Daar is deesdae min plek of respek in die wêreld vir ’n kerk wat met die werklikheid rekening hou.

Daar word veel gewag gemaak daarvan dat die kerk haarself teenoor die heersende kultuur moet verset, die gangbare diskoers moet ontwrig en kulturele reste in die godsdiens moet ontsetel. Sosiale geregtigheid vereis dit glo, want die ganse bestaande samelewing is ’n tirannie van diepgewortelde magte wat weerloses sou vertrap. In die wêreld, en nie van die wêreld nie, mos! Geloof het aktivisme geword, die evangelie ’n sosiale agenda.

Ons het oorgenoeg ondervinding van die teenpool, dat ’n kerk haarself in kultuur kon dompel en daar byna verdrink. En dan leef ons ook nou nog in protes teen ’n kerkkultuur wat so wêreldvreemd was dat liturgie jou ’n droomwêreld kon laat verbeel, iewers op ’n trappie tussen hemel en aarde.

Maar ’n kerk wat die werklikheid van God én mens verreken, is nie meer gewild nie. So ’n kerk is die Here s’n, en neem altyd stelling in teen menslike sonde en oormoed, selfs dié ou koeie wat met die mooiste heiligheid vermom is. God is gans anders, en God se kerk is ook anders genoeg dat profeties teen gangbare afgodery getuig kan word. Net so sit die kerk wat in Christus glo, willens en wetens vol mense, sondaars in murg en been ja, maar gelowige mense wat God opreg wil dien, dog nooit heeltemal sal kan loskom nie uit die tydgees en wêreldbeeld wat tans lewensbeskouing rig.

Die toutrekkery tussen God en mens is nie net boeresport en kanselpraatjies nie, dit raak almal.

Hier by ons in die Laeveld, waar dit selde koud word, speel-speel ons die winter begin met Hemelvaart. Ons hou dié Donderdagaand ons enigste aanderediens in die jaar. Daarna eet ons sop, en geniet ’n sopie of wat sjerrie. Niemand het nog daarvan iets oorgekom nie, en nog nooit is daarna van huismoles gekla nie. Want die meeste van ons het ’n bottel vuurwater iewers in ’n kas. Om die waarheid te sê, ons gemeente drink soms selfs wyn in die erediens (maar darem met die opsie van druiwesap as jy dit verkies)!

In Engeland, waar dit amper altyd koud is, elke Sondag Nagmaal gevier word (sonder die opsie van sap of kelkies, dus as jy vir alkohol allergies is en jou vir ’n gedeelde beker vervies, moet jy maar verbyhou en vrede maak met net een van die sakramentstekens – ook goed, sou ek sê!) en die ou katedrale vol ysige trekke is, is daar ná die erediens agter in die kerkgebou keurig gedekte tafels met koek en koffie en tee en ’n keuse van rooi of wit wyn.

Kan alkohol skade berokken? Ja, baie! Mense sonder selfbeheersing misbruik dit, en haal dit op hul weerlose gesinne uit. Mense met ’n geneigdheid tot verslawing, se lewens rafel weens alkoholmisbruik heeltemal uit. Dit is die tragiese, harde werklikheid, waarteen nie eens pastorieë bestand is nie. Die kerk weet dit maar alte goed, hoor! Onthouding ís in baie gevalle die enigste opsie.

Kan seks skadelik wees? Ongelukkig ook, ja. Net so ook voorskrifmedisyne, kos en eet, geld (te veel én te min daarvan), geweld, werk en sport, kennis en vermaak en, helaas, selfs kerk! Mense is verbysterend innoverend: Ons maak van die beste ding iets boos.

Miskien is ’n funksie vir jenewer proe nou nie juis eie aan “kerkkultuur” nie, kaas-en-wyn-vingeretes seker dan ook nie, hoewel ons almal al daaraan dalk meer gewoond is, en is ons eie sop-en-sjerrie-aand dan ook in die spervuur? Die vraag is: Watter “kerkkultuur”?

Moenie probeer voorgee dat gelowige mense nie die mond aan alkohol sit nie.

Hou in gedagte, daar is ’n stryd wat die kerk nie kan wen nie: dié beskuldigings oor alles tussen skynheiligheid en afgryslike sonde. Ons is tegelyk albei. Meer nog, ons is terselfdertyd ook heilig, regtig! Dat ons alkohol gebruik, ontmasker nie verlorenheid nie.

Nee, ons moenie en ons mag nie van iemand se gevallenheid in sonde die oorsaak wees nie. Laat geen mens deur ons in versoeking kom nie. Moenie gelate skade doen nie.

Daarom, doen wat die kerk moet doen: Preek die onverdunde goeie nuus dat jy oor sonde kan heers, en dat jy van niks ’n afgod moet maak nie. Dat jy kan eet en drink en vrolik wees terwyl jy onverswak bly glo in God wat jou alle goeie gawes gun, ook wyn vir genot en olies vir die gelaat.

En bly altyd gasvry en bedagsaam jeens hulle wat dit moeilik vind om weerstand te bied teen oordaad en vergryp. Want nie alles is vir almal heilsaam nie.

En kry tog ook maar fyn aanvoeling vir die mense wat al slagoffers was van hoe seer ander se drinkgewoontes ’n mens kan maak.

Moenie een hiervan nalaat nie.

Kortom: Kom ons wees ’n kerk wat gelowige lewe in die wêreld verreken en beliggaam, en tegelyk ’n kerk wat Jesus Christus as Here oor die lewe bely. Op kansels, aan Nagmaaltafels en op kerkerwe, en ook op die gevalle platforms en gebroke vertoonvensters van die sosiale media. Versigtig soos slange, maar opreg soos duiwe.

Gesondheid!

 

(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap