Broers en susters en kinders in onse Here Jesus Christus: 
Die gedeelte wat ons vanoggend saamgelees het, staan bekend as `die teks met die groot probleem’ in die Johannesevangelie. Hoekom? Omdat, broers en susters, dit lynreg bots met die bekende Pinksterverhaal wat ons in Handelinge 2 kry. ‘n Verhaal wat dit baie duidelik stel dat God eers, nadat Jesus na die hemel opgevaar het, sy Gees aan die gelowiges gegee het. In Johannes egter, gebeur dit totaal anders: na Jesus uit die dood opgestaan het, en voordat Hy na die hemel opgevaar het, vertel Johannes ons, het Jesus die Heilige Gees oor sy dissipels uitgestort. Vandaar die uitspraak oor hierdie teks as `die teks met die groot probleem’: Johannes bots lynreg met die verhaal van Handelinge 2.

Logies is daarom dan ook al baie verklaringe aangebied om hierdie probleem te verklaar. Ek noem u ‘n paar sonder om hulle (bloot weens ‘n gebrek aan tyd/die ingewikkeldheid daarvan) volledig te bespreek: die vers moet simbolies verstaan word (d w s, dit sê een ding maar bedoel iets anders), dit moet gesien word as ‘n voor-Pinkster salwing van die dissipels (as gevolg van hulle bevoorregte posisie), of dat ons hier te make het met Johannes se weergawe van die Pinkstergebeure soos beskryf in Handelinge 2.

Ek meen egter, broers en susters, dat Johannes hier iets anders wou doen, en met hierdie vers iets anders wou sê, en wel die volgende: Johannes wou die eenheid van die werk van Christus beklemtoon, en in die besonder die eenheid van die werk van Christus en die Heilige Gees. Want kyk wat het ons alles in hierdie kort paar versies: ons het ‘n verwysing na die vleeswording van Jesus, die feit dat God sy Seun na die wêreld gestuur het (vers 21), tweedens het ons ‘n verwysing na Jesus se kruisdood (vers 20), ‘n verwysing na Jesus se opstanding (vers 25), en ‘n verwysing na Pinkster (die uitstorting van die Heilige Gees; vers 22). Met ander woorde, Kersfees, Goeie Vrydag, Paassondag en Pinksterdag alles saam in een toneel.

Hoekom, broers en susters, is die volgende logiese vraag, voeg Johannes hier alles so saam? Omdat Johannes bang was dat mense in sy gemeente, en dus ook ons, die fout sou maak om die werk van Jesus Christus en die werk van die Heilige Gees uitmekaar te haal. Want vir Johannes, regdeur sy evangelie, is die werk van Jesus Christus en die werk van die Gees baie nou aan mekaar verbonde. ‘n Paar voorbeelde (en ek parafraseer of vertaal baie vry):

Johannes 6:63 
Ek maak lewend, en die Gees maak lewend, Ek gee lewe en die Gees gee lewe.

Johannes 7:39 
Die Gees bring die geloof in Christus

Johannes 14:15-16 
Ek is nou by julle, wanneer Ek weggaan sal die Gees by julle wees; wie My ken ken die Gees van God.

Johannes 14:25 
Wanneer Ek weggaan sal die Vader die Gees stuur om julle alles van My te leer en julle te herinner aan wat Ek geleer en gedoen het

Johannes 16:13-15 
Ek is die weg, die waarheid en die lewe, wanneer Ek weggaan, sal die Gees julle verder in die waarheid lei; wat Ek aan julle verkondig sal die Gees aan julle verkondig; alles wat aan my Vader behoort, behoort ook aan die Gees.

En so kan ons die voorbeelde opstapel. Maar ek meen die saak is baie duidelik: vir Johannes is al God se werksaamhede een geheel, daar is ‘n onlosmaaklike verband tussen die werk van Jesus en die werk van die Heilige Gees. ‘n Verband wat ons miskien in baie kort soos volg kan uitdruk: die werk van die Gees is om die werk van Christus voort te sit, deur in die besonder die opstanding van Jesus te verkondig, te verkondig dat in die opstanding ‘n nuwe lewe aangebreek het: die dood is deel van die ou lewe, dit is oorwin, die prys daarvoor is betaal, en nuwe vrede is nou gestig. Die vrede waarvan die engele gesing het by Jesus se geboorte, het nou ‘n realiteit geword. Alles in hierdie wêreld is nou vir goed verander, die wêreld is onomkeerbaar op ‘n nuwe baan geplaas, vrede het deurgebreek tussen God en die mens. En nou kan ons lewe, want Jesus lewe! En hierdie lewe wil die Gees aan ons skenk deur die geloof. Die werk van Jesus en die werk van die Gees is onlosmaaklik aanmekaar verbind. En dit, sê Johannes, is die betekenis van Pinkster.

En dan gaan Johannes aan, broers en susters, deur ook iets hier te sê oor die doel van Pinkster. Die doel van Pinkster, sê hy, is die volgende: God het ‘n plan met die mens, God wil die mens red, Hy wil hê dat die sondaarmens sal glo en lewe. Die eerste deel van hierdie plan, sê Johannes, die lyding, kruis en opstanding (dit wil sê, die gee van die lewe) het God alleen in Jesus gedoen. Wanneer ons egter by die tweede deel van God se plan kom, die deurgee van hierdie lewe, maak God nou van die mens gebruik. Van u en van my. Ons word deel van God se plan.

Nou is dit seker net logies, broers en susters, dat wanneer Johannes hierdie saak so stel, ‘n mens dadelik wil terugdeins. Ons kan mos nie doen wat Jesus gedoen het nie?, is gewoonlik ons eerste reaksie. Maar ook: hoekom juis ek Here? Daar is so baie ander. Daar is immers die dominees, die ouderlinge, die diakens, die mense wat hiervoor kans sien, hulle vir wie dit in die wieg gelê is. Maar net nie ek nie. Want eerstens kan ek nie, en as ek nog sou kon, u weet, die tyd Here, ek het nie tyd nie.

Johannes antwoord al hierdie vrae, broers en susters, wanneer hy nie alleen klaar iets gesê het oor die betekenis en doel van Pinkster nie, maar nou ook iets sê oor die wonder van Pinkster. Die wonder van Pinkster, sê Johannes, bestaan ten minste uit twee dinge: eerstens, dat God ons nie wil gebruik sonder om ons toe te rus nie. Daarom blaas Hy oor die dissipels, en by implikasie ook oor ons en sê: ontvang die Heilige Gees. Hy sal julle toerus, Hy sal julle help en bystaan. Julle is nie alleen nie, Ek is by julle.

Die wonder van Pinkster, sê Johannes is tweedens dat ons opdrag baie maklik is. Begin, sê Johannes, deur net een ding te doen: gaan verkondig met woord en daad dat julle sondes vergewe is, dit wil sê, vertel van die nuwe lewe, maar lewe dit ook deur ander te vergewe.

En maak nou nie saak wat ons hieroor wil sê nie, broers en susters, Johannes is hier baie, baie duidelik: die Here het ‘n groot deel van die uitdeling van die heil oorgegee aan mense soos ons. En dit help nie dat ons net weet dat God in baie mense se lewens ‘n verskil kan maak nie. Ons moet ook besef dat God dit nie altyd direk doen nie, maar ook indirek, deur mense soos u en ek. En daarom gebeur eintlik die ongelooflike: die deur Christus verworwe vergifnis word in ons hande gegee om dit aan ander te gee. En so word die plan van God voltooi: God gee sy Seun, sy werk word voorgesit deur die Gees, en onder leiding van die Gees sit ons dit nou voort.

Is dit nie ‘n geweldige voorreg nie, broers en susters? Kan iemand, wat hierdie opdrag verstaan, werklik nog sê daar is geen sin in die lewe nie, niks oor om voor te lewe nie? En goed, kom ons sê dadelik hierby: dit is nie altyd maklik nie — dit is eenvoudig waar. Maar dit neem nie weg dat ons hier ‘n geweldige voorreg van God ontvang het nie. Al is dit soms moeilik. Al voel ons ook soms soos die dissipels: bang, alleen, moedeloos, wanhopig.

Maar dit weet die Here. Daarom gee Hy ons sy Gees, die Parakleet, soos Johannes die Gees noem — die een, sê Johannes, wat ons wil troos, bystaan, help, krag gee, en in alle moeilike en onmoontlike situasies by ons is en by ons bly.

‘n Laaste gedagte: Johannes sê dat Jesus oor die dissipels geblaas het toe Hy aan hulle die Gees gegee het. Dit herinner sterk aan sowel Genesis 2:7 en Esegiël 37:1-14 waar die blaas wek tot die lewe. Met ander woorde, alles wat Christus kom doen het, het te make met lewe. Alles wat die Gees doen en wil doen, het te make met die lewe. Of kom ons sê dit anders: die kerk se besigheid is lewe. En op Pinksterdag wil God hierdie lewe weer in ons indra en ons so vul daarmee dat dit oorloop na ander.

Waar u en ek dus so optree dat ons doodmaak (deur ander af te breek, af te kraak, seer te maak, nie erkenning te gee nie, te vermy, te ignoreer, af te takel, noem maar op), daar doen ons nie die werk van God en van sy kerk nie. Daar sê ons dat ons nog nooit van Pinkster gehoor het nie, dat ons ook nie die lewe het nie. Want wie dit het, sê Johannes, sal ook lewe gee. Dit is immers die boodskap van Pinkster. 
Amen

Share via
Copy link
Powered by Social Snap