Lewensloop
1485 Gebore op 24 Junie in Wollin, Noordoos-Duitsland
1504 Skoolhoof in Treptow/Rega
1509 Priesterwyding
1512 Bestudeer Erasmus van Rotterdam op sy eie
1517 Lektor by die klooster Treptow/Belbuck
1520 Bekering tot die Reformasie
1521 Verhuis na Wittenberg in Maart
1522 Trou met Walburga (van onbekend)
1523 Predikant van die Stadskerk in Wittenberg
1524 Publiseer ʼn Psalm-kommentaar
1528 Kerkorde vir Braunschweig
1529 Kerkorde vir Hamburg
1531 Kerkorde vir Lübeck
1533 Promoveer en word die “biskop van die Reformasie” genoem
1535 Kerkorde vir die hertogdom Pommern
1539 Kerkorde vir Denemarke en stigting van die Universiteit van Kopenhagen
1542 Kerkordes vir Hildesheim, Braunschweig-Wolfenbüttel en Schleswig-Holstein
1546 Ná Luther se dood word hy die leier van die Reformasie
1558 Sterf op 20 April in Wittenberg
Lewensverhaal en bydrae tot die Reformasie
Johannes Bugenhagen of Doctor Pomeranus soos hy later bekend sou staan, was saam met Martin Luther en Philipp Melanchthon die hooffigure van die Wittenbergse Reformasie. Dit is vanselfsprekend dat hy in hierdie leksikon opgeneem word. Die eerste 35 jaar van sy lewe was tipies van ʼn begaafde persoon in die laat-Middeleeue. Die laaste 38 jaar sou hy hom nooit kon voorstel nie.
Bugenhagen is op 24 Junie 1485 in Wollin, ʼn eilanddorpie in die noordooste van Duitsland (bekend as Pommern) gebore. Hy is op dieselfde dag gedoop en het die naam van die heilige van daardie dag as naam ontvang. Sy vader was die burgemeester van die dorp. Sy moeder was afkomstig uit die stad Greifenberg. Hy het twee susters en ʼn broer gehad. Daar is feitlik geen inligting oor sy kinderdae beskikbaar nie. Wat vermoed word, is dat hy ʼn goeie skoolopleiding moes gehad het aangesien hy reeds op 24 Januarie 1502, op 16-jarige leeftyd, aan die Universiteit van Greifswald geregistreer het vir die algemene voorstudie, wat verpligtend was voordat iemand in ʼn bepaalde rigting kon spesialiseer. Hy verlaat die Universiteit reeds in 1504, ná voltooiing van die eerste graad, om die rektorspos aan ʼn skool in Treptow oor te neem. Hy sou hierdie pos vir bykans 17 jaar beklee. Talle leerlinge uit ander gebiede van Duitsland en Pole het hierdie skool besoek, onder andere omdat Bugenhagen die uitleg van Bybelse boeke in die skoolleerplan opgeneem het.
In 1509 word Bugenhagen tot priester gewy. Hy moes ʼn magdom selfstudie in Bybelse eksegese, die tale en filosofie gedoen het, aangesien hy nie formeel aan ʼn universiteit ingeskryf was nie. Volgens korrespondensie met Johannes Murmellius (ʼn humanis uit Münster) in 1512, het hy Erasmus van Rotterdam se geskrifte op sy eie bestudeer.
In 1517 word hy beroep as dosent in eksegese en teologie aan die priesterskool by Treptow. Hy word ook deur hertog Bogislaw X persoonlik gevra om ʼn boek oor die geskiedenis van die “provinsie” Pommern te skryf. In Mei 1518 lê hy sy voltooide Pomerania aan die hertog voor. Dié geskiedenishandboek was uiteindelik ʼn kroniek oor hierdie gebied tydens die Middeleeue. Hy het ná afhandeling van die opdrag tyd gehad om as lektor aan die Konvent van Belbuck aandag te gee aan die Bybelse eksegese. Hy gee aandag aan die Psalms, Paulus en Matteus. In 1520 skryf hy ʼn “harmonie” oor die kruisiging en opstanding van Christus. Wat hy gedoen het, was om die verskillende weergawes tot een verhaal te verwerk sodat dit in gemeentes gebruik kon word gedurende die Paasnaweek. Hierdie werk het 80 uitgawes beleef – die meerderheid in Nederduits en Latyn. Selfs die Reformatoriese gemeentes sou later hierdie boekie vir meer as ʼn eeu gebruik.
