’n Foto geneem van ’n boek en sonder bronverwysing op die internet gebruik, het my aan die dink. Met apologie aan die onbekende skrywer, hier is my vertaling daarvan:

Geleer om nie oor politiek of godsdiens te praat nie, verstaan ons politiek en godsdiens nie meer nie. Pleks dat ons geleer het hoe om respekvol oor komplekse onderwerpe te kan gesels!

Kom ons praat ’n slag oor albei.

Hierdie is (dalk) weer ’n verkiesingsjaar (hangende ’n finale besluit of verkiesings moontlik is te midde van Covid-19-inperkings). Waar op stembriewe trek gelowiges hul kruisies? Daar is ’n duisternis politieke partye in Suid-Afrika, en enkele wil dit vir ons makliker maak en skryf sommer “Christelik” in hul naam. Uit ondervinding weet ons dit help nie juis nie; gelowiges voel ook elders tuis. Wikipedia het my uit die veld geslaan met hoe maklik dit dáár lyk om partye se politieke filosofieë in net ’n woord of twee op te som. Kan jy nou meer! Niemand kan kla ons het te min om van te kies nie!

https://en.wikipedia.org/wiki/List_of_political_parties_in_South_Africa

Gelowiges sou kon tuiskom in sowel konserwatiewe as liberale kringe, hoewel woorde soos “verlig” en “verkramp” by voorbaat al “verdraagsaam” uitsluit, hoewel ek hoop ons sou mekaar tog kon uitluister sonder om ons te gou te wend tot “verkeerd” en “vervloek”. In ’n sekere sin is dit nou makliker om te sê waar jy staan, want min van ons se politieke voorkeure het mag. Destyds, toe Afrikaners nog geregeer het, durf jy nie in die Kerk jou ware kleure wys nie of jou kop word afgebyt. Ons was vyande van mekaar. Deesdae, vir my gevoel, veronderstel ons weer heeltemal te maklik dat Afrikaners almal oor alles met mekaar saamstem.

Hoe kan ons met mekaar hierdie gesprek aanknoop sonder om oorlog te verklaar?

Wat daarvan ons besluit om te praat oor ’n saak, eerder as oor iemand? Dit is presies wat ons doen as ons, Christene wat ons is, besluit ons stem dalk nie vir die partye wat onder die vaandel van ’n Christelike agenda ons steun soek nie. Nie dat ons hul geloof veroordeel nie; ons geloof verskil dalk nie, maar waarheen daardie geloof ons stuur, is miskien ’n perd van ’n ander kleur – steeds perd, maar anders.

Wat is die sake wat vir Afrikaners oor die jare getel het? Kerk, volk, kultuur, taal; dit is maar enkele van die sake waaroor ons nog altyd passie het. Met geesdrif vir dié goed is daar nie fout nie; nie een van dié goed is by voorbaat al “verkeerd” nie.

Miskien kan ons oorweeg om pleks van te praat oor ons eie Kerk, met mekaar te begin gesels oor kerk, kerk van Christus, oor God en godsdiens en godsdiensvryheid, egte geloof en die koninkryk van God. Ek verstom my oor hoe ver ’n mens met die hoed in die hand deur die land kom. Christelikheid is nie moraalleer nie, maar wees verseker dat die gebrek aan basiese ordentlikheid die gouste werk om geloofwaardigheid te ondergrawe.

Volk voel aanvanklik eksklusief, ’n geslote kring wat hink op stam, en behep is met “groep” en verdag gemaak is met “eiesake”, wat eintlik maar “eiebelang” spel. Totdat ons begin praat oor gemeenskap, volkebond en samelewing. Ons kán gedeelde belange begin dien, deelnemend te werk gaan, mededeelsaam wees, en eindelik geregverdigd eie ruimtes oopstoot, maar dit kan eers as ons self nie meer bedreigd voel of vir ander ’n bedreiging inhou nie. Liefde verdryf vrees, só leer God ons.

