Die uitvoerende bestuur van die WGGK (World Communion of Reformed Churches) het gedurende Mei vanjaar in Suid-Afrika vergader. Ds Najla Kassab, president van die WGGK, het ingestem om hierdie artikel vir Die Hervormer te skryf.
Die besoek aan Suid-Afrika om die byeenkoms van die uitvoerende bestuur van die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke (WGGK) van 20 tot 24 Mei 2023 by te woon, op uitnodiging van die plaaslike lidkerke, was waardevol. Dit het vir my bygedra tot begrip vir hoe eenders die ekonomiese onregte in die verskillende lande van die wêreld is. Dit was nie my eerste besoek aan Suid-Afrika nie, maar dié keer was daar die impak van ’n nuwe realiteit en uitdaging vir Suid-Afrika rakende die elektrisiteitskrisis, wat die totale dinamika in die land verander het en die lewenskwaliteit van almal beïnvloed, maar soos altyd is dit die armes wat die hoogste prys betaal.
Die situasie stem veral ooreen met dié in my tuisland, Libanon. Ek kom van ’n land wat reeds jare lank in dieselfde stryd gewikkel is. Net enkele maande gelede het Libanon maar net vir twee ure per dag elektrisiteit gehad, ’n situasie wat die lewe kniehalter en al die organisatoriese suksesse wat die mense oor jare heen behaal het, ongedaan maak. Daarby hou Libanon se probleme met die elektrisiteitskrisis nie bloot verband met ’n tekort aan brandstof of die oorlog in Oekraïne nie, ook nie met die koste van brandstof nie, maar eerder met korrupsie onder die leiers en almal wat deur hulle ondersteun word en wat voordeel trek uit die situasie en finansiële winste daaruit maak. Dit begin by die maatskappye wat brandstof invoer, of mense wat kragopwekkers verkoop, of diegene wat besighede begin het om elektrisiteit aan huishoudings en maatskappye te verkoop, en so ’n fortuin maak uit die krisis. En dit terwyl die probleem opgelos kan word deur ’n groen ekonomie na te streef en sonpanele te installeer, iets wat die krisis grootliks die hoof kan bied. Maar weens korrupsie word sulke strategieë nie aangemoedig nie. Libanon ervaar tans ’n ernstige finansiële krisis en het baie skuld. Die elektrisiteitsprobleem dra veral by tot so ’n situasie.
Tydens ons verblyf by die Mannah Executive Guest Lodge in Kempton Park het die bestuurder van die gastehuis voortdurend verskoning gevra vir die omstandighede weens die beurtkrag, met die internetdienste wat geaffekteer is en die kamers wat nie verhit kon word nie, asook verskeie ander faktore as gevolg van die nuwe situasie. Daarby kom natuurlik ook die koste van die brandstof om die plek aan die gang te hou.
In Libanon het die krisis ook ’n uitwerking gehad op die kerklewe en moes kreatief te werk gegaan word om die gemeenskap te bedien.
Die elektrisiteit dwing talle gesinne om snags kerse te gebruik en hul yskaste af te skakel, en net vir ’n dag op ’n keer kos te berei, omdat hulle nie elektrisiteit vir die yskaste beskikbaar het nie. Die moeilikste is die worsteling van pasiënte wat snags suurstof nodig het – minder elektrisiteit kan hulle hul lewe kos. Hospitale kon nie effektief funksioneer nie, weens die nuwe realiteit. Elke instelling in die land – skole, winkels, restaurante en hospitale – moes ook hul pryse verhoog, hoofsaaklik om die koste van elektrisiteit te dek.
