Verandering is so goed soos ’n vakansie, lui die gesegde. Sê wie? het ek al met tye binnemonds gebrom as ek vele veranderinge tegelyk moet verduur, veral sonder kennisgewing. Miskien is dit omdat ek op daardie tye in my lewe “verandering” met “teëspoed” in verband gebring het. Miskien het ek gevoel asof iemand my in ’n blik druk, of dat bekende dinge rondom my besig is om verdwyn.
Verandering is egter nie ’n óf-óf-saak nie: Dit is byna altyd ongemaklik, en kan beide wins én verlies meebring. Dalk is dit hoekom ons menslike toestand so versigtig vir “verandering” is: nuwe tegnologie, ’n ander opinie, ’n verandering in leierskap, verhuising, ’n loopbaan wat begin, ’n loopbaan wat ten einde loop, ’n ander internetverskaffer, ’n nuwe verhouding, ’n ouer wat sterf, ’n woonbuurt wat oorvol is of geleidelik leegloop, ’n diagnose, ’n geloofsgemeenskap se veranderende dinamiek, ’n oorlog, konflik of stryd.
Noem maar op: Elke mens op aarde is te alle tye met een van hierdie “veranderinge” besig, en geen enkele een van ons weet wat die uiteindelike uitkoms daarvan gaan wees nie. Hetsy ons die verandering doelbewus en bewustelik aanpak en of dit die lewe is wat ons uitdaag – verandering is ongemaklik.
In die Engelse digter TS Eliot se Four Quartets (1944) lees ’n mens baie van die verskillende ritmes van verandering. Ek lees graag Eliot se Four Quartets omdat die teoloog Jürgen Moltmann dikwels na Eliot verwys het. Só skryf Eliot in die tweede kwartet “East Coker”:
You say I am repeating something I have said before.
Shall I say it again?
To arrive where you are, to get from where you are not,
You must go by a way in which there is no ecstasy.
In order to arrive at what you do not know,
You must go by a way which is the way of ignorance.
In order to possess what you do not possess,
You must go by the way of dispossession.
As ek dit lees, is dit op ’n manier vir my die toonbeeld van ons Hervormde dialektiese teologie: Ons verstaan iets van die teenstrydigheid van alle dinge, en dat ons nie ons geloof, ons teologie – ja, veral God – in netjiese, afgeronde houers kan plaas nie. Veral herinner Eliot se strofe ons dat dít wat die moeite werd is, gewoonlik nie sonder opoffering, groeipyne, en ’n tipe “vrywillige leegmaak” of blootstelling gepaard gaan nie. In hierdie sin sluit Eliot sy Four Quartets af in “Little Gidding”, met die woorde:
We shall not cease from exploration
And the end of all our exploring
Will be to arrive where we started
And know the place for the first time.
Dit impliseer dat verandering ’n ander tipe kennis en vaardighede kan meebring. Hierdie kan emosionele, sosiale of praktiese kennis/vaardighede insluit. Aan die begin van 2024 is ek diep onder die indruk hiervan, omdat ek presies ’n jaar gelede ’n groot verandering meegemaak het. In die middel van 2022 het ek besluit om verder te studeer, in ’n ander vakrigting. Op 21 Januarie 2023 het my MPhil in Besigheidsbestuur (met die opsie: Verantwoordelike Leierskap) aan die Albert Luthuli Leierskapsinstituut (ALLI) aan UP afgeskop. Op 16 November 2023 het ek die laaste stuk navorsing ingedien. Ek sou lank en breed kon skryf oor alles wat ek geleer het: strategiese bestuur, die wetenskap van leierskap en hoe neoliberalisme in ons samelewing funksioneer. Ek sou kon skryf oor wat ek oor die noodsaaklikheid van ’n kritiese leierskapteorie geleer het, wat veel wyer strek as ’n fokus op “leierskapseienskappe”. Eerder skryf ek oor die omwenteling wat die studie in my lewe meegebring het.
Die standaarde is baie hoog en die hoeveelheid voorgeskrewe werk vir die gedoseerde modules is byna onmenslik. Die nuwe aantal vaardighede, skrikwekkend: hoe om empiriese navorsing te doen, hoe om Harvard Besigheidskool se studiegevalle te analiseer en hoe om die metodologie van ’n ander vakgebied te kan toepas. Die grootste uitdaging was uiteindelik ook die een wat die meeste dividende opgelewer het: Elke student moes intense outo-etnografiese refleksie doen vir ons uiteindelike mini-skripsie. Die veronderstelling vir hierdie werkwyse van die program is dat toekomstige leiers hulself moet ken, kritiese selfrefleksie kan toepas in diens van ’n groter saak wat die samelewing ten goede transformeer – en dat jy jouself uiteindelik kan oorstyg.
Deel van my navorsing het behels dat ek binne ons Kerk met predikante en lede van kerkrade oor vroue se leierskap moes praat vir ’n kort/beperkte praktiese projek. Dit was ’n proses wat my beide met teleurstelling en met opgewondenheid gelaat het. Dít is wat ek geleer het: om genuanseerd oor alles na te dink, want die werklikheid se wye skakerings is tegelyk pragtig en intimiderend.
Hoekom ’n ander studieveld? Hoekom die uitmergelende studietog aanpak vir een jaar? Ander wat ook hierdie nagraadse studiereis aangeknoop het, sal weet waarvan ek praat en elkeen sal ook hul eie motiverings hê. Vir my het dit daaroor gegaan dat ek nodig gehad het dat iets my daaglikse narratief moet kom onderbreek. Daar is so baie mense wat voel asof hulle in ’n tuimeldroër beland het, of op ’n hamsterwiel hardloop wat om en om tol en nooit tot ’n einde kom nie. Uitbranding was ’n faktor. So ook die nagevolge van ons veranderde leefwyses wat met die pandemie te doen gehad het.
Ek meen ek het ook ’n stuk perspektief nodig gehad. Soms sien jy nie raak wat reg voor jou is nie. Soms het jy oogklappe aan, en sukkel jy om wyer te kyk as jou onmiddellike omgewing. Soms sukkel jy net om te besef dit is tyd om aanpassings te maak. Elkeen van ons bevind ons moontlik op een van hierdie spreekwoordelike plekke, aan die begin van hierdie jaar. Miskien is daar iets wat ons as vanselfsprekend aanvaar, en wat ons dus nie genoeg erken of waardeer nie. Miskien is daar iets wat van ons vra om nuut te dink, maar ons wil binne die bekende aanbly. Miskien moet ons ’n belangrike besluit neem, maar ons stel dit uit. Miskien wil ons ons verhaal net so ’n bietjie verander, maar ons is bang vir mislukking.
In Jesaja 43: 19 (AFR1983) lees ons: Kyk, Ek gaan iets nuuts doen. In die konteks van daardie teks verwys die woorde na God se belofte om waar ons dit die minste te verwag, iets anders as wat ons verwag, te voorskyn te laat kom. Te midde hiervan, is ons opdrag om onsself ontvanklik te maak vir hierdie andersheid van God – en die groeipyne te aanvaar. Die “iets nuuts” dui op die onbekende. Vir ons – gelowiges – word die onbekende op ’n manier “bekend”, omdat ons die reis nie alleen aanpak nie. Miskien wag daar wel teleurstelling op ons. Miskien is daar ’n groot verrassing. Ons kan dit nie weet nie. Geloof is om die eerste tree te neem, die onbekende in. Die res laat ons volledig aan God oor.
(Prof Tanya van Wyk is medeprofessor in Sistematiese en Historiese Teologie aan UP)