Gedurende Julie vanjaar is inventaris opgestel van die inhoud van die NHKA se SP Engelbrecht-museum. Dit is ’n proses wat met groot noukeurigheid en sorg uitgevoer moet word. So bewaar ons immers wat aan ons toevertrou is.

Ek, my vrou Janeke, en my dogters Madeli en Taneli, asook ons Museumskoonmaker Zeck Manokore, pak reg en maak skoon, sorteer en tel vir die vale!

Inventarisse word per boks in die stoorkamer opgestel – ongeveer 80 bokse. Bokse word met groot, helder plakkers genommer. Ongenommerde items word genommer met spesiale etikette (sonder om die voorwerp te beskadig) en die aanwinsregister word aangevul, in hierdie stadium nie chronologies nie, maar soos daar boks vir boks, rak vir rak en kas vir kas deur alles gewerk word. Meer as 500 ongenommerde voorwerpe is nou genommer en kortliks beskryf. Dit sluit nie die ongeveer 300 geraamde portrette, skilderye, plakkate en adresse in nie. Leë bokse, verpakkingsmateriaal en ’n klomp geraamde stukke word geberg in die bovertrek van Wonderboompoort se konsistorie.

Voorts word voorraad opgeneem van alle toerusting, kaste, tafels, rakke en dies meer. Alles word eers sekuur in ’n hardebandboek opgeskryf en dan weer in ’n rekenaarprogram ingevoer. Die inventaris word op meer as een plek bewaar.

Die resultaat is natuurlik voor die hand liggend. Nou sal ek weet wat alles in ons Museumversameling is, en presies waar dit is. Dit is soekbaar en vindbaar, veral vir navrae en navorsing. Wat bymekaar hoort, word ook makliker geïdentifiseer. So het ek reeds ’n paar raaisels kon oplos, as’t ware legkaarte in mekaar kon pas.

Met al die gewerskaf kon nutsmanne ook krane, toilette, deure, ligte en die alarm herstel of verbeter. Verskuiwings word ook in die uitstalling aangebring. Nuwe toerusting en voorwerpe word voortdurend ontvang – natuurlik volgens streng versamelreëls. Ons het ’n nuwe Museumpamflet. Die Facebook-groep “SP Engelbrecht Museum” bied ook interessanthede. ’n Pretoggend by die Museum word beplan, waarby ons gemeentes en die gemeenskap wil betrek.

Kontak my by 082 733 3951 of cjdb@boomaap.co.za. Die Museum in Eloffsdal, Pretoria is op afspraak oop, enige tyd of dag. Reël asseblief net ’n dag of twee vooraf.

(Ds C Johann de Bruin is kurator van die SP Engelbrecht-museum)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap