Die Tussenkerklike Raad, bestaande uit verteenwoordigers van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, die Nederduitse Gereformeerde Kerk en die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, het op 18 Julie die Sinode van Dordtrecht 400 jaar gelede herdenk. ’n Dag lank het ongeveer 60 mense uit die drie kerkverbande saam besin oor die betekenis van Dordt in die geskiedenis en in die gereformeerde wêreld vandag. Die samekoms is gehou in die historiese kerkgebou van die Gereformeerde Kerk Pretoria. Op die foto is dr Sanrie de Beer van die NHKA aan die woord.

Gemeente Sionspoort se Vleisfees van Saterdag 3 Augustus het ongekende belangstelling gewek. Kyk net na die opkoms! Hoewel die fees tot kort voor middernag geduur het, was die kerkgebou die volgende oggend tot barstens toe volgepak deur moeë maar tevrede lidmate vir ’n dankdiens. Uiteindelik is enigiets moontlik met geloof, gedeelde drome, die regte gesindheid en goeie samewerking.

Die Kerkargief en Biblioteek het vir die Tydskrif vir Hervormde Teologie se Barth-simposium van 14 Augustus ’n keur van Karl Barth se boektitels in verskeie tale uitgestal, asook boektitels van outeurs wat in die loop van jare oor Barth geskryf het. Die publikasies is oor ’n aantal dekades in die 20ste eeu gepubliseer. Die uitstalling is deur argivaris Nándor Sarkady en argiefassistent Waldo Pretorius versorg.

Die agenda vir die 72ste AKV is nou beskikbaar op die NHKA se webblad. U word vriendelik versoek om dit voor die AKV op u rekenaar af te laai. Die webblad van die Kerk sal nie al die verkeer kan dra indien ’n groot aantal afgevaardigdes die agenda tydens die AKV wil aflaai of lees nie. Die vergadering stel ook nie internettoegang vir al die afgevaardigdes beskikbaar nie, en afgevaardigdes sal dus slegs internettoegang hê indien hulle self daarvoor voorsiening maak.

Share via
Copy link
Powered by Social Snap