Ds Najla Kassab (Foto: Nathan Roels)
Op 4 Augustus 2020 het ’n groot hoeveelheid ammoniumnitraat wat in die Beiroet-hawe gestoor is, ontplof en tot groot skade en lewensverlies gelei. ’n Watergevulde krater wat eens ’n pakstoor was, is op die voorgrond te sien. (Foto: AFP)
’n Reuse-aardbewing in Turkye en Sirië op 6 Februarie 2023 het verwoesting veroorsaak in die Siriese stad Aleppo wat reeds gesteier het onder die gevolge van ’n jarelange burgeroorlog. (Foto: Reuters)
As ’n gereformeerde kerk in Libanon en Sirië het ons gevind dat dit die hart van die evangelie is om mense hier op aarde se menswaardigheid te beskerm. Hierdie is die tyd vir aksie; om te deel; om gasvry te wees; om mekaar se telefone te laai. Dit is die evangelie om iemand wat suurstof nodig het, snags na ons huise te nooi. Een predikant het vir my gesê dat dit hom voorheen 15 ure geneem het om sy preek voor te berei. Hy het besef dat die meeste van sy tyd vandag gebruik word om mense te help om met waardigheid te leef. Hy het gesê dat niemand hom by die kweekskool geleer het om sulke situasies te hanteer nie, maar die krisis het sy oë oopgemaak om nuwe behoeftes raak te sien, asook nuwe maniere om uit te reik en God te verheerlik.
Die krisis het ons geleer dat geloof uitgedaag word om geleef te word, nie bloot gepredik te word nie. Woorde is nie genoeg nie, maar ’n bediening wat die liefde van Christus uitstraal en mense help om onreg te trotseer, is wat van ons verwag word.
Die situasie waarmee die mense in Libanon en Sirië te kampe het, hetsy na die ontploffing in die Beiroet-hawe, of die aardbewing in Sirië, of die oorlog in Sirië, of die ekonomiese krisis in Libanon, het die bediening van die kerk verdiep en die kerk genoop om buite sy mure te dien; om daarna te streef om oorvloedige lewe te bring vir alle mense.
In lyn met die Accra-belydenis sien die kerk in Libanon en Sirië geregtigheid as ’n saak van geloof; ekonomiese sake is nie net sosiale, politiese en morele kwessies nie, maar is belangrike aspekte van geloof in Jesus Christus, en dit beïnvloed die integriteit van die kerk. Om getrou te wees aan God se verbond, vereis dat individuele Christene en die kerke standpunt sal inneem teen ekonomiese en omgewingsongeregtighede. Die krisis het kerke opgeroep om saam te werk, en die eenheid van die kerk het kritiek belangrik en onvermydelik geword ten aanskoue van die nuwe realiteit. Eenheid hou verband met samehorigheid, waar van God se mense verwag word om hande te vat en hul hulpbronne te deel, en waardige lewe vir almal te verseker. Die krisis het alle gelowiges se oë oopgemaak vir die identiteit van die kerk, waar die kerk opgeroep word om mense wat swaarkry en sukkel, in solidariteit by te staan. Die missie van die kerk word gevorm wanneer deur die oë van magtelose en worstelende mense gekyk word, en geleer word om te luister na die krete van die mense wat ly en geminag word deur die huidige situasie, en dan daarvolgens te dien.
Wanneer ’n mens terugkyk op die elektrisiteitskrisis, naas ander probleme wat die kerk vandag in die Midde-Ooste in die gesig staar, is dit duidelik hoe ’n krisis kon lei tot kairos.
Ten spyte van die pyn wat deur ’n krisis veroorsaak word, is dit steeds ’n ruimte waarin God se werk en seëninge herken kan word. Dit is ’n tyd van vorming. Dit is ’n ruimte waarin God nuwe seëninge moontlik maak. Te midde van die krisis, het die kerk nuwe moontlikhede en nuwe hoop raakgesien. Soos die Wittenberg-getuienis dit stel:
Saam verlang ons na ’n hernude voorstelling van wat dit beteken om ’n kerk in gemeenskap te wees – vir ons wêreld, in ons tyd. Ons benodig ’n nuwe voorstelling van saamleef op maniere wat ons eenheid sal koester, nie net as ’n gawe nie, maar ook as ’n roeping. Ons benodig nuwe verbeelding om te droom van ’n andersoortige wêreld, ’n wêreld waar geregtigheid, vrede en versoening sal heers. Ons benodig nuwe verbeelding om spiritualiteite van weerstand en profetiese visie uit te leef – spiritualiteite in diens van lewe, spiritualiteite gevorm deur God se missie.
Wanneer ons ’n krisis beleef, is een van die uitdagings of ons, as ’n kerk, gereed is om nuwe stappe in ons missie te neem, gereed om nuwe maniere te vind waarop ons ons bediening kan uitleef. Ons kan so deur ons pyn verlam word dat ons hulpeloos voel, of ons kan nuwe energie en krag put uit God se genade. Om te bly hoop, is die sleutel om die krisis te verander in kairos, en dit ’n tyd te maak vir ’n nuwe verbeelding.
Direk na die laaste aardbewing in Aleppo het die predikant van ons kerk op sy Facebook-blad geskryf: Geen Kommentaar. Daardie kerk hét Covid te bowe gekom, én oorlog, vernietiging van die kerkgebou, armoede, en baie ander oorlewingsuitdagings. Net toe hulle weer asemskep, het die aardbewing hulle getref. Maar dit is nie die einde van die verhaal nie. Te midde van al die pyn en net ’n paar uur na die aardbewing, het die gemeenskap van gelowiges ’n nuwe bediening geloods, hul fasiliteite oopgestel om die haweloses wat hul huise verloor het te huisves en te voed, en nuwe maniere ontdek om na die lydendes om hulle uit te reik. Hulle het ’n kerk van hoop en krag geword, besiel met nuwe verbeelding om die liefde van Christus te deel. Vandag is die kerk in Aleppo sterker as voorheen, geïnspireer deur die werk van die Heilige Gees. Om die gemeenskap te dien, het die kerk gehelp om vernuwe te word en met hoop te leef.
Net na die ontploffing in die Beiroet-hawe het die jeug in ons kerk ’n bediening begin om die huise wat verwoes is, skoon te maak. Hulle het dae daaraan bestee om beseerdes te help, voedsel te verskaf, en diegene wat ontredder is deur die verlies van hul geliefdes te vertroos. Hul bediening het verskuif na die strate, na nuwe ruimtes wat hulle nooit kon dink vir hulle hoop kon bring nie. Hulle het nuwe maniere ontdek om hul geloof uit te leef en te geniet hoe God hulle gebruik as instrumente van genesing.
Vandag, in Libanon én in Suid-Afrika, kan die vlakke van korrupsie en die uitdagings waarmee ons in terme van die elektrisiteitskrisis gekonfronteer word, ons ontmoedig. Baie sal reken dat die krisis te groot is vir die kerk om te hanteer. Maar ons, as kerk, het steeds ’n groot rol te speel. Om ten volle betrokke te raak, kan dalk nie veel aan die werklikheid verander nie, maar dit verander ons as ’n kerk. Dit help ons om die lig en die hoop vir ander te wees. Dit vorm ons geloof en leer ons om ons geloof uit te leef op die vlak van gasvryheid. Dit nooi ook die jonger generasies uit sodat hul verbeelding geprikkel kan word op maniere wat die waardigheid van alle mense beskerm; en moedig hulle aan om hul geloof saam met hul bure uit te leef. Ons word ook, te midde van al die pyn, aangespoor om die stem van die stemloses te wees en beswaar te maak teen korrupsie, selfs al sou dit klink na ’n stem in die wildernis. In ’n krisis leer ons om ons geloof in praktiese terme uit te spel, elke dag van die week, om te deel in die oorlewingstryd van almal om ons, en om te leef met die hoop op wat Jesus beloof het vir die lewe hier op aarde, net soos in die hemel.
*** Lees die oorspronklike Engelse artikel by https://nhka.org/crises-can-bring-new-possibilities-and-hope-for-the-church/
(Ds Najla Kassab is president van die WGGK)