Ek beleef die voorreg om reeds 33 jaar lid van die Kinderhuisdireksie te kan wees. Tydens my eerste vergadering, 1990, het ek gevra: Waarom moet ons kinders versorg wat glad nie eens deel van ons Kerk is nie? Ds Gert van Staden het my kortliks geantwoord: Hulle is die Here se kinders. Dit was deur die jare heen antwoord genoeg vir my om steeds met die Kerk se versorging van kinders besig te bly.

Van die begin af was die doelstellings vir ’n Kinderhuis baie duidelik. Dit moes ’n vaste en doelgerigte bedoeling hê om aan kinders ’n huis te bied met normale en gewone versorging. Hierdie kinders is in hoofsaak weeskinders, asook verwaarloosde en sorgbehoewende kinders. Hulle moet so versorg word dat hulle dankbare gelowiges sal wees, sorgbehoewendheid sal oorbrug en ’n goeie, gelukkige lewe sal lei.

Dit was inderdaad ’n wyse besluit van die Algemene Kerkvergadering gedurende 1922 om ’n weeshuis te vestig. ’n Artikel 21-maatskappy is geregistreer met honderd “Een-Pond-aandele”. Die Algemene Kommissie sou as ledevergadering die verslae behandel en direksielede benoem. Die eerste direksielede was di Jac van Belkum, AJ Bager en PS Grobler.

In 1923 is ’n huis in Krugersdorp gekoop waarin vyf kinders onmiddellik opgeneem is. Hierdie huis het bekendgestaan as De Nederduitsch Hervormde Weeshuis (sien foto hierbo). Dit is gebruik tot 1940 terwyl die Jac van Belkum-kinderhuis gebou is. Daar was aanvanklik ses huise – drie vir seuns en drie vir dogters. Hierdie kinderhuis het so ontwikkel en uitgebrei dat daar 134 kinders in 1994 in die huis versorg is. Oor die jare heen was mnre Henning Visser, Albert Herbst, Corrie Barnard, Pappa Brits, Daan Walker, Willie Grobler en Thys de Beer prinsipale van Jac van Belkum. Mnr Jan Oberholzer was die laaste prinsipaal.

In 1946 is die Andries Hendrik Potgieter-huis gevestig in Malherbestraat, Capital Park, Pretoria. Hierdie huis is gedurende 1984 deur die NHSV gekoop en bedryf. In 1947 is voorskoolse en laerskoolkinders in die huis opgeneem. Kinders uit die gemeenskap is ook op daaglikse basis daar versorg. Daar was 80 kinders in Krugersdorp, waar mev Snaps Huyzers kleuterklassies aangebied het. Mev Marié Oosthuizen het gedurende 1961 langs die AH Potgieter-gebou begin met die Tinktinkie-kleuterskool. Hulle het ’n eie skoollied gesing en daar was ook ’n Voortrekkerkommando, elkeen met ’n uniform deur die NHSV voorsien. Die direksie het beheer gehad, maar die Opvoedkundige Komitee het bestaan uit predikantsvroue. Hierdie praktyk het egter in 1987 tot ’n einde gekom en die kinders  is oorgeplaas na die kinderhuis in Middelburg. Die NHSV is egter steeds betrokke by die werksaamhede van die DPS-huise.

Intussen is daar ook gedurende1987 die Prinsloo-satelliethuis in Rusteburg gevestig.

Gedurende 1988 is die Albert Herbst-kinderhuis, met tien huise, in Middelburg in gebruik geneem. Mnr Daan Walker, wat vanaf 1978 prinsipaal van Jac van Belkum was, het in 1988 prinsipaal van hierdie huis geword. Hy was baie opgewonde oor die paar boere wat met hul John Deere-trekkers en implemente die terrein omgedolwe het en een van die mooiste tuine in Middelburg gevestig het. Besonders was die kleuterhuis wat ’n baba, Linda, van agt maande oud ingeneem het. Die kinders het dikwels presteer op akademiese, sport- en kulturele gebied. Hulle is geestelik versorg deur di Skip Scheepers en Phillip Prinsloo van Gemeente Middelburg.

Gaan ons vir ’n wyle terug in die geskiedenis van die kinderhuise, vind ons ook sakebedrywe: die Nederduitsch Hervormde Weeshuis (NHW) Bouers en die NHW Pers.

Die NHW Bouers het tot stand gekom gedurende 1951. Mnr Arie van Deft was tot 1976 die bestuurder. Die hoofkantoor was in Jac van Belkum gevestig. Die kantoor was langs die naaldwerkkamer waar mev Schutte en van die dogters klere herstel het. Die NHW Bouers het in hoofsaak kerke en pastorieë gebou. Die meeste kerke is ontwerp deur die argitekte Hendrik Vermooten en Japie Bosman. Die administrasie is gedoen deur Arie van Delft, Harm Gerding, Hennie Visser, Fanie Vorster en Douglas Jooste.

Die eerste kerkgebou was vir Gemeente Vliegepoort in Thabazimbi. Die pastorie van Krugersdorp-Noord was ook een van hul projekte. Baie van die seuns is opgelei as vakmanne in die boubedryf. Die hoofkantoor is gedurende 1959-1960 verskuif na die Barton Keep-gebou en later na die Dirk van der Hoff-gebou in Jacob Maréstraat. Die winste op die projekte was so 4% en later 6%. Hierdie bouersbedryf het egter in 1976 tot ’n einde gekom.

Die ander sakebedryf was die NHW Pers. Dit was ’n inisiatief van mnr AB van N Herbst. Terwyl hy prinsipaal was van Jac van Belkum, het hy in November 1948 met die drukkersbedryf begin. Sy bedoeling was dat kinders in die weeshuis ook in hierdie bedryf opgelei sou word. Die verdere bedoeling was dat die Kerk selfonderhoudend sou wees. Vanaf Mei 1950 is Die Hervormer self gedruk, en daarna ook die Almanak. Gedurende 1957 word die Kerk eienaar van HAUM (Hollandsch-Afrikaansche Uitgeversmaatschappij), wat reeds vanaf 1894 bestaan het. Daar was boekwinkels in Lynnwoodweg, Rissikweg, in die Genl Pretorius-gebou in Paul Krugerstraat en vanaf 1964 ook in Stellenbosch. Teologiese boeke is versprei. In die 1970’s is daar veral gefokus op die akademiese en die kindermark. Daar was egter nie winste soos verwag is nie en in 1992 het die Raad van Finansies besluit om die NHW Pers se bedryf te sluit. (Volledige artikel hieroor deur prof JP Oberholzer in Konteks van Augustus 2002.)

Gedurende 1996-1997 is die kinderhuise gesluit. Die direksie het na vore gekom met ’n nuwe plan van kinderversorging, naamlik die Diakonale Pleegsorgstelsel (DPS-huise). Dit is egter ’n geskiedenis met ’n eie aard.

***   Ek het tot die skokkende ontdekking gekom dat ek 50 van die 100 jaar persoonlik beleef het. Ek het byvoorbeeld tot groot vermaak van ds Gert van Staden in 1975 ’n afrikaner-os by ’n boer in die Bosveld, oom Gert Nel, gekry. Ek het die os lewendig op ’n Datsun-bakkie vervoer tot op die grasperk voor die saal van Jac van Belkum, dit afgelaai en met ’n riem aan die pilaar vasgemaak. Mnr Brits was toe die hoof. Ek het net vir hom gesê  hy moet sorg dat die os geskiet, geslag en bewerk word. Baie mense het nog lank daarna gelag vir my projek om vleis vir die kinderhuis te voorsien…

(Ds Kalla Fourie is ’n emerituspredikant en direksielid van die NHKA Kinderhuise)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap