Broers en susters in ons Here Jesus Christus: 
Geen ander gedeelte in die Bybel wat oor die Kersgebeure handel, skets vir ons die geboorteverhaal van Jesus so meevoerend soos juis hierdie verse nie. Lukas 2 is sinoniem met Kersfees. Dit roep herinneringe en assosiasies op by oud en jonk. Emosies van kleintyd word by die lees of aanhoor hiervan altyd weer wakker gemaak.

Dit is inderdaad ook die bedoeling van hierdie verhaal! Nie net is dit ‘n netjiese uiteensetting van die tersaaklike feite nie, maar dit betrek ook elkeen—die destydse mens én ook die leser van vandag. Dit dwing ons tot beslissing. Dit word veral duidelik wanneer mens die verhaal vir ‘n oomblik bekyk deur die oë van die mense wat hier ter sake is. Deur fyn te kyk en te luister na elke betrokkene se reaksie, word óns ook bewus van ons verantwoordelikheid. Vier groepe (of individue) kan hier onderskei word: twee voor die geboorte en twee daarna. Augustus en Josef enersyds en die skaapwagters en Maria andersyds.

Die styl van hierdie hoofstuk laat verder twee sake opval: die verwysing na tyd en die verwysing na sê/praat. Heelwat kere lees ons van tydsuitdrukkings soos “in daardie tyd”, “terwyl”, “toe”, “nadat”, “vandag” e.a. en nie minder nie as elf keer lees ons van woorde soos “sê”, “vertel”, “loof en prys”. Die onmiddellike afleiding wat ons nou hieruit kan maak is dat ons hier met ‘n gebeurtenis enersyds en met die vertelling (verkondiging) daarvan andersyds te make het. Jesus is feitelik gebore en nou moet hierdie gebeurde deur en aan mense uitgedra word.

Keiser Augustus moes die historiese situasie van die geboorteverhaal bied. Die geboorte is dus nie ‘n sprokie of ‘n slaaptydstorie vir kinders nie! Nee, dit is feite binne ‘n baie pertinente historiese konteks. Josef weer is die direkte afstammeling van koning Dawid. ‘n Naam wat ook drie keer hier voorkom. Die verhaal speel af in die Dawidstad, Bethlehem. Dit is opmerklik dat Lukas sy verhaal met ‘n volkstelling begin, terwyl die Dawidverhaal weer met ‘n volkstelling afsluit (2 Sam 24)! Dit wil dus impliseer dat Jesus die beloofde Messias is, die Verlosser van Israel!

Die skaapwagters se rol is weer om hierdie waarheid te vertel. Belangrik dat dit juis húlle moes wees — die uitskotte van destyds! Hulle getuienis was nie eers destyds in die howe aanvaar nie! Hoe wyd strek God se liefde nie. Daarom beskaam hulle ons dat juis hulle dadelik begin vertel het van wat gebeur het. Soos konsentriese sirkels moet die woord nou versprei. Verse 18 praat al dalk van ander mense wat op die skaapwagters se woord gereageer het! Ook Maria wat diep nagedink het oor alles, se reaksie is grootliks toe te skryf aan wat die skaapwagters vertel het. So lei die feit na die vertel na die nadenke.

Vers 18 sê dat die mense “verwonderd” was en vers 19 sê dat Maria daaroor “nagedink” het. Ons het hier byna soos trappe, die pad van geloof: verwondering en nadenke. Dit was Plato wat gesê het dat alle filosofie begin met verwondering; uit die verwondering kom die nadenke en dit weer lei tot begrip. Ons sou nogal kon saamstem. Dink maar aan ‘n kind se leerproses wat hierdie stadia as ‘t ware net so deurgaan.

Geloof ken ook grootliks hierdie stadiums. Jy verwonder jou aan die wonders van God, die geboorte, die opstanding… Tog verwonder baie hulle nie meer nie, maar wonder hulle eerder hieroor. Maar dit maak nie saak nie! Wonder hieroor is dieselfde as die diep nadink van Maria. Die verstand word dan by die hart betrek. En hierdie—die wisselspel tussen verwonder en wonder—is ‘n onafgehandelde proses, jou hele lewe lank.

Anders as in die filosofie, lei geloof egter nooit tot begrip nie. Kyk weer na die skaapwagters: “Die skaapwagters het toe teruggegaan terwyl hulle God loof en prys oor alles wat hulle gehoor en gesien het”. Ons kan God nie begryp nie, ons kan Hom net aanbid. Die verwonder het wonder geword, en dit weer het oorgegaan in bewondering!

Die skaapwagters het teruggekeer na hulle skape toe. Hulle werk en verantwoordelikheid het nie opgehou nie. Verwonder u u oor die geboorte? Of wonder jy dalk al daaroor? Hoor die getuienis en bewonder ook die genade en liefde van God — juis daar waar jy woon en werk. Immanuel! 
Amen

Share via
Copy link
Powered by Social Snap