In 1520 ondergaan Bugenhagen ʼn Reformatoriese wending nadat hy Luther se geskrif oor die Babiloniese Gevangeskap van die kerk. ʼn Voorspel gelees het. Hy oortuig al sy kollegas by Treptow/Belbuck om hulle agter Luther te skaar. Só het hierdie klein priesteropleiding een van die eerste opleidingsinstansies geword wat die dwalinge van die Roomse Kerk ingesien het.
In Maart 1521 verlaat die 36-jarige sy beskermde omgewing en verskuif hy na Wittenberg om dáár teologie te studeer. Op 29 April 1521 registreer hy aan die Universiteit. Tot sy teleurstelling moes hy hoor dat Luther nie in Wittenberg was nie en dat hy die lesings van Melanchthon en Andres Bodenstein von Karlstadt moes bywoon. In dieselfde jaar het hy ʼn privaatdosent geword wat lesings oor die Psalms vir sy “landgenote” aangebied het. Die getalle het só gegroei dat Melanchthon aan hom ʼn universiteitslokaal moes gee om almal te akkommodeer. In November 1521 het hy as dosent (sonder betaling) aan die Universiteit begin met lesings oor die Psalms. In 1524 is hierdie lesings in boekvorm gepubliseer, met ʼn voorwoord en nawoord deur Luther en Melanchthon. Teen 1544 het hierdie kommentaar tien oplae gehaal en is dit uit die Latyn in Duits en Nederlands vertaal. Nie eens ʼn kommentaar van Luther het soveel oplae beleef soos hierdie Psalmkommentaar van Bugenhagen nie. Ander geskrifte van Bugenhagen, soos sy De peccato in spiritum sanctum (“Oor die sonde teen die Heilige Gees”) in 1523, het ook vinnig bekend geraak buite Wittenberg. Die universiteite van Erfurt, Hamburg en Danzig het, sonder sukses, probeer om hom met groot salarispakkette uit Wittenberg weg te lok. Met Luther se terugkeer vanaf die Wartburg in 1522, het ʼn hartlike, lewenslange vriendskap tussen die twee manne ontstaan.
In Oktober 1522 trou hy met Walburga (haar van is nie bekend nie), ʼn vrou 15 jaar jonger as hy. Die egpaar het agt kinders gehad, waarvan slegs drie dogters en ʼn seun volwassenheid bereik het.
In 1523, ná die afsterwe van die stadspredikant Simon Heins, het die gemeente Bugenhagen as predikant (met ʼn traktement) beroep. Johannes en Walburga Bugenhagen het op hierdie wyse die eerste Protestantse pastoriepaar geword. Die ou pastorie is onlangs gerestoureer en omskep in ʼn nasionale gedenkwaardigheid.
Foto (bo): Standbeeld van Bugenhagen voor die eerste Protestantse pastorie in Wittenberg
Bugenhagen het talle beroepe, selfs as biskop, na talle stede ontvang, maar almal van die hand gewys aangesien hy homself as die “biskop van die Reformasie” gesien het. Alhoewel hy nooit die titel gedra het nie, het almal hom as die “pastor van die pastors” gerespekteer. Hy het Luther in die eg verbind, was sy biegvader en herder, en het hom uiteindelik ook begrawe.
Naas al sy gemeentewerk, het hy voortgegaan met navorsing en publikasies. In 1526 het hy ʼn invloedryke werk, Oor die Christelike geloof en die regte goeie werke, geskryf. Hy het Luther ondersteun in die gesprekke oor die Nagmaal met die Switsers, en hom bygestaan in 1527 toe hy weens uitputting byna gesterf het. Hy was ook aan sy sy tydens pesepidemie van 1527/28.
