Maar die Here sê vir hom: “Kom uit, en gaan staan op die berg voor My, die Here, Ek wil verbygaan.” Skielik was daar ’n baie sterk wind wat die berg stukkend geruk en die rotse gebreek het voor die Here. Maar in die wind was die Here nie. Na die wind was daar ’n aardbewing. Maar in die aardbewing was die Here nie. Na die aardbewing was daar ’n vuur. Maar in die vuur was die Here nie. En na die vuur was daar ’n fluistering in die windstilte. (1 Konings 19: 11-13, AFR1983)
Met Jesus se hemelvaart was een van die groot vrae: Waar is Hy nou? Saam met hierdie vraag het ook ander vrae gekom: Hoe kan ons na Hom luister? Hoe klink God se stem?
Vandag in 2023 is dit reeds en dalk meer as ooit die vraag van gelowiges. ’n Groot deel van gelowiges se twyfel en worsteling lê agter hierdie soeke na God se stem. Hoe is God hoorbaar?
Hierdie vraag en soeke vind dan ook nog baie keer plaas in die konteks waar daar uit ander se monde baie duidelik gespreek word: Die Here het vir my gesê. Dan voel ons nog meer onseker, verward en selfs geestelik minderwaardig.
1 Konings 19 nooi elkeen van ons uit om wel te luister… in die stilte. In die Ou Testament is daar ’n verloop in die hoorbaarheid van God se stem. Daar is momente waar God se stem duidelik hoorbaar is in ’n sigbare Onmisbare. God praat in sekere Bybeltekste helder, verstaanbaar en duidelik soos in die vertelling oor die brandende bos. God en Moses sit saam op die berg… God dikteer… Moses skryf neer.
God is die Een wat die volk Israel – sigbaar – vergesel in die woestyn. Dit gebeur deur natuurverskynsels en daar is geen onsekerheid oor God se stem nie. God is self aan die woord.
In 1 Konings 19 verander die klank van God se stem. Elia is die een wat in hierdie Skrifgedeelte ’n ander vorm van God se manier van praat ervaar: nie meer soos voorheen in natuurverskynsels soos aardbewings en stormwinde nie. Inteendeel: Elia ervaar en hoor die taal van stilte… die stil waai van die wind.
Luister jy, dan hoor jy. Luister jy nie, wel, dan het die oomblik jou verbygegaan.
God is teenwoordig in die tempel in latere tekste, maar hoe gemaak as die tempel vernietig word? Of wanneer die volk in ballingskap weg van die tempel moet leef en bestaan? Mense soos profete en priesters word dan later die draers van so sê die Here. Hulle word die woordgewers en die medium van God se stem.
In die boek Ester is God teenwoordig, maar glad nie “direk” nie. Nooit word God se Naam genoem nie, nêrens is iemand wat namens God praat nie.
Ons kom uit die Bybel agter dat God se stem anders is. Hoe anders was God se stem nie in die “Logos” (Jesus) nie. Hierdie Woord was so anders en vreemd, dit word stilgemaak aan die kruis.
Die stem van God is vandag nog hier, maar anders hoorbaar. Soms selfs so onindrukwekkend soos ’n enkeling in die binnekamer. Kan jy dit hoor? In die stilte…
In die stiltes
in die skuil tussen stiltes
in die heilige wind
in die skuil tussen stiltes
daar sal Hy jou vind
met balsem en olie
en ewige wyn
waar angste van dolheid
in die eenkant kom kwyn
in die skuil tussen stiltes
is woorde van hoop
is dit moontlik om weer
jou siel terug te koop
(Koos van der Merwe)
