Skryf dit op jou hart: Daar is niemand wat jy nie sou kon liefkry nie as jy hul storie sou ken. (Mary Lou Kownacki)

Ken jy jou familie, en ken hulle jou?

Ek praat nou nie van die kerngesin nie. Natuurlik ken gesinslede mekaar gewoonlik heel goed: mekaar se swakpunte, sterkpunte, voorkeure, renonse… Maar wanneer daar baie gesinslede is, en die ouderdomme van die oudste en die jongste baie jare, ja selfs meer as 20 jaar verskil, raak die bewussyn en kennis van mekaar moontlik minder skerp.

Later raak so ’n groot gesin versprei oor die wêreld, raak die kontak minder, weet hulle al hoe minder van mekaar.

Totdat daar op ’n dag ’n begrafnis is van ’n ouer familielid, en dié persoon se kinders (wat jy nog goed onthou) en kleinkinders (wat jy skaars van geweet het) en agterkleinkinders (wat nou net die ene laggende gesiggies en babageluidjies is) kruis jou pad.

Kyk goed, luister fyn, en jy sien die ooreenkomste. Jy hoor van enerse belangstellings, oorvleuelende karaktereienskappe, name afgelei van dié van die stammoeder of -vader. Daardie een en daardie een en nog meer sing baie mooi. Kyk hoeveel rekenkundiges! En almal die eienskap van (te) hard werk. Dié klomp is wêreldreisigers, daardie fanaties oor die een of ander saak… Sjoe, en dié paar lyk dieselfde!

En die woorde van Phillips Brookes kom by jou op: Die aard van jou karakter word in groot oomblikke vir die wêreld sigbaar, maar dit word in talle klein oomblikke gevorm.

Die besef van gedeelde en oorvleuelende eienskappe vul jou met verwondering en dankbaarheid, maar ook met onuitspreeklike droefheid: Ons gaan mekaar nooit almal werklik ken nie, nooit die onsigbare drade van die familieweb ontrafel nie.

Sê iemand nou die dag by so ’n begrafnis: Die eerste groot boom het in ons laning geval. Ek luister maar net, dink aan hoe min bome nog in mý familielaning bly staan. Sien opnuut hoe ontbloot die landskap kan lyk as ’n groot boom val…

Stap ek deur die gange van ’n tuiste vir bejaardes, kom sit die knop in my keel oor my ma se laaste jare in so ’n tehuis. En ek sien die beaarde hande, die soekende oë, die verlange, en ek wonder: Hoeveel van die eensames se kinders, kleinkinders, agterkleinkinders ken hul ouers en grootouers nog werklik? Wie weet of onthou die talle klein oomblikke van dié lewe? Die boeke gelees, die musiek geluister, die baie klein en groter liefdesdade verrig? Hoe hulle hul kinders grootgemaak het, hul kinders van die Here geleer het, mekaar bygestaan het in die daaglikse klein en groter krisisse?

By die troosdiens na ’n geliefde se afsterwe word soms staaltjies gedeel oor die persoon se lewe en persoonlikheid. Almal luister, glimlag gepas, maar weet en verstaan nie altyd waaroor die bohaai gaan nie. Snap nie altyd die invloed en impak en betekenis van die kleiner en groter dinge wat gedeel word nie.

Ja, soms is daar groot erflatings, en dan onthou die jongeres sekerlik die voorouers aan wie die plaas of besigheid of huis of geld eers behoort het. Maar daar waar daar nie so baie besittings en eiendom was nie, daar waar ’n ouma uit die bietjie wat sy gehad het haar kleinkinders oorlaai het met handgemaakte speelgoed, gediggies in groetekaarte, pragtig gebreide en omgehekelde komberse – daar waar dit wat nagelaat is eintlik maar die liefde en die omgee was – onthou hulle dit nog?

Vertel jou kinders en kleinkinders van die oumas en oupas wat nagte om gebid het vir hul geliefdes, wat almal een vir een elke dag opgedra het aan hul Heer. Deel met hulle die liefdesgebare, hoor hoe hulle onthou van Ouma se veerligte gebak en die donssagte ’bersies. Laat hulle praat oor die sorgvrye dae op ’n plaas, saam met Oupa, by die dieretuin, by die see…

kind
mý kind
onthou jy nog daardie dag by die see
toe die bloublasie jou gebrand het
en selfs die roomys nie veel troos kon gee

sien jy nog die wit wolke dryf
luilekker deur die blou lug
en die son en die reën wat sáám
oor die geilgroen grasperk lê

onthou jy nog?

Ja, die liefde, getrou tot in die dood. Die dood kan nie dít doodmaak wat nooit kan sterf nie, naamlik liefde, en die gebede wat eenmaal gebid is. (William Penn)

Die liefde is oneindig. Dit het geen oorsaak en geen einde nie; dit stroom deur alle tye heen en verander slegs van lippe en hande. (Pablo Neruda)

Uiteindelik kan ons maar net sê:

Ken jouself! (Sokrates)

Wees jouself! (Sigmund Freud)

Géé jouself! (Jesus Christus)

 

(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap