In hierdie Jaar van die Bybel dra Die Hervormer graag by tot lidmate se kennis van die Bybel, met ’n Bybelse tydlyn wat in drie agtereenvolgende uitgawes verskyn.
Van Jerusalem tot Babel (2 Samuel, 1 en 2 Konings, 1 en 2 Kronieke, Esegiël, Daniël)
Om datums aan gebeure in die Bybel te koppel, is nie maklik nie, maar ons kan tog min of meer aandui wanneer belangrike dinge gebeur het. So kan ons sê dat Dawid koning in ongeveer die jare 1010-1000 voor die geboorte van Jesus koning word. Dawid was nie net ’n goeie soldaat nie, maar het ook psalms geskryf. Hy was die belangrikste koning in die Bybel. Ongelukkig doen hy ook verkeerde dinge. Hy raak verlief op ’n getroude vrou, Batseba, en hy stuur haar man, Uria, na die oorlogsfront, waar hy sneuwel. So word Dawid ’n moordenaar. Dawid se tweede groot sonde was die telling van die volk om sy eie mag te bepaal, en as straf tref pes die volk vir drie dae.
Dawid salf Salomo, sy seun, as sy opvolger. Salomo is bekend vir sy wysheid en rykdom. Hy laat ook die tempel in Jerusalem bou. Die tempel word die enigste (sentrale) plek vir die aanbidding van God in Israel. Salomo se strewe na aansien lei tot sy ondergang, want hy trou met honderde vroue om politieke redes, maar die vroue wou hul eie afgode aanbid, en Salomo moes toe vir hulle tempels bou.
Na Salomo se dood (932 vC) skeur Israel in twee, en Rehabeam word koning van die Suidryk en Jerobeam koning van die Noordryk. Jerusalem bly die hoofstad van die Suidryk, en Samaria word die hoofstad van die Noordryk.
In die Noordryk moes die profete gedurig die konings en die volk waarsku om nie afgode te aanbid nie. Die konings word die een na die ander deur God afgekeur. Die bekendste was Agab wat trou met Isebel, ’n Baälaanbidder. Die profeet Elia hou aan om Agab en Isebel te waarsku teen hul afgodery, en die twee sterf ’n aaklige dood. Elisa volg Elia as profeet op, en Elia word lewend in die hemel opgeneem.
Intussen verskyn ’n nuwe wêreldmag op die toneel: die Assiriërs. Koning Hosea probeer Samaria beskerm, maar in 722 vC word Samaria ingeneem en die inwoners word na Nineve weggevoer. Dit was die einde van die tien-stamme-ryk van Israel.
In teenstelling met die Noordryk, bly die bloedlyn van Dawid behoue in die konings wat mekaar in die Suidryk opvolg. Konings wat gehoorsaam aan God was, was Asa, Amasia en Ussia. Koning Hiskia probeer sy bes om die agteruitgang van die godsdienstige lewe van Juda (Suidryk) reg te ruk, maar sy eie hoogmoed bring hom tot ’n val. Nadat ’n ou wetboek tydens die herstelwerk aan die tempel ontdek word, hervorm die jong koning Josia die godsdiens, en God alleen word weer aanbid.
Intussen verskyn ’n nuwe wêreldmag op die toneel: die Babiloniërs. Jojakim en Jojagin moes aan hulle begin belasting betaal. Jeremia roep die koning en die volk op tot bekering, maar sonder sukses. In 587/6 vC neem die Babiloniërs Jerusalem in en die stad en tempel word tot op die grond afgebreek. Die jong en gesonde mense word in ballingskap na Babel weggevoer. Esegiël tree as godsdienstige leier onder die ballinge in Babel op en verkondig dat die volk weer eendag na Jerusalem en Judea sal terugkeer. Die boek Daniël vertel ons meer van die lewe in Babel.
Van Babel na Jerusalem (Esra tot Nehemia, Ester)
In 538 vC kom die Perse onder leiding van Kores (Sirius) in Babilonië aan bewind en laat die ballinge na hul eie lande terugkeer. Die eerste groep Jode/Israeliete keer terug, met Sesbassar as leier. ’n Tweede groep, onder leiding van Serubbabel, begin met die hulp van die profete Haggai en Sagaria om herstelwerk in Jerusalem te doen. In 516 vC word die bouwerk van die tempel afgehandel.
Esra herstel die godsdiensoefening (kultus), en Nehemia help om die stad Jerusalem te herbou. Die Samaritane doen alles in hul vermoë om die bouwerk teen te werk. Baie van die Jode besluit om nie na hul land terug te keer nie, en hulle word die Jode in die diaspora genoem. In hierdie tyd verkondig die profete dat God ’n Messias gaan stuur, iemand wat weer die ou ryk van Dawid sal herstel. Die boek Ester gee ons ’n blik op die lewe van die Jode onder die Perse en Mede.
Van Jerusalem na Betlehem (tussentestamentêre periode)
Tussen die Ou en die Nuwe Testament verloop ongeveer 350 jaar waarvan die geskiedenis nie in die Bybel opgeteken is nie. Om die wêreld waarin Jesus gebore word te verstaan, moet ons iets van hierdie gebeure weet. Alexander die Grote, ’n Griekse koning, begin in 336 vC met ’n veldtog om die nuwe wêreldheerser te word. Hy slaag, en so word ook die wêreldtaal Grieks. Die Jode het ook nog Aramees gepraat. Tydens opstande onder leiding van die Hasmoniërs verkry die Jode weer godsdiensvryheid. Hierdie oorloë word die Makkabeëroorloë genoem.
Verskeie godsdienstige groepe ontstaan in hierdie tyd, en ons leer hulle in die Nuwe Testament ken as die Sadduseërs, die Fariseërs en die skrifgeleerdes. Hulle vorm die Joodse Raad wat die godsdienstige lewe van die mense gereël het. Ongelukkig het hierdie leiers, saam met die Romeine, die gewone mense baie sleg behandel.
In 63 vC neem die Romeinse generaal Pompejus Jerusalem in. In 7/6 vC word Jesus in Betlehem gebore toe Herodes die koning in Jerusalem en Augustus die keiser in Rome was, en Judea en Galilea deel was van die provinsie Sirië. Serenius was die goewerneur.
(Ds Marius Venter is ’n emerituspredikant van die Kerk)
Dawid en Batseba
2 Sam 11-12
Dawid laat die volk tel
2 Sam 24
Salomo word koning
1 Kon 1
970-960 vC
SALOMO ONTVANG WYSHEID EN RYKDOM
VAN GOD
1 Kon 3
BOU EN INWYDING VAN DIE TEMPEL
1 Kon 6-10
SALOMO SE VROUENS EN DOOD, EN
SKEURING VAN DIE RYK
1 Kon 11-14
932 vC
ELIA, AGAB EN ISEBEL
1 Kon 16: 29-21
ELISA VOLG ELIA OP
2 Kon 2-9
Hosea en die einde van die Noordryk
2 Kon 17
722 vC
KONING HISKIA VAN JUDA
2 Kon 18-20
KONING JOSIA
2 Kon 22 – 23: 30
VAL EN VERWOESTING VAN JERUSALEM
2 Kon 23: 35 – 25: 21
586 vC
LEWE IN BABEL
Daniël
KORES SE PROKLAMASIE
Esra 1
538 vC
TERUGKEER NA JERUSALEM
Esra 2-10
NEHEMIA VERTREK NA JERUSALEM
Neh
ESTER EN DIE PERSE
Est
ALEXANDER DIE GROTE
336 vC
ROMEINSE OORNAME
63 vC
GEBOORTE VAN JESUS IN BETLEHEM
7/6 vC