Daarom het Ek afgekom om hulle uit die mag van Egipte te bevry en om hulle daarvandaan te laat trek na ’n goeie en uitgestrekte land, ’n land wat oorloop van melk en heuning. (Eksodus 3: 8)

Die land van melk en heuning is ’n frase wat my van kleins af bekoor het. As dogtertjie het ek valleie in my geestesoog gesien, met watervalle van melk. En om die poele waarin die waterval gestort het, bome waar die takke drup van die heuning wat sommer so loop uit die korwe. En ek kon sien hoe Israel uitspan langs hierdie waters en geen bekommernisse het en geen tekorte ervaar nie.

Later het my prentjie van die Beloofde Land natuurlik begin verander, maar dit het altyd vir my ’n amper magiese plek gebly waarheen God die volk gelei het, ’n land van totale oorvloed.

Tydens my studies aan die Universiteit van Pretoria konfronteer prof Andries Breytenbach ons een dag in die Ou Testament-klas met ’n artikel, The Land of Milk and Honey deur Etan Levine. En vir die laaste 20 jaar broei Levine se teorie in my gedagtes.

Levine stel dat, anders as wat ons die land van melk en heuning verstaan – as ’n land van oorvloed waar ’n mens sonder moeite ’n bestaan maak – dit juis nié so is nie. Die beelde van melk en heuning dui op ’n grondgebied wat onontwikkeld is, waar troppe kan wei in die natuurlike veld, maar waar daar nie noodwendig ’n oormaat van alles is nie. Die melk is afkomstig van die diere wat los in die veld rondloop en kos soek, en tussen die bosse en bome van hierdie wilde area, kom die korwe met wilde heuning voor.

Met ander woorde, dit is ’n land waar jy steeds met moeite ’n bestaan gaan maak en nie net onder die boom kan lê en moeiteloos aan die lewe bly nie. Jy sal in die Beloofde Land moet vashou aan God en naby God moet lewe om staande te bly. Israel se voortbestaan in die Land van Melk en Heuning het van hul verhouding en hul verbond met God afgehang – hulle kon nie net op hulself staatmaak nie.

Soos die afgelope paar jaar ontvou het, het hierdie waarheid wat Levine in die werklikheid van die Beloofde Land raakgesien het, my al hoe meer getref. Ek dink ons wag en verwag dat God ons na óns beloofde land sal neem. Na die plek waar ons oorvloed gaan beleef, moeiteloos gaan lewe en maklik deur elke dag gaan seil. Na ’n tyd of ’n bedeling waar ons kan ophou om ons asems op te hou.

Maar dit gebeur nie – dit is een ding op die volgende en een krisis na die ander…

So ek glo ons moet ons persepsie verander – ons moet raaksien dat ons elkeen reeds in die Beloofde Land lewe. Waar elkeen van ons woon en werk, of dit nou hier aan die suidelike punt van Afrika is en of ons ons heenkome op ’n ander ver plek gaan soek het – waar jy is, is jou beloofde land.

Maar selfs in jou beloofde land het jy God nodig, het jy steeds nodig om naby God te leef, God deel te maak van élke dag en élke besluit, sodat jy op die plek waar jy jou bevind, in die tyd en omstandighede, voluit kan leef. Alléén dan, sáám met God, kan jy jou sin en jou vreugde vind in die hier en nou, waar jy ook al is.

Share via
Copy link
Powered by Social Snap