat ter wêreld wat, soos die huidige Israel, deurloop onder die ergste vorme van terreur, aanhoudende terreur, en dan daarop nie reageer nie, sodat hulle response op Hamas (byna) geregverdig voel.

Moenie dat enigeen jou uit die Woord van God, die Vader van ons Here, Jesus Christus, laat wysmaak Israel se oordaad is God se handewerk en dra die Here se goedkeuring weg nie. Dat hulle dit maar mag, want hulle kan geen foute maak nie, is kwansuis steeds God se volk wat nou nog God se wil tot op die letter uitvoer. Dit lyk meer op Judaïsme as Joodse geloof.

Hoor my reg: Die Palestyne het grusame en afstootlike sonde gedoen en hou daarmee vol, en nie net van nou die dag, 7 Oktober 2023, af nie, maar uit die staanspoor van Israel se bestaan. Daarvoor is daar geen regverdiging nie. Palestyne is geen vredesoekers nie. Hulle kry wat hulle gesaai het, maar hulle kry dit nie van die gewone agente van God die Vader, die Seun en die Heilige Gees nie. Van Christene kan selfs Palestyne selfbeheersde geregtigheid verwag, net soos wat Israel ons meelewing en vermaning verdien.

Maar hou tog ook in gedagte: Wat ek en jy, en hulle daar, Israeli of Palestyn, almal van ons, van God kry, is loutere genade. Daarsonder kan nie een van ons lewe nie. Sonder genade is daar geen liefde nie, en geen vergifnis nie, en geen kans op versoening nie, ongeag die politieke bloudruk vir die Midde-Oosterlinge se haat vir mekaar. Dog met die liefde van God, is daar altyd hoop.

Maar jy, moenie waag om die Drie-enige God se goedkeuring te wil gee aan enige van hierdie twee nasies se oorlogsugtigheid nie. Dit is nie wat Amos 1 sê nie. Want selfs uit die Palestyne, net soos uit Islaeli’s en Jode, sal daar nog kinders van God kom.

 

(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)

hendriklagrange@gmail.com

Share via
Copy link
Powered by Social Snap