In die kerk hoor ons woorde wat ons nêrens anders hoor nie. Ons hoor van genade, vergifnis, nuwe lewe, vreugde en hoop. Tog het die kerk vir baie mense ’n struikelblok geword wat die vrolike evangelie van Jesus Christus verduister. Dit gebeur veral wanneer die kerk ’n doel op sigself word, ’n instelling wat strukture oprig en baie geld nodig het om dit in stand te hou. Kersfees gee ons die geleentheid om weer by die verhaal van Jesus uit te kom, en te hoor dat God die mens liefhet en in gemeenskap met ons wil leef.

Dit is onbegryplik dat God gekies het om vir ons ’n God te wees, en besluit het om in en deur Jesus Christus dit aan ons bekend te maak. Die kerk bestaan omdat God gekies het om ’n gemeenskap van gelowiges tot stand te bring en in stand te hou. Die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika bestaan omdat die Vader gekies het om ons deur sy Seun en die kragtige werking van die Heilige Gees saam te bring om deel van sy volk en koninkryk te wees.

Die kerk leef naby God en tussen mense. Kerkwees impliseer gemeenskap (koinonia) met God en medegelowiges. Elkeen van ons wat deur die evangelie aangegryp is en oortuig is dat daar in Jesus Christus ’n nuwe lewe moontlik is, kan nie sonder God en die gemeenskap van gelowiges bestaan nie. Die kerk lei ook aan “lang Covid”. Die nawerking van die Covid-19-pandemie is dat sommige Christene van mening is dat hulle sonder die gemeenskap van gelowiges, sonder hul broers en susters in die geloof, kan klaarkom. Dit is strydig met die hart van kerkwees, want die kerk is God se gawe aan ons, maar tegelykertyd ’n opdrag en roeping.

Dit is noodsaaklik dat ons onsself voortdurend afvra wat God van ons verwag en hoe ons moet kerk wees. Ons moet met onderskeiding na die Woord van God luister om telkens te ontdek wat kerkwees beteken. Ons moet voortdurend ontdek wat dit beteken om as volk van God, as huisgesin van die Vader, as liggaam van Christus en as tempel van die Heilige Gees, te leef en te bestaan. Die uitdaging is om voortdurend te word wat ons is, om met integriteit kerk te wees. Dit vra dat ons weer die basiese elemente van kerkwees sal ontdek en uitleef.

Die feit is egter dat Afrikaners, wat tradisioneel die grootste gedeelte van die Hervormde Kerk se lidmate uitmaak, postkerklik geword het. Die kerk het vir baie mense ’n randverskynsel geword. In só ’n gesekulariseerde gemeenskap is geloof nie afwesig nie, maar dit berus op elke individu se persoonlike keuse vir of teen kerklike betrokkenheid; vir of teen die Christelike geloof. Die era toe almal Christene en almal lidmaat van ’n kerk was en op Kersdag ’n erediens bygewoon het, is onherroeplik verby.

Sosiale media het verder daartoe bygedra dat geloof al meer ’n persoonlike saak word. Die onbeperkte hoeveelheid eredienste, preke, Bybelstudies en voorlesings uit die Bybel wat op sosiale media beskikbaar is, skep die gevoel dat dit onnodig is om ’n erediens by te woon. Almal het vrye toegang tot inligting en deel gedagtes en opinies met mekaar buite die tradisionele kanale. Die gevolg van digitalisering, vrye toegang tot inligting en egalitêre kommunikasie lei tot oordrewe individualisme, wat beteken dat die samekoms van die gemeente vir sommige mense (insluitend Christene) uitgediend geraak het.

Tog leef en bestaan die kerk van Christus daar waar mense bymekaar kom, mekaar in die oë kyk en met mekaar praat. Dit gebeur waar gemeentes gedurende die Kerstyd in elke klein dorpie en stad van ons mooi land bymekaar kom om fees te vier. Die evangelie leef in die plaaslike gemeente. Die evangelie is die grond onder die gemeente se voete, haar grootste vreugde en hoop vir die toekoms. Die verkondiging is ’n gawe en opdrag aan die gemeente, tegelyk ’n bron van vreugde.

Gelowiges moet met mekaar en met ander oor God se Woord praat. Ons vind ons vreugde in die Woord (Ps 1). Ons gaan met die Woord op weg (Ps 119). Ons wandel in en met die Woord tot versterking van ons geloof. Dit is ook in en deur die Woord dat die Heilige Gees ons lewens transformeer om waarlik kerk van Christus te wees.

Met die koms van Christus het God se koninkryk in die menslike geskiedenis sigbaar geword. Christus se koms is die kairos (Mark 1: 15), die beslissende oomblik in die menslike geskiedenis. Die koms van Christus konfronteer ons daagliks met die vraag: Kan jy met die koninkryk van God identifiseer?

Die Woord leer ons verder dat die koninkryk van God nog in die toekoms in sy volle heerlikheid sal aanbreek, die tyd wanneer die nuwe hemel en die nuwe aarde kom, die tyd wanneer daar geen pyn en lyding meer is nie omdat God by ons is en al ons trane afdroog (Op 21). Die kerk leef tussen die koms en die wederkoms. Die kerk is pelgrims op reis na die nuwe Jerusalem.

In die tyd tussen die koms en die wederkoms leef die kerk as voorlopige gestalte van God se koninkryk. Die kerk is nie God se koninkryk nie, maar maak iets van God se koninkryk sigbaar. Deur die kerk word die liefde van God die Vader, die genade in Jesus Christus, en die troosvolle teenwoordigheid van die Heilige Gees sigbaar. Dit is ons roeping om mense uit te nooi om met die koninkryk van God te identifiseer en mee te werk tot die opbou van die koninkryk.

Die uitdagings waarmee die Hervormde Kerk gekonfronteer staan, is divers en kompleks. Tegelykertyd is die evangelie van Jesus Christus eenvoudig: God het in sy liefde gekies om vir ons ’n God te wees, en ons deur sy eniggebore Seun te verlos. Mag ons in die Kerstyd ons vreugde in die eenvoud van die Kersverhaal vind, en dit in ons kerkwees laat sigbaar word.

(Prof Wim Dreyer is voorsitter van die Kommissie van die AKV)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap