Om ’n Bybelse teks in konteks te lees, bly een van die belangrikste beginsels van Bybelinterpretasie, maar dit word tog steeds dikwels misken.

Gemeentepredikante kom gereeld by Bybelstudie, Bybelskool en preekbesprekings onder die indruk van die erns en respek waarmee lidmate steeds die Bybel benader, en watter onmisbare rol die Woord in so baie mense se lewens vertolk. En tog is dit ook duidelik hoe sterk ’n fundamentalistiese lees van die Bybelteks steeds deur talle Bybellesers beoefen word, sodat die ware diepte van die betekenis van ’n bepaalde gedeelte dan dikwels grootliks verlore gaan.

Beginsels van Bybelinterpretasie

Daar sou sekerlik gepraat kon word van die beginsels van Bybelinterpretasie soos om jou in die benadering van ’n teks deeglik te vergewis van die tipe teks waarmee jy te make het; dan agtergrondkennis oor die teks in te win; bewus te wees van stilistiese verskynsels in die teks; ensovoorts. Die belangrikste is waarskynlik om die konteks van ’n bepaalde teks deeglik te verreken.

’n Teks altyd in konteks

Soos woorde net in sinsverband, en sinne in teksverband betekenis het, staan tekste altyd ook in ’n wyer verband – ’n konteks. Konteks handel oor die lewensverband van ’n teks. ’n Teks word deur ’n mens voortgebring, funksioneer in ’n menslike gemeenskap, en word deur mense gehoor of gelees en verstaan.

Drie aspekte van konteks word gewoonlik onderskei: die kontekste van die spreker, hoorder en uitlegger. As ons die Bybel lees, is kontekste 2 en 3 baie ver van mekaar verwyder. As ons daarmee erns maak, word Bybellees verryk.

Die Matteus-evangelie as voorbeeld

Ons kan die wonderlike teks van die Matteus-evangelie bloot in ons stiltetyd lees, of ons kan ’n bietjie dieper lees en vrae vra. Ons kan byvoorbeeld opmerk dat, anders as by die ander kanonieke Evangelies, ons herhaaldelik in Matteus hierdie woorde lees: ...dit het gebeur sodat die woord wat die Here deur die profeet gesê het, vervul sou word… Ons sou dan kon vra, wat sit hier agter by Matteus?

Dan sal ons op elemente soos die volgende afkom:

Die meeste navorsers is dit eens dat die Matteus-evangelie in ’n Palestynse Joods-Christelike omgewing waarskynlik teen 70 nC sy ontstaan gehad het.

Daar word aanvaar dat die spesifieke situasie in en behoeftes van die gemeente wat die skrywers in die oog het, naamlik dat hulle helderheid moes kry oor hul eie posisie ten opsigte van Israel en die Judaïsme, ’n groot rol in die samestelling van die Evangelie gehad het.

In die gemeente self, bestaande uit Jodechristene en heidenchristene, moes daar duidelikheid wees oor die geldigheid van die wet en die vervulling van die Ou Testament in die Nuwe Testament. Daarom die baie opvallende kenmerk waarin die Christologie in Matteus aangebied word deur van sogenaamde “vervullingsitate” gebruik te maak.

Daar is 12 vervullingsitate in 1: 23, 2: 6, 15, 18, 23; 4: 14vv; 8: 17; 12: 17vv; 13: 35; 21: 5; 26: 56; en 27: 9vv. Die helfte van die sitate is uit Jesaja afkomstig, verder uit Sagaria, Jeremia, Hosea en Miga.

Hoekom is die sitate so prominent in Matteus en nie by die ander Evangelies nie?

Geleerdes stem saam dat in die vervullingsitate die redaksionele aktiwiteit van die skrywer beslis te bespeur is. Deur hierdie sitate wou die skrywer nie bloot Jesus se optrede in die konkrete geskiedenis veranker nie, maar daarmee ook Jesus Christus verkondig.

Daar is natuurlik ook ’n duidelik apologetiese tendens in die sitate te bespeur, aangesien dit juis gaan oor sake waaroor daar ’n kontroverse tussen Christene en Jode was.

Tog gaan dit ook in hierdie gevalle om Christusverkondiging met behulp van Ou Testamentiese profesie – dit gaan om God se plan wat in die lewe van Jesus die Messias, soos deur die profete voorspel, in vervulling tree.

Nou lees ek as Bybelleser nie weer so vinnig oor so ’n sitaat nie, maar nou maak dit vir my baie meer sin. So begin ’n dieper ontdekking van die wonderlikhede in die Skrif wat deur wyer lees en navorsing vir die gewone Bybelleser kan ontvou, sodat die lesers ’n begrip vir die interpretasie van die Bybel ontwikkel wat ons verby die ongereflekteerde, oppervlakkige lees daarvan neem.

Want later kom ek weer op ’n ander unieke en interessante kenmerk van Matteus af en gaan lees en vra ek weer daaroor, totdat nog ’n nuwe perspektief oor die Evangelie en wat dit verder van die ander onderskei, weer vir my ontvou.

GLOmedia.tv

Ek het die voorreg gehad om Bybelskoollesings vir GLOmedia.tv op te neem met inleidende lesings oor enkele aspekte van die vier Evangelies en Handelinge. Ek bied daardie lesings ook nou weer hier in Horison aan, en dit is ’n lekker ontdekkingsreis saam met ’n Bybelstudiegroep wat aspekte van bekende tekste vir die eerste keer raaksien en wat ons Bybellees verdiep.

Nuwe waardering

’n Ongereflekteerde en oppervlakkige lees van die Bybel waarin die gebruiklike gewoonlik die aanhaling van tekste buite konteks is, word dikwels teruggevind wanneer daar verskil word oor sake wat brandpunte in die kerklike en teologiese debatte vorm. Deur ’n bietjie meer moeite met die lees van ’n teks te doen, kom ons nie net grootliks hiervan vry nie, maar open ons vir onsself die moontlikheid om die wonderlikhede van die Here se Woord te ontdek.

(Dr Gerhard Nel is leraar in Gemeente Horison Roodepoort)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap