
Inleiding
Jan Hus word in hierdie bundel opgeneem aangesien hy as ʼn belangrike voorloper tot die Reformasie gesien word. Een honderd jaar vóór Luther het Hus al die Bybel in sy moedertaal vertaal en Tsjeggies in die erediens gebruik. Hy het hom uitgespreek teen die verkoop van aflate en ʼn saak daarvoor uitgemaak dat gewone lidmate ook uit die Nagmaalbeker mag drink. Hoe die verband tussen Hus en die Reformasie presies beskryf moet word, is ʼn onsekere saak. Vir eeue is die volgende woorde gebruik: Voor-reformator, reformator vóór die Reformasie, wegbereider, voorloper en voorganger van Luther. Die huidige Luther-navorsing (vgl. Kohnle 2016) is egter baie meer beskeie in die oordeel. Luther het wel belangrike opmerkings oor Hus gemaak, hom gebruik in sy strydgesprekke met die “pouskerk” en selfs van sy geskrifte uitgegee, maar Hus het weinig invloed op Luther se teologie gehad. Teen 1519 (toe Luther vir die eerste keer Hus bestudeer het) het Luther alreeds sy sê gesê oor die aflaatpraktyk – en wel sonder gebruikmaking van Hus se gedagtes. Ten spyte van al die versigtige oordele oor die verhouding tussen Luther en Hus vandag, bly Hus nogtans ʼn belangrike persoon vir die Luther-navorsing. Luther verteenwoordig nie alleenlik die breuk met die Middeleeue nie, maar ook die voortsetting van sekere elemente van die Middeleeue. Luther word vandag beskryf as ʼn geloofwaardige interpreteerder van die evangelie – op voetspoor van mense soos Valdes, Wyclif, Hus en Savonarola. Die voorlopers tot die Reformasie speel dus ʼn belangrike rol in die Protestantse identiteitskonstruksie. Kohnle (2016:76) vat die belangrikheid van Hus vir die Luther-resepsie goed saam deur te stel dat dit gaan om “identiteitsvorming deur die herkonstruksie van die teologiegeskiedenis”. Alhoewel Luther sonder Hus verstaan moet word, is dit ook belangrik om die twee nie los van mekaar te verstaan nie. Die verband tussen Hus en Luther geniet deeglike aandag in die laaste gedeelte van hierdie artikel.
Sonder die Lutherse reformasie sou Hus dalk ʼn onbekende kerklike figuur gebly het. Die Tsjegge sou hom dalk as ʼn nasionale held onthou het aangesien hy ʼn belangrike rol gespeel het in die ontwikkeling van Tsjeggies tot ʼn akademiese skryftaal, maar as teoloog sou hy vergete gebly het. Die Boheemse Kerk het ná Hus se dood in twee geskeur, wat die impak op volk en staat verklein het. Ná die slag by die “Wit Berg” op 8 November 1620, het die Kontrareformasie weer die oorhand in Boheme gekry, met die gevolg dat Hus doelbewus uit die kollektiewe herinnering gedruk is. Die belangstelling in Hus is dus te danke aan die groot belangstelling in Martin Luther.
Lewe
Lewensloop
1369 Gebore in Husinee, Okres Prachatice, koninkryk Boheme Tsjeggiese Republiek). Nuwere navorsing beweer hy is op 1 Julie 1472 gebore
1390 Studeer aan die Universiteit van Praag
1396 Meestersgraad in algemene filosofie aan Universiteit van Praag
1398 Studeer teologie in Praag
1400 Georden as priester
1401 Dekaan van die Fakulteit Filosofie
1402 Professor in teologie en filosofie
1409 Rektor van die Universiteit van Praag vir twee jaar
1415 Sterf op 6 Julie op die brandstapel in Konstanz, Duitsland
Lewensverhaal
Jan Hus was verbonde aan die oudste universiteit van middel-Europa, naamlik die Universiteit van Praag in die hedendaagse Tsjeggiese Republiek. Hierdie universiteit is op 7 April 1348 deur keiser Karel IV gestig. Nadat Hus in 1396 ʼn Magister behaal het, het hy die eerste Tsjeggiese grammatika (Orthographia Bohemica) geskryf. Hus, wat sedert 1402 professor in teologie en filosofie was, het vanaf hierdie jaar in die Bethlehemskapel in Praag, in Tsjeggies (en nie Latyn nie) gepreek. Hy het jaarliks ongeveer 200 preke in sy moedertaal gelewer en die gemeentes aangemoedig om in Tsjeggies te sing, en het só ʼn nasionale gevoel aangewakker. Hy was dus die grondlegger en bevorderaar van die Tsjeggiese taal, en daarom is hy tot vandag toe een van die groot helde van die Tsjeggiese volk.
Hus was in talle opsigte nie ʼn oorspronklike denker nie. Hy is sedert 1398, danksy Hieronimus van Praag, eers aan die filosofiese geskrifte en later aan die teologiese geskrifte van John Wyclif van die Universiteit van Oxford (gestig 1096) blootgestel. By Wyclif het hy geleer dat ʼn kritiese houding teenoor die kerklike ampsdraers nodig is as gevolg van hulle sedelike verval en die misbruik van geld en mag. Hy het aangedring op die hervorming van die kerk. Die hervorming moes volgens Wyclif toesien dat die kerk afsien van die ideaal om rykdom te vergader, dat ruimte gegee word aan gewetensvryheid en dat die Bybel as die enigste outoriteit aanvaar word by geloofsvrae. Hus het verder Wyclif se leer oor die predestinasie oorgeneem, en hy het by hom geleer dat die moedertaal in eredienste gebruik kan word.
Hus het in ʼn tyd gelewe toe daar drie pouse in Europa was. Die aartsbiskop van Praag, Alexander V, het toenadering gesoek by een van die pouse, Johannes XXIII, wat bereid was om die hervormingsideale van Hus te onderdruk. Op 9 Maart 1410 het hy ʼn bul uitgevaardig dat Wyclif se geskrifte verbied moet word. Kort daarna laat hy 200 van Wyclif se geskrifte in die openbaar verbrand. In Februarie 1411 word hy uit die kerk verban. Dit lei tot ʼn volksopstand in Praag, en hy werk verder onder beskerming van die plaaslike koning. Hus veroordeel in hierdie tyd ook die kruistogte en pous Johannes XXIII se gedagte van volle aflate vir diegene wat aan die kruistogte teen die koning van Neapel sou deelneem. Op 14 Julie 1412 word drie jong mans wat Hus ondersteun het onthoof, en Hus was verplig om uit Praag te vlug. Die drie onthoofde manne word tot vandag toe as martelare vereer. Hus skuil tot en met 1414 op die Ziegenburg waar hy onder andere verder werk aan die ontwikkeling van Tsjeggies as skryftaal en aan ʼn volledige Bybelvertaling. In 1413 skryf hy De ecclesia (Oor die kerk). In hierdie geskrif beweer hy dat die kerk ʼn hiërargievrye gemeenskap is en dat slegs Christus die hoof kan wees. Op voetspoor van Augustinus beweer hy dat die kerk die gemeenskap van uitverkorenes is. Nogtans is daar in die sigbare kerk ook mense wat nie uitverkore is nie, en as groep ʼn corpus diaboli (ʼn gemeenskap van die duiwel) daarstel.
In 1414 het die Konsilie van Konstanz hom van kettery beskuldig en hom opdrag gegee om voor hulle te verskyn. Die Duitse koning, Sigismund, het hom ʼn veilige intog en uittog uit Duitsland belowe (salvus conductus). Op 3 November 1414 het hy in Konstanz aangekom en op 4 November is hy die doodstraf opgelê. Hy het egter nog vir drie weke in ʼn herberg in Konstanz gepreek (die herberg is vandag ʼn museum). Op 28 November is hy na Münster in die gevangenis verskuif. Vanaf 6 Desember is hy erg gemartel. Sigismund het op 24 Desember 1414 die eerste keer die Konsilie bygewoon. Toe hy hoor dat sy waarborg aan Hus nie gerespekteer is nie, was hy woedend, maar hy het nogtans niks gedoen om Hus te red nie. Op 4 Mei 1415 is John Wyclif formeel deur die Konsilie tot ketter verklaar. Aangesien hy toe reeds 30 jaar dood was, is opdrag gegee dat sy beendere verbrand moes word. Dít is wel in 1528 gedoen. Hus is op 5 Junie 1518 weer verhoor. Op 6 Julie is hy as ketter ter dood veroordeel. Die uitspraak is weens die chaos rondom die pouse (Johannes XXIII is self tydens die Konsilie gevange geneem en die ander pous, Gregorius XII is afgedank) nie deur die pous bekragtig nie. Hy is deur die wêreldlike owerhede, met sy geskrifte, op die brandstapel tereggestel. Sy as is in die Rynrivier gegooi. In 1863 is ʼn gedenkplaat op die plek van sy teregstelling opgerig.
Jan Hus en Martin Luthe
Jan Hus was vir Martin Luther ʼn belangrike teoloog uit die laat-Middeleeue. Sy teologiese geskrifte en die gebruik van Tsjeggies vir Bybelvertaling en eredienste was vir Luther rigtinggewend. Die Konsilie van Konstanz (1414-1418) het egter sy teologie veroordeel, maar ʼn selfstandige Boheemse Kerk het daaruit voortgespruit. Hierdie suksesvolle en voortlewende distansie teenoor Rome was vir die Wittenbergse Reformasie en die Protestantse streke ʼn bewys dat daar ook buite Rome om kerk kan wees.
Luther se kennis, waarneming en positiewe oordeel oor Hus het algaande ontwikkel. Luther het by sy voorganger in Wittenberg, Johannes von Staupitz, gehoor, wat dit weer op sy beurt van sy voorganger, Andreas Proles, gehoor het dat Johannes Zachariae wat in Erfurt begrawe is en Hus verhoor het, Bybelverse vervals het om Hus in ’n hoek te dryf. Luther het dus by sy biegvader gehoor dat Hus op grond van leuens en bedrog brandstapel toe gestuur is. Die korrupsie van die “pouskerk” het meegebring dat Luther in die persoon Hus begin belangstel het. Inligting was maar skaars. Die Kroniek van die Konsilie van Konstanz (1536) deur Ulich von Richentals het Luther later gehelp om méér van Hus te wete te kom. Na alle waarskynlikheid het Luther vroeër wel ʼn skildery te siene gekry van Hus se teregstelling. Daar was in daardie tyd ʼn paar voorstellings in omloop.

Foto (bo): Een van die voorstellings van Hus se teregstelling uit die vroeë 16de eeu
Johannes Eck het Luther tydens die Leipzig disputasie (1519) beskuldig dat hy die ketterye van Jan Hus voortsit en dat hy daarom, soos Hus, as ketter tereggestel moet word. Roomse geleerdes sou hierdie strategie volhou om Luther te diskrediteer. In 1521 het die Fakulteit Teologie van die Universiteit van Parys Luther weer eens beskryf as ʼn persoon wat die ketterye van die Middeleeue voortsit, en daarom nie ernstig geneem moet word nie (vgl. WA 8, 267-312). Hy is op een lyn met die volgende persone en hulle “dwalings” geplaas: Petrus Valdes († 1205) wat die Bybel in die volkstaal vertaal het, John Wyclif († 1384) wat van die Roomse Nagmaalbeskouing afstand gedoen het, en Savonarola († 1498) wat slegs op God se barmhartigheid vertrou het en die vertroue in goeie werke laat vaar het. Luther het selde aan Wyclif en die ander aandag gegee. Vir hom was dit voldoende om aan Hus aandag te gee, juis omdat Eck hom persoonlik op 5 Julie 1519 met Hus verbind het. In plaas daarvan om Eck te oortuig dat hy nie ʼn ketter is nie, het Luther aangetoon dat Hus verkeerdelik op die brandstapel gesterf het. Wat hy geleer het, was Bybels en evangelies. Dit is daarom die Konsilie van Konstanz wat in die aanklagbank moet staan. Luther het vanaf hierdie datum die argument gevoer dat konsilies feilbaar is. Eck se aanklag was bedoel om vir Luther verleentheid te veroorsaak. Die teendeel het egter gebeur, naamlik dat Luther hom met trots aan Hus kon verbind. In Februarie 1520 skryf Luther aan Spalatin en maak hy hierdie merkwaardige uitspraak: “Onbewus is ons almal Hussiete” [Summus omnes Hussitae ignorantes] (WA Br 2, 42, 24 Nr. 254). Luther het homself dus as ʼn opvolger van Hus en sy stryd gesien.
Vanaf 1520 het Luther hom intensief met Hus se teologiese geskrifte bemoei – en veral sy hoofgeskrif, “de ecclesia” (“Oor die kerk”). Volgens Luther was Hus té veel deur Thomas van Aquino beïnvloed. Nogtans het hierdie “beginner” in die evangeliese teologie (WA 7, 134, 25) in sy tyd méér korrekte insigte gelewer as die res van die teoloë in die wêreld (WA TR 4, 581, 16, Nr. 4922). Hus se martelaarskap was vir Luther die bewys dat die stryd oor die regverdiging, wat Hus ligweg aangeraak het, voortgesit moet word aangesien dit die hart van die Bybelse boodskap raak (Wernisch 2015:306).
Die “Hussiete” sou bekendheid verwerf vir hulle stryd om die gebruik van die Nagmaalbeker deur die gewone lidmate. In die Roomse Kerk kan net die priesters die beker gebruik. Hus en sy volgelinge het dít met mag en mening beveg. Luther het Hus in sy stryd gevolg. Hy het egter ʼn nuwe begrondingsargument bygevoeg. Hy het die gebruik van die beker deur gewone lidmate met die gedagte van die “priesterskap van alle gelowiges” verdedig. In 1523 het Luther sy geskrif De instituendis ministris Ecclesiae (“Die instelling van die ampte in die kerk”) aan die stadsraad van Praag opgedra uit dank vir die bydrae van die Hussiete tot hierdie vraagstuk. Bekende skilderye is later gemaak waar Hus en Luther gewone lidmate uit die beker laat drink.

Foto (bo): Luther en Hus bedien saam die Nagmaal aan Ernestiniese keurvorste. Merkwaardig genoeg is dit Luther en nie Hus nie wat die beker aanbied. Houtsneewerk, Lukas Cranach jr. 1570
Jan Hus was verder die teoloog wat Luther oortuig het dat die teenwoordigheid van Christus by die Nagmaal nie in gedrang gebring word wanneer die transsubstansiasieleer (dat die brood en wyn werklik in die liggaam en bloed van Christus verander word tydens Nagmaal) verwerp word nie (WA 6, 456). In 1538 sou Luther (WA 50, 380) in ʼn voorwoord tot die Boheemse Belydenisskrif selfs stel dat die “twee skaapskrale één is”, met ander woorde, dat Hus en sy volgelinge op dieselfde belydenisgrondslag staan as hy en sy volgelinge.
Volgens ʼn brief van 1412 het Hus in ʼn profesie voorspel dat daar ander voëls naas die gans (met verwysing na homself) na vore sal kom wat die aanslae van die roofvoëls (die Roomse hiërargie) makliker sal afweer. Volgens oorlewering is Hieronimus van Praag een jaar ná Hus na die brandstapel gestuur. Voordat hy gesterf het, het hy blykbaar aan die regters gesê dat hulle oor een honderd jaar verantwoording sal moet doen oor hulle onreg. Luther het hierdie twee tradisies as één verstaan en die profesieë op homself betrek (Kohnle 2016:80). In 1531 het hy (WA 30(III), 387, 6-10) die volgende beroemde woorde neergeskryf:
Die heilige Johannes Hus het oor my geprofeteer, toe hy in die gevangenis in Boheme geskryf het. Hulle sal vandag ’n gans braai (Hus beteken gans), maar oor ’n honderd jaar sal hulle ’n swaan hoor sing. Sou hierdie [swaan] ly, sal God, volgens sy wil, ook dáár teenwoordig wees.
S[ankt] Johannes Hus hat von mir geweissagt, da er aus dem gefengnis ynn behemerland schreib, Sie werden itzt eine gans braten (denn Hus heisst eine gans) Aber vber hundert iaren, werden sie einen schwanen singen horen, Den sollen sie leiden, Da solls auch bey bleiben, ob Gott will.
Luther het dus sedert 1531 Hus as voorloper tot die Reformasie gesien, en homself as die voleinder van dít wat Hus begin het. Die kring om Luther het met hierdie beeld van die gans en die swaan volgehou. Direk ná Luther se afsterwe het Johannes Bugenhagen en Justus Jonas albei ʼn “lyksrede” gehou waar na die gans en die swaan verwys is. Albei het Luther dus verstaan as die persoon wat Hus en Hieronimus van Praag se profesieë tot volvoering gebring het.
Hus en die Protestantse ikonografie
Sonder Luther en die Lutherse tradisie sou Jan Hus grootliks onbekend gebly het. Danksy hulle populariseringstrategie het Hus ʼn bekende naam geword en gebly. Luther het die insig gehad om Hus se geskrifte op te diep en weer te laat druk. In 1520 het hy Hus se hoofgeskrif, De ecclesia, onder die titel De causa Boemica (“Oor die Boheemse saak”) uitgegee. In 1536/37 het hy sy briewe uit die gevangenis in Konstanz uitgegee, voorsien van ʼn voor- en nawoord. Deur die loop van die eeue is hierdie briewe weer en weer gedruk en uitgegee. Die hoogtepunt in hierdie bekendmakingstrategie word in 1558 bereik met ʼn uitgawe van al Hus se geskrifte in Nürnberg onder die titel Ioannis Hus, et Hieronymi Pragensis confessorum Christi historia et monumenta …
Die Reformatoriese populariseringstrategie het polemiese kenmerke gehad. Die teruggrype na die teoloë van die laat-Middeleeue was ʼn poging om die Roomse verketteringstrategie teen te gaan. Vir die reformatore was dit nie belangrik wat mense soos Hus in alle detail gesê het nie, maar dat hulle deur die Roomse Kerk vervolg is. Die Reformatoriese boodskap kom op die volgende neer: Die Protestantse geloof is nie iets nuut nie, aangesien dit deur die loop van die kerkgeskiedenis telkens weer en weer voorgedra is. Die konsilies het hierdie belangrike stemme egter stilgemaak. Die Protestante wou die kerkgeskiedskrywing hernu deur weg te doen met ʼn kettergeskiedenis en dit te vervang met ʼn geskiedenis van ware evangeliese stemme. Anders gestel: Die proses van Protestantse identiteitsvorming het te make gehad met die omverwerping van die Roomse kettergeskiedenis, en dit vervang met ʼn positiewe geskiedenis van ware geloofsgetuies (Kohnle 2016:85).
Die Lutherse tradisie het deur die loop van die eeue talle skilderye opgelewer waar ʼn swaan (die simbool van die voleinding van Hus se werk deur Luther) naby Luther staan. Hieronder is twee voorbeelde:


Een van die indrukwekkendste uitbeeldings van Luther en die swaan is opgeneem in ʼn vlugskrif van 1617. In hierdie jaar (die eerste Reformasiejubileum) is daar in Leipzig ʼn vlugskrif gedruk, gebaseer op ʼn pragtige legende. Volgens die verhaal sou keurvors Frederik die Wyse in die nag van 30 Oktober ʼn droom gehad het oor Luther se bekendmaking van sy stellings oor die aflaatstelsel. Luther, in die gestalte van Paulus, sou die stellings teen die kerkdeur van die Kasteelkerk met ʼn reuse-veerpen neerskryf. Die veer was so groot dat die punt die pous in Rome se hoed afgestamp het. Op die beeld deurboor die veer die kop van ʼn leeu (pous Leo X). Die gans, regs voor, is ʼn heenwysing na die Tsjeggiese hervormer Jan Hus wat op die brandstapel tydens die Konsilie van Konstanz (1415) gesterf het weens sy kritiek teen die aflaatstelsel.

Foto (bo): Die vlugblad (1617) wat Frederik die Wyse se beweerde droom uitbeeld.

Foto (bo): ʼn Variante uitbeelding van die droom. Hier is die gans (Hus) wat een honderd jaar later in ʼn swaan (Luther) verander het vol lewe. Die veer tref die totale kerk in Rome.

Foto (b0): Die Lutherse Kerk, Amersfoort, Nederland
Die identifisering van die Lutherse Kerk met die swaan het in die geskiedenis toegeneem. In sekere wêrelddele soos Friesland, Nederland is die haan op die kerktorings (wat ʼn Roomse simbool is) met ʼn swaan vervang (vgl. Treu 2016 vir volledige inligting). Danksy hierdie simbool bly Jan Hus in die kollektiewe herinnering van die Protestantisme.
Literatuurverwysings
Kohnle, A., 2016, ‘Vorreformator, Reformator vor der Reformation, Wegbereiter oder Vorläufer Luthers?’, Luther 87(2), 75-89.
Luther, M., 1883vv., Weimarer Ausgabe (WA, WA DB en WA TR), D. Martin Luthers Werke: Kritische Gesamtausgabe, 65 Bände, H. Böhlaus und Nachfolger, Weimar.
Treu, M., 2016, ‘Die Gans und der Schwan: Martin Luther und Jan Hus im Vermächtnis der Bilder’, Luther 87(3), 127-141.
Wernisch, M., 2015, s.v., Hus, ‘Jan’, in V. Leppin & G. Schneider-Ludorff (Hrsg.), Das Luther-Lexikon, pp. 305-306, Bückle & Böhm, Regensburg.