Geagte Redaksie

Alles in die geloof is vrywillig. Om by ’n gemeente aan te sluit of die gemeente te verlaat, is vrywillig en sonder regsimplikasies. Jesus het nooit enigeen gedwing om in Hom te glo of by Hom te bly nie. In die Hervormde Kerk verkondig ons: Ons is vrygemaak van die wet. Ons waarsku lidmate gereeld teen die gevaar van wettisisme.

Ons verskil van die Kommissie van die AKV oor die aard van eenheid. Eenheid kan nie bereik of afgedwing word deur ’n kerkordelike ordinansie nie. Dít is bloot organisatoriese eenheid. Kerklike eenheid is ’n saak van die hart en gewete. Dit lê in eenderse belydenisse.

Anders as met die Standertonsaak, toe daar eenheid wás binne die NHKA, is dit nie die geval tans in die NHKA nie. Dis so dat sommige akademici in ons Kerk oor jare heen in hul Bybels-wetenskaplike kritiese denke uitsprake maak wat leraars en kerkrade skok. Onlangs, in die pandemie nog, het ons van ’n dosent gehoor dat Jesus waarskynlik nie self die Nagmaal ingestel het nie…

Kyk ons terug op AKV’s van die laaste jare, hét die NHKA ’n verskuiwing in teologiese denke gehad met besluite wat sommige sukkel om met die Bybelse leer te versoen. Sulke meningsverskille oor Skrifverstaan en besluite oor kernsake hou altyd die moontlikheid in van verdeeldheid.

Die appèl teen die hofuitspraak stuur ’n boodskap uit dat die hof in ons guns móét beslis, en dit is in kontras met ons geloofsvertroue dat God self sy kerk in stand hou, wat ons so dikwels van die kansels af verkondig.

Voorts het ’n kerkwet of kerkorde, na ons mening, beperkte waarde en gesag. Dis nie landsbeleid of die Grondwet nie. Dit het waarde alleen vir hulle wat deel is en steeds wil wees van ’n kerk of gemeente. Ons moet daarteen waak dat ons selektief wetties optree deur net sekere ordinansies daarin te wil afdwing.

Wat wen ons as ons die appèlsaak wen? Sal die “gees van fragmentasie” daarmee verdwyn en eenheid herstel wees? Die laaste tien jaar was ’n droewige hoofstuk in die NHKA. Vier advokate, oor die R3 miljoen in regskostes later en ’n hofsaak wat verloor is. Ons grootste verlies is dalk egter die beeld van die Kerk…

Dus, as dit in dié saak ten diepste gaan oor die eenheid van die Kerk en nié oor kerkgeboue nie, wil ons versoek dat die Kommissie van die AKV die appèlsaak terugtrek. Kom ons werp die juk van die hofsaak af en begrawe die strydbyl met die GHG. Ons maak ons los van die verlede en werk proaktief in liefde in ons gemeentes, en fokus op suiwer Bybelse Woordverkondiging.

Die predikante van die ring van Krokodilrivier

Share via
Copy link
Powered by Social Snap