Met verloop van jare het daar dramatiese ontwikkeling plaasgevind wat die Kerk se eredienste betref. Sommige gemeentes het egter so gestagneer dat hul eredienste nog dieselfde lyk as 50 jaar gelede.

Die hou van eredienste is feitlik so oud soos die mensdom self. Feitlik almal van ons het van kindsbeen af in die erediens gekom, en vanuit ’n erediens sal ons eendag ter ruste gelê word.

Predikante en kerkrade roep voortdurend lidmate op om eredienste by te woon. Die noodsaaklikheid van erediensbywoning word vir katkisante ingeprent. Dit is egter opvallend dat die verskillende elemente of dele van die erediens en hul plasing nie baie met gemeentelede gekommunikeer word nie. Dit word waarskynlik beskou as vanselfsprekend.

Verskillende kerke het verskillende standpunte oor die erediens. Baie charismatiese kerke oordeel dat daar geen vaste voorskrifte moet bestaan vir die inrigting van eredienste nie. Volgens hulle moet die Heilige Gees elke keer opnuut die liturg lei om die erediens in te rig volgens sy of haar oordeel.

Die Hervormde Kerk oordeel egter dat drie komponente rakende eredienste van die grootste belang is: Wat sê die Bybel oor die erediens? Wat is belangrik uit die geskiedenis of tradisie wat gehandhaaf moet word? Wat is die behoefte van die lidmate in die algemeen en van die besondere gemeente?

In die meeste Hervormde gemeentes kry ons die volgende twee beskouings:

  • Om willekeur te vermy, wil sommige beoefenaars van die liturgiek dat die Kerk net een diensorde voorskryf en net een wyse waarop die verskillende erediensdele ingerig word, en al die gemeentes van die Kerk moet dit so doen.
  • Ander oordeel dat ’n kerk sinodaal besluit oor verskillende diensordes en verskillende wyses waarop die verskillende dele van die erediens ingerig kan word. Elke liturg besluit dan met elke erediens hoe die erediens ingerig sal word. Nie net die prediking is belangrik nie, maar elke deel van die erediens. Ons maak nie meer net ’n preek nie, maar ’n erediens.

Met die maak van die erediens is die volgende breë uitgangspunte belangrik:

  • Die erediens is ’n ontmoeting tussen God en sy gemeente.
  • God se eer staan in die middelpunt van die erediens.
  • Die erediens is Woord van God en antwoord van die gemeente.
  • Die erediens vind plaas tot eer van God.
  • Die erediens vind plaas met die oog op wekking en versterking van die geloof.
  • Dit is ’n samekoms van ’n gemeente en nie net ’n willekeurige groep mense nie.
  • Dit is koinoniaal (stig onderlinge bande tussen teenwoordiges).
  • Dit is missionaal (roep gelowiges op tot getuienis teenoor die mense wat hul pad kruis).
  • Dit is ordelik.
  • Dit het ’n feeskarakter.

Om betrokkenheid by die erediens te bewerk, is die volgende ook belangrik:

  • Elke deel van die erediens word so aangebied dat die gemeentelede betrokke kan wees.
  • Deurlopende toerusting met betrekking tot die erediens vind plaas tydens kategese, die pastoraat, die prediking en besondere geleenthede wat daarvoor geskep word.
  • Sinvolle afwisseling van liturgiese ordes vind plaas.
  • ’n Eredienswerkgroep besin en gee op plaaslike vlak leiding oor die erediens.

Feitlik al die liturgiese gebruike in die Hervormde Kerk het hul oorsprong in Nederland. In 1652 met die koms van Jan van Riebeeck is die erediens soos dit in Nederland tydends die Sinode van Dordrecht in 1574 bestaan het, na Suid- Afrika oorgeplant. Van die belangrikste besluite wat op die verskillende sinodes rakende die erediens geneem is, is die volgende:

  • Daar word ’n diens in die oggend gehou, 12:00 uur ’n diens uit die Kategismus, en 16:00 nog ’n diens.
  • Die erediens moet nie ’n uur oorskry nie. Om die duurte aan te dui, is gebruikgemaak van ’n sandloper.
  • Voor die diens word ’n hoofstuk uit die Bybel deur die voorleser hardop vir die gemeente gelees. Die koster lui die klok, en die voorleser lees die voorsang deur ter wille van die mense wat nie kan lees nie. Die predikant kom onder hierdie lied in en ontvang ’n handdruk van een van die ouderlinge. Die predikant begin dan met onze hulp. Daarna volg ’n gebed, prediking en nog ’n gebed.
  • Die gebed voor die preek was bedoel om die hulp van die Here in te roep vir leiding tydens die erediens. Die tweede gebed was hoofsaaklik ’n gebed vir alle nood. Sit of staan tydens gebede en liedere is beskou as gemiddelde sake waaraan nie veel aandag gegee moet word nie.
  • In 1577 gee Datheen die Geneefse Psalter in Nederlands uit. Agterin was ’n Nederlandse vertaling van die Heidelbergse Kategismus, en formuliere met formuliergebede. Naas die Psalms het Datheen se Liedboek ook enkele Gesange bevat. Slegs Datheen se berymde Psalms mag tydens die erediens gebruik word. In 1807 is naas die Psalms ook die Evangeliese Gesange aanvaar. (Dit het gelei tot die afskeiding van die Gereformeerde Kerk.) In die meeste Reformatoriese kerke is orrels gebruik vir die begeleiding van die sang. Vanwee Zwingli se invloed was daar egter gemeentes wat dit nie gebruik het nie. Eers in die 18de eeu het dit algemeen in Nederland geword.
  • Die Doop as teken van die verbond moet met Woordbediening en ’n formulier plaasvind so gou moontlik na die geboorte van ’n baba.
  • Die wyse van Nagmaalbediening word nie aan gemeentes voorgeskryf nie. Staan, sit of loop is gemiddelde sake waaroor nie geredeneer moet word nie. Kniel is egter verbied aangesien dit kan voorkom of die brood aanbid word. Daar is aanbeveel dat Nagmaal ook tydens kerklike feesdae bedien word. Nagmaal sal nie tuis bedien word nie. Sommige gemeentes het tweeweekliks Nagmaal bedien, ander tweemaandeliks, en party elke drie maande. Mans en vroue het apart aan die Nagmaaltafel gesit. Die brood wat oorgebly het, is aan die minderbevoorregtes uitgedeel. Die Nagmaal is voorafgegaan deur 14 dae van streng voorbereiding. Op 14-jarige ouderdom is die kinders aan die hand van vrae ondersoek en daarna toegelaat tot die Nagmaal.
  • Op Kersdag, Goeie Vrydag en Paassondag kom die gemeente saam vir erediens. Dit is aan kerkrade oorgelaat om self te besluit of hulle op Hemelvaartdag ’n erediens wil hou.

Die volgende algemene tendense het in die vroegste tye in Suid-Afrika bestaan:

  • Daar het ’n bundel liturgiese formuliere en gebede bestaan.
  • Daar was ’n bepaalde liturgiese orde sonder dat dit sinodaal bepaal is.
  • Die preek was ’n leerrede.
  • Dit het hoofsaaklik net om die preek gegaan. Al die ander elemente van die erediens is gesien as versiering van die preek.
  • Die voorgebed was gewoonlik baie lank en daarin is ook gebid vir alle nood en ellende.
  • ’n Intreelied was algemeen.

Diepgaande besinning oor die liturgie het in die Kerk agterweë gebly. Dit het eers as ’n selfstandige teologiese vak met die koms van prof JI de Wet in 1964 gebeur. Selfs toe nog het predikante hulle oor die algemeen net bekommer oor die preek, en die res van die erediens is as minder belangrik beskou.

Aan die begin van die 1960’s het daar in die Kerk hoofsaaklik net een diensorde bestaan. Feitlik alle eredienste het soos volg verloop: Lofsang; votum en seëngroet; tien gebooie; geloofsbelydenis; gebed; sang; Skriflesing; sang; preek; dankgebed; slotsang; seën; deurkollekte.

In 1961 het die Algemene Kerkvergadering opdrag gegee dat ’n diensboek opgestel moes word. Die doel van die diensboek was die bevordering van die goeie orde in die eredienste en die bekamping van willekeur (Diensboek NHKA 1977:5). Nadat verskillende AKV’s oor die inhoud van die diensboek gehandel het, is ’n diensboek op die vergadering van 1975 aanvaar. Hierdie diensboek is nie as ’n finale produk beskou nie. Die amptelike vergaderings van die Kerk sou voortgaan om die erediens in die lig van die Woord te bestudeer en in sy diensboek te herskryf as dit nodig sou wees.

Die diensboek wat in 1977 verskyn het, het uit die volgende gedeeltes bestaan: Voorwoord; die Christelike erediens; die diensformuliere; die ekumeniese belydenisse; Christelike gebede vir gebruik in die erediens; die sieketroos; en historiese aantekeninge.

In genoemde diensboek word vyf erediensordes aanbeveel vir gebruik. Vir die eerste keer in die geskiedenis word aanbeveel dat die liturgie in eredienste moet wissel. Volgens Orde A en Orde B is dit nou ook moontlik om wetlesing, skuldbelydenis, genadeverkondiging en geloofsbelydenis ná die prediking te plaas. Vir die eerste keer word skuldbelydenis en genadeverkondiging as selfstandige elemente in die erediens benut.

Voortgaande besinning oor die erediens het daartoe gelei dat die AKV van 1983 opdrag gegee het vir die herskryf van die diensboek. In hierdie diensboek is die drie belydenisskrifte van die Kerk opgeneem. Die beskrywing van die erediens is egter verskraal tot enkele prinsipiële riglyne. Die diensordes is in hierdie diensboek tot 15 uitgebrei. (Prof Daan Booysen was in daardie stadium die voorsitter van die Raad vir Belydenis en Liturgiese Geskrifte. Dr Hannes Beukes, sekretaris van die Raad, was grootliks verantwoordelik vir die skep van die diensordes.)

Met die oog op sinvolle hervorming en die bekamping van ongemotiveerde willekeur, het die AKV van 1992 ’n breë teologiese en praktiese beskrywing van die erediens aanvaar. Volgens hierdie beskrywing is Skriflesing, prediking, gebed en sang beskryf as die kern, die wesenlike elemente van elke erediens. Die moontlikheid is gelaat om die verskillende eredienselemente op verskillende wyses in te klee. Woord-en-Lied-eredienste vind ook in sommige gemeentes plaas. Naas die orrel word soms ander instrumente, elektroniese borde en CD’s benut.

Na die afsterwe van prof JI de Wet in 1983, het prof TFJ (Theuns) Dreyer die hoof van praktiese teologie-opleiding in die Hervormde Kerk geword. In 1989 is prof MJ du P (Bieks) Beukes aangestel in die Sentrum vir Voortgesette Teologiese Opleiding in die teologiese fakulteit van die Hervormde Kerk aan die Universiteit van Pretoria. Sedert prof De Wet se dood was prof Dreyer verantwoordelik vir homiletiek en prof Beukes vir liturgiek. Beide het hierdie twee vakke hanteer as volledige teologiese wetenskappe, maar het ook ander wetenskappe soos opvoedkunde, sielkunde, didaktiek en elektronika benut ten dienste van die dienswerk van die Kerk.

’n Besondere hoogtepunt in die Kerk was die toelating van vroue tot die ampte, veral ook met die oog op dienswerk tydens eredienste. In 1973 is onder meer Susan Scheepers (eggenote van ds Skip Scheepers) en nog ’n paar dames van die destydse Normaalkollege verkies as diakens. In dieselfde jaar is Ann Kay (moeder van ds Jan Kay) in Durban-Suid verkies.

In 1979 is vroue toegelaat tot die ampte van predikant en ouderling. Een van die eerste vroue-ouderlinge was Vera Koekemoer van Randburg. In 1980 het Yolanda Dreyer die eerste vrouepredikant in die Hervormde Kerk geword. In 2000 het sy ook die eerste vroueprofessor van die Hervormde Kerk in teologie aan UP geword.

In opdrag van die AKV het die Algemene Kommissie in 2006 die volgende persone benoem om te werk aan verkorte formuliere en ’n kernagtige omskrywing van die erediens en inkleding daarvan: Proff Ernest van Eck, Gert Pelser, Bieks Beukes, AD Pont, dr Gerhard Lindeque en ds Annerie Conradie. Prof Pont het egter hierdie komitee by die Algemene Kommissie aangekla van kettery. Van hierdie klag het niks gekom nie, maar die Algemene Kommissie het toe, sonder enige gesprek, skrywe of verduideliking, ’n ander komitee benoem wat voortgegaan het met die verkorting van die meeste van die formuliere.

Tot ongeveer 2000 het stadsgemeentes en groter plattelandse gemeentes eredienste in die oggend en die aand gehou. Vanweë verskeie faktore het die aanddienste mettergaan verdwyn.

Tans gaan die werkgroep vir gemeentebediening onder leiding van ds Hannes van der Merwe voort om voortreflike werk te doen rakende besinning oor die erediens in die moderne tyd.

In baie gemeentes van die Kerk is daar tans dinamiese, sinvolle, verantwoordbare liturgiese ontwikkeling. Baie predikante maak nie meer net preke nie, maar eredienste. Elektroniese middele word skitterend gebruik. Naas die orrel word ook ander instrumente benut. Sedert 2014 word Vonkk-liedere ook in die erediens gebruik.

Daar is ongelukkig ook gemeentes wat stagnant steeds die volgende as taboe in hul eredienste beskou: Vroue op die preekstoel; mans wat sit tydens gebede; benutting van moderne tegnologie; benutting van ’n koor; ander musiekinstrumente as die orrel; kinderkerk vir die jonger kinders; en die sing van Flam- en Vonkk-liedere. Dit is ook onverstaanbaar en hartseer dat ons Kerk steeds nie kinders van gelowige ouers toelaat om Nagmaal te gebruik nie.

Sedert die uitbreek van Covid in 2020 stuur die Kerk se Algemene Diakensvergadering onder leiding van ds Gerhard Stoltz en diaken Wilna Gates daagliks boodskappe uit aan lidmate van die Kerk. Witfontein en ander gemeentes saai elke Sondag wêreldwyd ’n erediens uit. Vanuit Zambië is daar daagliks ’n boodskap van ds Peet Swanepoel.

Daar is orreliste, kosters, skribas, kassiere, kerkrade, sekretariële beamptes en lidmate op verskillende vlakke wat hul lewens gewy het en steeds wy aan dienswerk in die Kerk, veral wat die erediens betref. Die besondere werk van prof Elsabé Kloppers, ds Hannes van der Merwe en ander wat kerksang en begeleiding betref, mag nie vergeet word nie. Nog minder proff Bart Oberholzer, Andries Breytenbach, Jan Barkhuizen, Piet Venter en ander se voortreflike werk met Bybelvertaling.

*** Met dank aan mnr Nándor Sarkady, argivaris van die NHKA se Kerkargief, vir sy hulp met navorsing vir hierdie artikel.

 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap