Suid-Afrikaanse kore vaar al vir ’n hele aantal dekades skitterend in internasionale kompetisies en op verhoë. ’n Mens sou selfs verder kon gaan deur te argumenteer dat hierdie liefde vir koormusiek eg deel is van ons Afrikaanse kultuur. So word daar in hierdie stadium geskiedenis gemaak – juis in die wêreld van Afrikaanse koormusiek.
Min of meer vier jaar gelede het RSG saam met Hans du Plessis en Bernard Odendaal besef dat daar nie werklik ’n Paasoratorium in Afrikaans is nie. Almal is bekend met Bach se Johannespassie, maar in Afrikaans het ons nie werklik iets soortgelyk nie. Du Plessis en Odendaal ontwikkel toe ’n Afrikaanse libretto rondom die Paasverhaal. Hulle het Franco Prinsloo genader om dit te toonset. Dit was ’n enorme projek en dit het Prinsloo feitlik twee jaar geneem om die werk te voltooi.
Dit was ’n meesterstuk.
Die Paasoratorium, Kruis van Liefde, is in 2021 op Paassondag oor RSG uitgesaai, en in 2022 is die verfilmde weergawe op KykNet uitgesaai. Die stuk is besonder positief ontvang deur die publiek en kritici. Wat hierdie stuk so treffend gemaak het, was om die teks in ons eie taal te kon hoor. Jy het deel geword van die skare wat saam met Jesus geloop het soos wat Hy op weg was na die kruis. Dit was roerend om in Afrikaans te kon hoor hoe ’n moeder oor haar seun treur voor ’n kruis. Dit was merkwaardig om as misdadiger langs die kruis te kon hoor dat die Here jóú vergewe.
Met die sukses van hierdie oratorium het Prinsloo besluit om ’n tweede oratorium te komponeer. Hierdie keer was die Kersverhaal die fokuspunt. Die titel – Lig van Waarheid. Met die hulp van Chris Vale is liriese berymings uit die Halleluja-sangbundel en die Koraalboek van 1956, en enkele tekste uit die Sionsgesange van 1945, herbenut. Die teks vir die resitatiewe is uit die 1953- en 1983-vertaling van die Evangelie van Lukas geneem.
Nadat ek opnuut weer die wonderlike liedtekste van die Halleluja-sangbundel en die ou Koraalboek van 1956 bestudeer het, het ek besef watter ongelooflike poëtiese waarde hierdie tekste bied. Ek het doelbewus liedtekste wat onbekend aan my is begin versamel, spesifiek met die doel om die Kersoratorium te komponeer, vertel Prinsloo.
Die tekste besit ’n besondere ritmiese vernuf omdat dit juis geskep is om gesing te word. Dit is ongelooflik opwindend om nuwe lewe in hierdie soms vergete tekste te blaas met nuwe toonsettings, vervolg Prinsloo.
Wat verder interessant is, is dat Prinsloo in die Hervormde Kerk Middelburg-Noord grootgeword het. Dit is vanuit sy liefde vir die kerk en ook klassieke kerkmusiek dat hy wou bydra tot die Afrikaanse liedereskat van die kerk.
Die musiek is daarom bedoel vir die kerk. In die nuwe Kersoratorium is daar selfs ’n gedeelte waar die gemeente kan saamsing en so deelneem aan die verkondiging. Dit is daar om te inspireer en om die boodskap van die evangelie op ’n nuwe, vars manier uit te dra na die wêreld. Mag hierdie tipe kuns vir generasies vorentoe steeds vertroosting, bemoediging en hoop bring.
(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)