Kultuur skep trots én trek strepe in die sand. Maar selfs kulture oorvleuel: Ons liedjieskrywers sing van liefde vir Afrika, én liefde vir eie helde. Dit kán. Die reënboog is te newelig, ’n fopverskynsel sonder substans en die pot goud buitendien gesteel. Ons het ’n lewende metafoor nodig, ’n springbok of ’n sebra dalk, wat sonder een van haar strepe, bloederig sterf. Ons bloei almal rooi, saam leef ons beter. Kruisig jy die een, bloei ook die ander. ’n Protea kan ook werk, want hy staan op: Al brand hy, groei hy weer. Kultuur moet gevier word, maar sonder skaamte of verwyt. Gun ander om hulself te wees, en wees dankbaar jy mag ook maar. Treur so saam met dié wat treur en vier saam met dié wat vier.

Die taal wat ons praat, is ’n kleinood. God verstaan ons as ons praat, en ons hoor vir God. Iemand van buite ons eie kring wat ons taal probeer praat uit hoogagting vir ons wat daarin tuis is, laat swel die bors en skep geneentheid; daarom, leer ook iemand anders s’n, al is dit net ’n woord of wat. Praat Afrikaans, praat hom goed, en praat hom waar ander mense kan hoor wie jy is, want ja, daar kán iets goeds uit Galilea kom.

Vroue, vrede, onderwys en opleiding, arbeid en besigheid, eerlike handel en ywerige nywerheid, vermaak, reg en geregtigheid, die omgewing, gesondheidsorg, waarheid en mediavryheid… Hierdie lys is eindeloos, en om te dink ons het ons die geleentheid ontneem om daaroor saam te praat, ons wat soveel daaroor te sê het!

Ek hoor jou protesteer dat ons nie vir of met almal oor alles kan praat nie. Ons moet fokus. Jy het reg. Fokus op daar waar jy is, daar waar God jou laat leef. Maak daar waar jy is, die verskil, soos en wanneer al dié goed kop uitsteek. Die politiek wat saakmaak, gebeur daar by jou.

Versigtig soos slange, opreg soos duiwe, hoor ek die Here sê moet jy praat, met ’n wag voor jou mond, en ’n tong soos ’n roer wat jou koers bepaal.

Jakobus 3: 2-12 (AFR2020)

Almal van ons struikel tog dikwels. As iemand nie met woorde struikel nie, is hy ’n volmaakte man, en ook daartoe in staat om sy hele liggaam in toom te hou. Ons sit stange in perde se bekke, sodat hulle ons gehoorsaam, en daarmee stuur ons hulle hele liggaam. Kyk, selfs skepe, hoewel hulle so groot is en deur hewige winde aangedryf word, word met ’n baie klein roer gestuur na waar die stuurman wil. So is die tong ook ’n klein ledemaat wat op groot dinge roem. Kyk watter klein vuurtjie steek ’n groot hoop hout aan die brand! Die tong is ook ’n vuur, ’n wêreld van ongeregtigheid. Die tong is deel van ons ledemate, maar besoedel die hele liggaam. Dit steek die hele lewensloop aan die brand, en word uit Gehenna aangesteek. Want elke soort wilde dier en voël, en kruipende dier en seedier, word en is getem deur die mensdom. Maar geen mens kan die tong tem nie; dit is ’n onbestendige kwaad, vol dodelike gif. Daarmee loof ons die Here en Vader, en daarmee vervloek ons mense wat na die beeld van God geskep is. Uit dieselfde mond kom seën en vervloeking. Dit, my broers, behoort nie so te wees nie. ’n Fontein laat tog nie uit dieselfde oog vars én bitter water uitborrel nie? ’n Vyeboom, my broers, kan tog nie olywe dra, of ’n druiwestok vye nie? ’n Brak fontein kan ook nie soet water gee nie.

Om die tong reg te gebruik, is moeilik en jy grens aan volmaaktheid die dag as jy daarin slaag. Maar moenie dat dit jou afskrik nie. Die skip gehoorsaam tóg die roertjie. Kry jouself in toom en leer hoe om te praat.

Jakobus 1: 26

As iemand dink dat hy godsdienstig is en nie sy tong kan beheer nie, mislei hy homself; so ’n mens se godsdiens is vergeefs.

Praat politiek! En praat ook oor God. Praat doelgerig, met die oog altyd op:

Filippense 2: 11

…en elke tong sal bely, “Jesus Christus is die Here!” tot eer van God die Vader.

 

(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap