Jesus het sy hand uitgesteek en aan die man geraak en gesê: “Ek wil dit vir jou doen. Ek maak jou gesond.” Die man het dadelik gesond geword. Hy was nie meer melaats nie. (Matteus 8: 3, Die Bybel vir almal)

In die tyd toe Jesus op aarde was, het mense anders as ons oor siekte gedink. Mense het met hul beperkte kennis vir die oorsaak van siekte verklarings gegee waarmee hulle eintlik ook maar net sin van hul leefwêreld wou maak. Waarom het jy siek geword? Jy het siek geword omdat jy of jou voorouers gesondig het, of as gevolg van bose geeste.

Ons weet egter vandag dat siekte deur bakterieë en virusse veroorsaak word. Daar is ook ’n menigte siektes wat deur genetiese kenmerke veroorsaak word. Hierdie kennis het egter eers heelwat later in die mens se geskiedenis gekom. Daar was vir die eerste keer werklik ’n besef van wat siekte veroorsaak toe Louis Pasteur in die 19de eeu besef het dat siekte deur mikro-organismes soos bakterieë veroorsaak word. Regdeur die geskiedenis is daar egter steeds by sommige religieuse groepe die gedagte dat siekte God se straf vir sonde is. Soms hoor ons dit nog onder gelowiges van ons eie tyd.

In die eerste-eeuse Mediterreense samelewing het siekte verder die implikasie dat iemand wat siek is, onrein geword het. Om onrein te wees, sou beteken dat jy nie by die tempel mag ingaan nie. Dit sou weer die simboliek dra dat jy dan ver van God af is en selfs geag kan word as buite sy genade. Dis amper so erg as om ’n goddelose te wees. Hierdie uitkyk is vandag vir ons vreemd. Tog dink ons nog met tye so oor pyn en siekte. Dit is waarskynlik omdat ons ook maar probeer om van ons eie leefwêreld en ons omstandighede sin te maak.

Wat sê ons egter oor God? Hierdie manier van dink is eintlik dat ons van God ’n karikatuur maak wat moedswillig is en net die hele tyd wil straf. As ons regtig dink dat God ons straf wanneer ons siek is, byvoorbeeld, kan dit vergelyk word met iemand wat sê dat hul ouer hulle moedswillig met ’n siekte besmet. Almal sal tog saamstem dat dit ’n absurde ding is om kwyt te raak! Watter goeie ouer sal dit ooit aan ’n kind doen? Maar as ons God deur Jesus as ons Hemelse Vader, wat goed is, leer ken, waarom sal ons dit dan van God dink? Dieselfde geld vir die pyn wat ons ervaar. Watter goeie ouer sal beplan dat iemand mishandel word? Dat iemand swaar sal kry? Seer sal kry? Tog is dit wat ons impliseer wanneer ons in ons soeke na sin oor God praat.

Melaatsheid soos dit in die Bybel voorkom, kan maklik vir ons na ’n verskriklik aansteeklike siekte lyk. ’n Melaatse persoon sou nie veel aansien gehad het nie. Familielede kon nie aan die persoon raak nie, want dan kan die onreinheid op julle “klim”, en as jy onrein is, is jy ver van die Here en lewe jy buite sy genade. Dit het die hartseer effek gehad dat so ’n melaatse deur sy familie, vriende, gemeenskap en godsdienstige gemeenskap uitgeskuif is. Dikwels het dit beteken dat so ’n persoon hom of haar in die begraafplaas tussen die dooies of in die woestyn bevind het. Vir alle praktiese doeleindes sou so iemand soos ’n dooie mens wees wat loop, oftewel ’n zombie.

Deur mediese navorsing oor melaatsheid weet ons meer oor hierdie siekte. In sy boek Where is God when it hurts verwys Phillip Yancy onder andere hierna. Dit blyk dat melaatsheid ’n neurologiese siekte is wat jou senuweestelsel aantas. Meer spesifiek, tas dit jou vermoë aan om pyn te kan voel. Dit klink dalk lekker om nie pyn te kan ervaar nie, maar dit het meer nadele as voordele. Melaatse persone sou byvoorbeeld nie kon voel as hulle êrens ’n klip raakskop en elke beentjie in hul voet breek nie. Waarskynlik besef hulle eers veel later dat hul voet gebreek is. Of verbeel jou dat die persoon in ’n skerp voorwerp vasloop en dan eers later besef dat daar ’n gat in hul been is. Ons eerste respons op sodanige skade is soms kritiek belangrik, maar die melaatse persoon sou nie daaraan aandag gee nie, en die wonde kon dan maklik geïnfekteer word.

Die leefruimte van mense in die Bybelse tyd is belangrik. Sagte beddens en baie vertrekke waar elkeen hul eie spasie het, was nie die norm nie. Dikwels sou ’n hele familie een of hoogstens twee vertrekke deel, en boonop mét hul vee. Dis nie die mees higiëniese omstandighede nie en wonde sou maklik infeksie opdoen. Die meeste van die wonde aan melaatse mense was dus waarskynlik as gevolg van hierdie omstandighede.

In die Bybel is duidelike voorskrifte oor hoe ’n melaatse persoon hanteer moes word – vergelyk Levitikus 13: 45 wat sê dat so ’n persoon buite die kamp moet leef. ’n Godsdienstige leier soos ’n priester of skrifgeleerde sou die laaste persoon wees wat aan ’n melaatse sou raak. Dit sou mos baie sleg lyk as hierdie leiers nie in die tempel kon ingaan nie, omdat hulle dan self onrein sou wees. Niemand sou die risiko wou neem om daardie onreinheid oor hulself te bring nie. Daarom het melaatses in die begraafplaas of in die woestyn beland. Maar terselfdertyd het die voorskrifte in Levitikus tog daarop neergekom dat ’n priester so ’n persoon behoort te help om weer rein te word.

Wat gebeur egter toe Jesus ’n melaatse man raakloop? In Matteus 8: 1-4 ontmoet Jesus so ’n persoon. Die man vra vir Jesus om hom gesond te maak, want, sê Hy: …as U wil, kan U my gesond maak. En Jesus doen die ondenkbare. Hy raak die man aan. Hy maak hom gesond. Hy stuur hom dan na die priesters sodat die man vir hulle kan wys dat hy rein geword het. Wat het Jesus hier gedoen? Hoekom het Hy hierdie man genees?

Die Matteus-evangelie beklemtoon Jesus se aankondiging van ’n nuwe tipe koninkryk. Dit is ’n omgekeerde koninkryk – ongeëwenaar op aarde. Die wêreldse koninkryke ag status, mag, rykdom en aansien in die oë van mense as die belangrikste. Daarteenoor hoor ons die perspektief van Jesus wat in Matteus 5: 3-12 mense beskryf wat hul geluk by die Here vind. Dit is mense wat weet dat hulle God nodig het; wat hartseer is; wat nederig is en op God vertrou; wat God se wil navolg, goed is vir ander, goeie goed doen selfs vir mense wat hulle sleg behandel, en wat beledig word omdat hulle goeie dinge doen. Dit was juis in die oë van politici van die tyd en van die magtiges tekens van swakheid. Hier in die Matteus-evangelie wys Jesus dat dit nie ’n mens se goeie werke en voortvarendheid is wat jou red nie: Jesus genees hierdie man omdat hy in Hom geglo het.

Jesus doen veel meer vir hierdie man as om hom net te genees van sy fisiese siekte. Hy het inderdaad hierdie dooie mens weer lewend laat word. Hy maak hom rein, sodat hy weer by sy familie kan aansluit, deel van sy gemeenskap kan word, en nie meer verag hoef te word nie. Hy mag nou weer by die tempel ingaan. Hy is nie meer ver van God af nie. Inteendeel: Hy is deel van God se Koninkryk.

In die verhaal van die melaatse illustreer Jesus die feit dat ons geboortereg of waar ons vandaan kom of ons eie mooi prestasies en goeie dade nie die dinge is wat ons gaan red nie. As ons ons plekkie by God moet los presteer, gaan ons altyd ver tekortskiet. Hierdie arme melaatse man kon nie spog met prestasies en Jesus so oortuig om hom gesond en rein te maak nie. Sy melaatsheid as teken van sy onreinheid sou erg in die pad daarvan gestaan het. Wat hy wel gehad het, was sy geloof, en dit was genoeg.

Ons word uitgedaag om net harder werk, beter te presteer, meer te doen. As ons dit nie doen nie, word ons beskou as swakkelinge. Maar hoor wat Jesus vir die melaatse man – ook ’n sogenaamde swakkeling – gedoen het. Hy genees hom net omdat hierdie man geglo het.

Ons glo baie maal in ons hartseer, pyn en siekte dat God besig is om ons te straf, maar sien ons God se hart deur Jesus se optrede in hierdie verhaal raak? Inderdaad bid ons baie maal dat God sekere mense sal genees of dalk selfs onsself, en dan gebeur dit nie. Wat dan? Is God dan nie lief vir ons nie? Allermins kan ons daardie gevolgtrekking maak. Ons weet tog dat ons deel van God se Koninkryk is en daarom tot in ewigheid sal lewe.

Ons kan vandag met ’n ander perspektief na ons pyn, hartseer en siekte kyk. Selfs al word ons dan nie fisies genees nie, selfs al verdwyn ons pyn en hartseer nie altyd nie, weet ons dit het nie mag oor ons nie. Hoekom? Want Jesus het selfs die dood se mag oor ons oorwin. Ons het ’n ewige lewe wat vir ons voorlê. God is daar saam met ons. Ons het altyd iets om na uit te sien, want niks kan ons oorwin nie. Nie as ons in Jesus glo nie. Ons glo en daarom is daar vir ons hoop. Ja, Jesus wil, Hy maak ook jou wat in Hom glo, heel!

(Ds Larry van der Walt is leraar in Gemeente Oos-Londen)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap