Daar was ’n tyd toe getuienisse by gewyde byeenkomste gewild was; nie soseer in die tradisionele gemeentes van die Hervormde Kerk nie, maar ons almal ken die stories wat mense kom vertel het.
Daar was ’n vaste patroon aan sulke getuienisse. Eers is vertel van die lewe in sonde, dan van bekering, en daarna die nuwe, veranderde lewe. Later was daar selfs opleiding vir hoe om dit reg te doen, want soms het sulke getuienisse geklink of die verteller terugverlang na die goeie ou slegte dae toe sonde vrye teuels gehad het. Ons wat luister, het al begin kwyl oor die lekkerte van sulke sonde; dit het gevoel óns mis iets. Die getuie was dikwels die antiheld van die storie: Die sonde is met lus gedoen, en die afskeid daarvan was heldhaftige offerbereidheid.
Die meer besadigdes het nie aangrypende bekeringsverhale gehad om te vertel nie, maar hulle hét ons skuldig laat voel dat ons nie ook ’n dag en ’n datum het waarna ons kan verwys as die oomblik toe ons weer gebore is, of ons harte vir die Here gegee het nie. Die opleiding was nodig vir fokus: Die getuienis is tog oor God mos, nie oor ons nie!
Sulke getuienisse het so ’n bietjie van hul glans verloor, maar dit sou tog jammer wees as ons heeltemal sonder ’n eie storie sou sit oor waar ons geloof vandaan kom en waarheen ons dink God met ons op pad is. Selfs die Bybel preek in stories. Lees gerus weer Paulus se storie in Handelinge 22.
’n Gelowige moet sy storie ken. Tragies, dan, dat ons nie meer van ons eie geloof oorsprong- en wordingstories het nie, dat ons nie meer weet of dink aan waar ons geloof vandaan kom nie; hartseer dat ons nie kan vertel hoe ons God ontmoet het, hoe ons God leer vertrou en liefkry het, en wat ons agtergekom het God in ons lewe doen nie; en teleurstellend ook dat ons nie stories het van ons gestoei met God nie, en van die kere toe ons vermoed het ons sonder God moes klaarkom; hartverskeurend dat ons nie ’n eie storie het van waarheen God met ons op pad is nie. Ons het geestelik verarm.
Sulke stories oor die begin van ons geloof, die groei van ons geloof en die uiteinde van ons geloof, is van die lewe die basisverhaal; al die ander stories haak daaraan. Die verhaal van ons eie belewenis van God is ons anker. Op grond van jou eie storie, sou jy kon sê jy glo, nie meer net op grond van wat ander ouens jou vertel het nie, maar uit wat jy self ondervind het. Al sou dit soms geklink het of sulke getuienisse hulle in vergane sonde verlekker het, is om jou eie sonde op die naam te ken, tog ook goed, en is jou destydse opstanding daaruit ’n les vir die verstellings wat jy vandag weer en aanhoudend aan jou lewe moet aanbring. ’n Eie storie laat jou besef dat van alle bekering en hervorming, verandering onderliggend is. Jy sal daardie verandering verwelkom, omdat jy daarby baat vind. Jou verhaal sal nuttige geestelike gereedskap word wat jou sal help kers vashou in donker tye.
Daar lê die knoop, nè: by “verandering”. Verandering is galbitter. Verandering doen jy altyd net onder druk en dreigement van dood. Jy kán verandering vervang met woorde soos vernuwing, regstelling, hervorming en ’n hele rits ander wat meer strelend op die tong is, maar die kern van die saak is tóg verandering. As ons weersin teen verandering só diep lê, is ons regtig eerlik as ons in die kerk saampraat oor opstanding, herrys en herlewe, bekering en weergeboorte? Dit is dan alles verandering! Ons hoor dit, want dis kerkspraak, maar verandering doen ons altyd net onder druk en dreigement van dood. Verandering is ons heel laaste opsie, en God se eerste.
Wat ís jou storie? Waarheen dwaal jou gedagtes as jou denke vasloop en jy probeer onthou wat gehelp het toe jy laas in so ’n diep gat was? Gelowiges hoef nie hieroor ’n storie uit die duim te suig nie. Dink net aan ’n keer toe God jou kom optel en weer op jou voete neergesit het.
Ken jou storie. Jou storie is wat jou aan die gang hou. Die dag as jy geloof in jou eie storie verloor, is jy regtig in die duister, stokblind. Jy móét jou storie kén.
Gaan bedink weer jou storie. Maak joune ’n opstandingsverhaal. Onthou jou herkoms, en hoekom jy nou hier is, en kyk mooi of jy nog op koers is. Is jy soos Paulus op pad Damaskus toe, bid dat ’n Ananias jou daar ontmoet, en maak seker jou storie sluit in dat jy Jesus langs die pad teëkom. Kyk uit vir Hom.
Hou wel deeglik rekening met die opgestane Here Jesus Christus, en verwag jou eie opstanding.
(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)

Die Hervormde Kerk was nog nooit ontvanklik vir persoonlike getuienisse nie. Derhalwe vertel ek my persoonlike geloofstories aan my charismatiese familie en vriende. Ken ook die maand en jaar dat ek my lewe aan die Here gewy het en wat daarop gevolg het tot vandag.