Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Kom ons stel onsself voor iemand wil leer dans. Siende dat hierdie iemand ‘n verstandige persoon is wat sake nugter en berekend aanpak, besluit die persoon dat die beste manier om te leer dans die regte manier is. Daarom gaan hy na ‘n boekwinkel, en koop ‘n boek oor dans. Per slot van rekening het hy ‘n boek gebruik om sy rekenaar te leer te werk, en nog weer ‘n ander boek om sy begro¬ting te laat klop. Dus: om te leer dans is al wat ‘n mens nodig het ‘n boek wat jou presies sê wat jy moet doen.
By die huis gekom, spring hierdie persoon aan die werk. Hy doen alles wat die boek sê hy moet doen. As die boek sê soontoe, dan beweeg sy voete soontoe. En as die boek sê hierdie kant toe, dan gaan die voete hierdie kant toe. En as die boek sê skuifel die voete en draai in die rondte, dan skuifel hy die voete en draai hy in die rondte.
Maar dit wil nie werk nie. Miskien sê hy, moet ek skoenspore uit papier op die vloer plak, en dan net die skoenspore volg, dan sal ek regkom. Maar ook dit wil nie werk nie. En maak nie saak wat hy probeer nie, alles voel so styf, so dood, en later besluit hy dat dans eintlik nie so lekker is as wat hy gedink het nie.
Hoekom, broers en susters, het hierdie man die kuns om te dans nie bemeester nie? Ek meen u weet wat die antwoord is: hy het van die musiek vergeet. Hy het al die reëls, al die passies bemeester, maar omdat hy dit nie op die maat van musiek gedoen het nie, wou dit nie werk nie.
Nou wil ek vanaand beweer, broers en susters, dat ons as Christene soms presies dieselfde doen as dit kom by ons verhouding met God, en meer in die besonder, hoe ons hierdie verhouding met God in ons lewens gestalte wil laat vind. Ons bemeester al die leerstellings uit die groot boek van die lewe, die Bybel, ons som sy hoofstukke op, debatteer sy reëls vir ‘n goeie en opregte lewe, en dan betree ons die dansvloer van die lewe so styf styf sonder musiek in die hart. Ons meet elke tree van elke dag, be¬reken elke skuif van die voete, oorweeg elke draai wat ons moet maak baie berekend, en val dan elke aand moeg in die bed, uitgeput deur nog ‘n dag se dans uit die boek wat God vir ons gegee het. Want dit was moeite. Dit was swaar. En bo alles: omdat hierdie saak vir ons dodelike erns is, slaap ons baie onrustig omdat ons nie seker is dat ons nie iewers dalk ‘n verkeerde passie of draai gedurende die dag gemaak het nie.
Om te dans sonder musiek, broers en susters, is harde werk, en Jesus het, by wyse van spreke, dit geweet. Daarom het Hy die aand voor sy dood sy dissipels voorgestel aan, wat ek vanaand ter wille van die beeld wat ons aan die begin gebruik het, wil noem die liedskrywer van die Drie-eenheid, die Heilige Gees: ‘Dit is tot julle voordeel dat Ek weggaan, want as Ek nie weggaan nie, sal die Voorspraak, die Heilige Gees, nie na julle toe kom nie; maar as Ek gaan, sal Ek Hom na julle toe stuur. En wanneer Hy kom, sal Hy bewys dat die wêreld skuldig is aan sonde, en dat die reg aan my kant is, en dat die oordeel al gekom het’.
Kom ons praat so ‘n bietjie hieroor voordat ons met die beeld aangaan wat ek hierbo gebruik het. As ek vanaand van u sou vra om iets te sê oor God die Vader, meen ek sal ons baie goeie en korrekte antwoorde kry. En as ek ander sou vra om te vertel wat Jesus vir ons gedoen het, glo ek sal ons ‘n nog meer volledige antwoorde kry. Maar as ek u sou vra om iets te sê van die werk van die Heilige Gees in ons lewe? Heel waarskynlik sal ons eers so ‘n bietjie keel skoonmaak en baie versigtig antwoord. En sal dit baie gou duidelik word dat die Heilige Gees die Een van die Drie-eenheid is wat ons die minste verstaan.
En miskien is die algemeenste fout wat ons maak in verband met die Heilige Gees, broers en susters, dat ons Hom sien as ‘n mag, ‘n mag sonder identiteit. En dit is eenvoudig nie waar nie, want soos die Vader en die Seun is die Heilige Gees ook ‘n persoon. Hy is nie ‘n dit nie, Hy is ‘n persoon. Want, leer die Bybel ons, die Heilige Gees het
- kennis (1 Kor 2:11);
- ‘n wil (1 Kor 12:11);
- het bedoelings (Rom 8:27);
- het lief (Rom 15:30);
- iemand kan vir Hom lieg (Hand 5:3-4);
- jy kan Hom beledig (Heb 10:29); en
- jy kan Hom bedroef (Ef 4:30).
Ek meen dat dit hieruit duidelik is dat die Heilige Gees ‘n persoon is. Wat meer is, broers en susters, is dat die Heilige Gees God in ons is om ons te help. Johannes noem Hom inderdaad dan ook ons Helper. Hoe help Hy ons?
Kom ons stel onsself voor hoe ‘n pa sy kind wil leer fietsry. Die pa bly langs sy kind, hou die fiets regop, en keer dat die kind nie omval nie. Die Heilige Gees doen presies dieselfde vir ons: Hy maak ons treë vas en seker. Maar anders as die pa, gaan Hy nooit weg nie. Die kind kan nog later vir sy pa wegry, maar so is dit nie met die Gees nie. Hy is altyd by ons, in ons, en sal by ons wees tot die einde toe.
Wat, broers en susters, doen die Gees vir ons?
- Hy vertroos ons. Johannes 16:7 stel dit so: ‘as Ek gaan, sal Ek Hom na julle toe stuur’.
- Hy oortuig ons dat ons vol sonde en daarom sonder God verlore is. Dit sê Jesus hier in Johannes 16:8: ‘En wanneer Hy kom, sal Hy bewys dat die wêreld skuldig is aan sonde, en dat die reg aan my kant is, en dat die oordeel al gekom het’.
- Hy deel ons die waarheid mee, dit wat reg en dit wat verkeerd is. Johannes 16:12-13: ‘Ek het nog baie dinge om vir julle te sê, maar julle sal dit nie nou begryp nie. Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei’.
Met ander woorde, broers en susters, Hy is vir ons die musiek van die lewe. Hy is die een wat ons wys waar ons verkeerd getrap of gedraai het. En hoe en waar ons behoort te trap en te draai.
Maar nou kan u sê: Maar is Johannes nie hier besig om vir ons te sê dat, omdat die Gees in ons woon, en ons alles leer, ons nie langer ‘n Boek, die Bybel, nodig het om die dans van die lewe te dans nie? Natuurlik nie, broers en susters. Die Gees het immers mense geïnspireer om die Bybel te skryf. En juis daarom lei, leer en vermaan die Heilige Gees ons nooit buite die Bybel om nie. Inteendeel. Die Heilige Gees gebruik juis die Woord om ons te leer hoe om te lewe.
Wat daarom baie belangrik is om raak te sien, broers en susters, is om te besef dat die Heilige Gees as ‘t ware die musiek (om weer ons beeld aan die begin te gebruik) in ons is. Romeine 8:10 stel dit mooi: `Omdat Christus in julle is, gee die Gees aan julle die lewe’. En wat meer is, ons het nie een of ander formule of buitengewone emosionele ervaring nodig om dit te hoor nie. Ook het ons nie een of ander vierpuntplan nodig om die werking van die Gees in ons lewens te leer ken nie. Al wat ons nodig het is die belofte van God dat die Gees ons sal troos, ons sal oortuig en ons in die waarheid sal lei.
Het die Gees al hierdie dinge vir u in u lewe gedoen? Dink ‘n bietjie na. Is u al ooit getroos? Het God al ooit vir u vrede gegee toe die wêreld vir u geweldige pyn veroorsaak het? Dan het u die musiek van God gehoor, die werking van die Gees in u lewe ervaar.
Was u al ooit oortuig? Het u al ooit werklik berou gehad oor iets wat u gedoen het? Dan het die Heilige Gees u aangeraak.
Of het daar al ooit ‘n nuwe waarheid vir u oopgegaan? Of het u al ooit ‘n ou beginsel nuut verstaan? Of het u al ooit ingesien dat u, wat sekere sake betref, nuut en anders moet begin lewe? Dit was die Heilige Gees wat hierdie nuwe waarheid, hierdie nuwe en ander lewenswyse, aan u bekend gemaak het.
Met ander woorde, broers en susters, die Heilige Gees is al lankal aan die werk in ons harte en lewens. Ons het al lankal, miskien sonder om dit te besef die musiek van God in ons harte gehoor, en daarvolgens ons treë in die lewe gegee.
Ek wil vanaand beweer, broers en susters, dat vir gelowiges wat werklik wil lewe soos God vra, hierdie eintlik wonderlike nuus is. Dit is baie makliker om die seile van ‘n boot te span as om self teen die wind te probeer roei. En dit is baie makliker om gehoorsaam voor God te lewe wanneer ‘n mens na die Gees luister, as om self te besluit wat reg en verkeerd is.
Mag ons elkeen, broers en susters, veral hier waar ons nou die Pinkstertyd nader, meer en meer sensitief raak vir God se musiek in ons lewens, vir die Heilige Gees se leiding in ons lewens. En laat ons werklik daarna streef om die Heilige Gees, wanneer Hy ons wil troos en lei, nie te bedroef of te weerstaan nie.
Amen