In ’n geloofsprong vanuit die Kragbron word ’n Hervormde gemeente gestig op die koolmyndorpie Witbank. Intensief is debat gevoer oor of die swartgoud lank genoeg sal hou dat die gemeente kan groei en oorleef. Die gevaar was dat die myne uitgewerk sou word voordat ’n kragstasie, damme en ander nywerhede hulle daar kon vestig.
In hierdie voordepressiejare het vyf ouderlingswyke reeds begin bou aan ’n gemeente. Teen 1927 was die kragstasie volstoom aan die gang, en saam met die Doornpoortdam was nywerhede al hoe meer aan die toeneem. Uiteindelik het die Noordelike Ring van die NHKA aanbeveel dat Witbank as selfstandige gemeente wes van Middelburg moet afstig. Gemeentegrense was die distriksgrense. Hierdie gemeente was ’n nuwe kragbron vir 400 myn- en fabriekwerkers en landbouers.
Die naam Witbank kom van ’n wit sandsteenrif in die steenkoollae. In 1890 ontstaan die myngehuggie, wat amptelike dorpserkenning kry in 1903. Sedert 2006 is die Nguni-woord eMalahleni, “plek van steenkool”, die nuwe stadsnaam.
Om 10:00 Saterdagoggend 16 April 1927 by die (gelofte)feeshuis op Blesboklaagte, plaas van ouderling Thys Pretorius, vind die stigting plaas. Dis wes van die spoorlyn waar vandag informele nedersettings is asook dekade lange ondergrondse, oorblywende steenkool wat aanhoudend brand en smeul.
Die aanwesiges is toegespreek deur die ringsvoorsitter, ds AJ Barger, uit Openbaring 3: 8, oor die deur wat vir die gemeente oopgesluit is. Teenwoordig was ook die ringskriba, ds JGM Dreyer (Lydenburg), asook die aangewese konsulent, ds S Vermooten (Pretoria). Barger was die opvolger van ds MJ Goddefroy (1905-1917) in Middelburg (1919-1938). Goddefroy was dus die geestelike kerkvader van die hele Witbank. Barger was gesamentlik Middelburg en Witbank se leraar tot met die beëindiging van die kombinasie op 22 Augustus 1936.
Ná die voorsittersrede is groeteboodskappe van ouderlinge Breytenbach en Bierman van Middelburg aangehoor. Ds S Vermooten het ’n voorbereidingsdiens gelei en daarna vyf ouderlinge en vyf diakens bevestig. Daar was vyf wyke met ongeveer 80 belydende lidmate per wyk. Op Paassondag 17 April is die Nagmaaldiens gelei deur ds AJ Barger met teks uit die Emmausgebeure, Blijf met ons, de avond is gedaald. Ds JGM Dreyer hou die slotdiens.
Ouers het destyds ’n groot kroos gehad en daarom was die dooplidmate baie. Daar is begin met twee Sondagskole – op die dorp in die Sonskynskool (die juniorlaerskool waar die stadsteater tans is) onder leiding van broer IMV Jacobson, en by “Die Tabernakel” op Old Coronation. Dit was ’n instaankerk, ‘n houttimmerasie met bokseile oor, op die plek waar die eerste kerkie in 1929 sou verrys. Die eerste inskrywings in die ou registers vertel die eerste dopeling was Victor Hugo Joubert, seun van Cornelis Joubert, op 29 Oktober 1927, en die eerste aannemelinge was twee neefs, Francois Abraham Booyse (* 27.11.1909) en skrywer se grootoom Petrus Jacobus Gerhardus Booyse (* 22.06.1910) op 21 April 1928. Die doopbak is geskenk deur suster Ralie Pretorius.
Die Nagmaalservies is geskenk deur ouderling AJ Stone op 10 Mei 1929 met die inwyding van die Old Coronation-kerkie op 11 Mei 1929, en die Bijbel op die Tabernakel-kansel deur ouderling Attie Visser en sy gesin. Die Bijbel in die 1929-kerkie is geskenk deur Gemeente Middelburg en word tans in die SP Engelbrecht-museum bewaar.
Gedenkbundels verskyn in 1957, 1987 en die laaste in 2014 met die ontbinding van die gemeente. Tans is daar nog die dogtergemeentes Witbank-Suid, Witbank-Noord, Suidoos-Witbank en Ogies.
Die mynkamp, ’n plek waaroor eens gevrees is dat dit afgebreek en verskuif kon word, het ’n vesting geword waar die NHKA kon wortelskiet.
Hierdie foto uit die 1957-gedenkbundel wys die eerste kerkraad by die Blesboklaagte-feessaal. Voor vlnr is ouderlinge MC Pretorius, AJ Stone, JH Vorster, ereouderling JHN Visagé, ds AJ Barger, ouderlinge Achem Vorster en Louw Bierman. Agter vlnr is diakens JM le Grange, HP Jansen van Nieuwenhuizen, BJ Prinsloo, Sewus (JJ) van der Merwe en JT van Dyk.
(Ds Carel Johann de Bruin is curator van die SP Engelbrecht-museum)