Vanaf 1528 het Bugenhagen ʼn nuwe verantwoordelikheid bygekry. Hy moes kerkordes skryf vir die Protestantse gemeentes. Dít het hy met groot onderskeiding gedoen. Aanvanklik was die kerkordes bedoel vir gemeentelike gebruik. Met die uitbreiding van die Reformasie het ʼn behoefte ontstaan aan kerkordes vir stede, gebiede en “provinsies”. Elke kerkorde het drie hoofafdelings gehad, naamlik die gestaltegewing van die erediens, die Protestantse skoolwese en die diakonaat. Die skryf van die kerkordes het meegebring dat Bugenhagen vir lang tye op ander plekke moes gaan woon en werk. In sy afwesigheid het Luther die meeste van sy preekverpligtinge oorgeneem. Dít was onder andere die rede hoekom Luther meer as 2 000 keer in die Stadskerk van Wittenberg gepreek het. Die eerste en belangrikste kerkorde wat Bugenhagen geskryf het, was die een van die stad Braunschweig. In Oktober 1528 volg die kerkorde van Hamburg. Tussen Oktober 1530 en April 1532 woon hy in en werk hy aan ʼn kerkorde vir die Noord-Duitse stad Lübeck. In hierdie tyd vertaal hy ook die Lutherbybel in Nederduits en skryf hy ʼn boekie, Oor die kelkdiewe (gerig teen die Roomse Kerk wat nie die Nagmaalbeker met die gewone lidmate deel nie). In 1533 promoveer Bugenhagen in die teologie, en word hy aangestel as ʼn voltydse lid van die Fakulteit. In 1534 word die hele streek rondom Treptow Protestants (in Duits word van “evangelies” gepraat), en Bugenhagen skryf ʼn kerkorde nadat hy visitasie in die gebied gedoen het. In 1535 word dit opgevolg met ʼn kerkorde vir die hele Pommerse gebied. In 1537 roep koning Christiaan III van Denemarke hom na Kopenhagen. Dáár bly hy vir twee jaar, neem deel aan die kroning van die koningspaar, help met die statute van die nuwe Universiteit van Kopenhagen, en skryf vir die Dene ʼn kerkorde. Die Deense koningshuis is tot vandag toe eng aan Wittenberg verbonde. Die Deense koningin het byvoorbeeld ʼn prominente rol tydens die jubileum van 2017 gespeel. In 1542 volg kerkordes vir Holstein, Braunschweig-Wolfenbüttel en Hildesheim.
Ná Luther se dood het Bugenhagen die leier van die Reformatoriese beweging geword. Hy sterf op 20 April 1558 op 72-jarige ouderdom, en word in die Stadskerk begrawe waar hy 34 jaar lank predikant was.
Daar bestaan ʼn uitgawe van Bugenhagen se werke onder die titel Biblioteca Bugenhageniana, ʼn uitgawe van sy versamelde briewe, asook van sy geskrifte in die Nederduitse taal. Bugenhagen is ongelukkig ʼn onbekende teoloog vir Afrikaanssprekendes. Ek hoop dat iemand moeite sal doen om sy Nederduitsche geskrifte en vertalings op te diep en aan ons bekend te stel. Ons is in taalverwantskap nader aan Wittenberg as wat ons dink.
Literatuur gebruik
Gummelt, V., 2014, “Johannes Bugenhagen (1485-1558)”, in I. Dingel & V. Leppin (Hrsg.), Das Reformatorenlexikon, pp. 74-81, Wissenschaftliche Buchgesellschaft, Darmstadt.
Lorentzen, T., 2015, s.v. “Bugenhagen, Johannes”, in V. Leppin & G. Schneider-Ludorff (Hrsg.), Das Luther-Lexikon, pp. 129-130, Bückle & Böhm, Regensburg.