’n Vraag op elke kerklidmaat se lippe, elke jaar, is: Wat gaan ons doen met die jeug? Gereeld hoor ons stellings soos ons moet buite die kassie dink, ons moet anders dink. Hoe gaan ons die kinders behou en nie die studente verloor nie?
Ons weet die antwoord lê nie in fantastiese dekor en spookasemteologie nie, maar eerder in verhoudings, en ons gemeente het gedink daar is dalk ’n behoefte aan ’n ruimte waar sterk verhoudings gebou kan word. Ons weet dat om mekaar net een keer ’n week te sien te midde van die kinders en die dominee se besige programme, vir seker nie gaan help om sulke verhoudings te bou nie. So ons het besluit om so ’n ruimte te skep…
Ons huidige kerkbywoning en kategese is kontakpunte, maar dit word meestal gereël met die gedagte dat ons vir die tieners iets wil gee (wat hulle moet kom haal), byvoorbeeld ’n kategeseles of ’n aanbieding wat die ouers sê hulle moet bywoon, vaste kontak gesentreer rondom kerk en dienste. Michael de Vries sê onomwonde ’n mens onthou dalk nie die les of die aanbieding nie, maar jy onthou wel die verhoudings, jy onthou die mense wat dáár was. In die verlede sou ons “kontaksessies” met die kinders reël, maar nou skep ons ’n ruimte vir hulle en sê: Kontak is jou keuse, maar jy het toegang. Ons skep dus vir hulle ’n spasie om net te kom wees, met gratis toegang en geen voorwaardes nie, ’n ruimte waar hulle iets kom kry, nie waar iets gegee word wat hulle moet vat nie.
Ons gemeente het so ’n kontakpunt begin waar hulle kan wees met toegang tot ’n predikant, geloof, gebed, en mekaar, ’n spasie waar hulle vrae kan vra of net kan wees, waar hulle hul verhouding met die Here kan verdiep of net tyd deurbring saam met hul vriende weg van die huis af. Die kerk se Wi-Fi is tot hul beskikking sou hul dalk wou werk weg van die huis. Dis ’n veilige, vloeibare spasie waar hulle net kan kom wees en waar hulle mekaar ook beter kan leer ken en meer kan word as net vreemdelinge wat saam klas loop.
Hierdie spasie is nie denominasie- of kerkgebonde nie, en hulle hoef ook nie deel van ons Kerk te wees om deel te kom neem nie. Daar is nie sulke voorwaardes nie, jy kan kerk wees waar jy wil en jy kan steeds deel in die spasie, dis ’n plek om ander te ontmoet. Alhoewel ons werk met ’n program, word dit ook nie afgedwing nie, en stiptelikheid pla nie. Ons poog om hierdie ruimte so vloeibaar moontlik te hou.
Hierdie ruimte is die selbyeenkoms, elke tweede Donderdag van 18:00 tot 20:00. Rondom 18:00 word die tieners afgelaai, rondom 18:30-19:00 is die aktiwiteit vir die aand, 20:00 se kant kom haal hul ouers hulle weer.
Wat doen ons? Lofprysaande saam met die kerkorkes, Bybelse vasvra-aande met pryse te wen, minute-to-win-it en karaoke, elke byeenkoms doen ons iets anders, van geestelike boodskappe en bidaande tot boeresport en speel. Dis ’n spasie om in te wees, met ’n klomp aktiwiteite tot hul beskikking (soos potspel, werkstasies, musiek, springmielies, slush puppies…) vir ’n lekker atmosfeer en om net te kom wees. Geloof, huiswerk, verhoudings, stilte, vriende.
Wie?
Die fokusgroep is meestal die hoërskoolleerders (grade 7-12). Laerskoolkinders kan ook bywoon solank hulle vergesel word deur ’n ouer boetie of sussie.
Waar?
By die kerk, natuurlik!
Waarom?
Om vir die jeug ’n ruimte te gee om in te kom wees. Om vir die graad 12’s ook ’n ruimte te skep in die bediening. Om die jeug die kans te gee om saam in geloof en in die kerk te kan leef. Om vir hulle ’n toegangspunt te gee wat hulle andersins slegs op Sondae kan kry, indien die predikant beskikbaar is. Om organies ons eie studente te skep, sodat ons nie die jeug verloor na graad 11 en hulle eers weer sien as hulle afstudeer het nie. Om vir hulle die geleentheid te gee om saam met hul ouers kerk toe te gaan op Sondae en steeds hul eie geleentheid ook te hê sonder om uitgesluit te wees van die breër gemeente. Om hulle die geleentheid te gee om hul vriende wat in ander kerke is, saam te kan nooi sonder dat hulle hul eie kerk se bediening misloop.
Tot dusver het hierdie bediening mooi spoed opgetel en ons kry goeie terugvoer van die tieners. Ons droom vir hierdie bediening is vir meer interkerklike samewerking tussen ander gemeentes, waar ons saam sulke projekte kan ondersteun en hande kan vat in die bediening van ons jong mense.
Die kinders van die kerk is nie die kerk van môre nie, maar die kerk van vandag!
(Ds Paul van Jaarsveld is leraar in Gemeente Wapadrant)
