Ds Willem Sauer

Ek sit saam met die ma van ’n tienerseun wat kanker het. Hoe hard, banaal klink dit nie, wat kanker het… Hy ly al vir langer as ’n dekade aan die siekte. Vir langer as ’n dekade word hulle permanent gekonfronteer deur die werklikheid van kanker.

Ek sit daar en ek wonder, hoe hanteer ’n mens so ’n swaard wat oor jou kop hang? Hoe hanteer ’n mens siekte, hoe hanteer ’n mens verlies, hoe hanteer ’n mens die dood? Gelukkig het dr Tanya van Wyk in haar artikel met die opskrif Hou die dood daagliks voor oë – dit is die sleutel tot ’n ruim lewe die saak van die dood treffend bespreek.

Ek is hierdie jaar in my eie lewe gekonfronteer deur verlies – in my geval die verlies van die gebruik van my regteroog. In Februarie het ’n aar in my regteroog gebars. Die uiteinde is dat ek ’n maand later geopereer is om die retina van my regteroog wat totaal losgelaat was, te herstel. Ek sal nooit die woorde van die retinaspesialis vergeet nie toe hy vir my sê dat ek in ’n te laat stadium by hom uitgekom het en dat hy alles in sy vermoë sal doen om my oog te red, maar ek moet weet dat ek sig in my regteroog gaan verloor. Ons hoop dat ons 60% sig kan behou, want dit is wat nodig is om te lees.

Op daardie oomblik is ek, wat tot vanjaar eintlik baie gesond was, gekonfronteer met iets wat baie lidmate ervaar, naamlik die hantering van verlies. Wat doen ek indien my sig in my regteroog minder as 60% is? Hoe gaan ’n mens aan met die lewe? Hoe hanteer ’n mens dit?

By een van die Bybelstudiegroepe in ons gemeente kom ’n lidmaat na my toe. Iemand vir wie ek nog altyd die grootste respek het omdat sy, ondanks die feit dat sy feitlik niks kan sien nie, steeds alleen woon, ’n goeie diaken is en self oor die weg kom. Sy gee vir my ’n vergrootglas, een wat sy nie meer gebruik nie, maar wat ek nou kan kry… En skielik vat die vergrootglas my terug na my gesprek met die ma van die tiener met die kanker. Hoe hanteer julle dit, het ek haar gevra: Ons sien dit so, die lewe deel jou ’n hand van kaarte en jy moet dit speel. Dit help nie jy gooi ’n tantrum en skree en raas nie; speel jou kaarte, anders raak jy mal… Skielik besef ek dat as die lewe vir jou ’n slegte hand uitdeel, jy maar moet speel en glo en die beste maak van wat jy het. Opgee is nie ’n opsie nie.

Ek weet nog nie wat die persentasie gebruik van my regteroog gaan wees nie, maar ek weet ek sal die hand kaarte wat vir my uitgedeel word speel, want ek is nie alleen nie, God is die heeltyd by my.

Verlies kan op baie maniere kom. In hierdie uitgawe groet ons ’n aantal predikante wat emeritaat aanvaar het. Die meeste van hulle ken ek goed, ek het ’n pad met hulle gestap. Hoe hanteer hulle, wat almal nog baie lewe in hulle het en nog baie in die Kerk kan en wil doen, hul verlies? My goeie vriend en mentor, dr Barry van Wyk, sê altyd dat die ouderdom van 65 waarop ’n mens sogenaamd moet aftree, ’n getal is wat die samelewing uit verleentheid uitgedink het om plek te maak vir jongmense in die arbeidsmag. Almal wat 65 is, is nie oud nie. Hoe hanteer jy dan skielik die verlies van die ruimte waarin jy jou roeping as leraar kon uitleef? Vriende, speel die kaarte wat nou vir julle uitgedeel word met dieselfde ywer as waarmee julle tot hier gewerk het.

In hierdie uitgawe vra dr Johan van Staden wat ons as Hervormde Kerk kan leer uit die sogenaamde Gaum-uitspraak. Dit is ’n aangeleentheid waaroor ek glo ons as Kerk nog nie klaar gepraat het nie. Maar net so dringend soos hierdie saak van enkelgeslagverhoudings, is ook die saak van die jeug in ons land. Wat sê die Kerk oor jong mans wat hul meisies vermoor? Van kinderbendes wat mense doodslaan en doodskop? Wat sê die Kerk oor al die sake waarvan ons lees waar egpare mekaar vermoor? Kan die Kerk langer stilbly terwyl die wêreld daar buite brand?

Lees ook gerus dr Wim Dreyer se artikel oor grepe uit die geskiedenis van die Hervormde Kerk.

Hierdie maand is daar ook die tweede vertelling deur Oupa Stoep. Hy vra: Vanwaar die toga? En verduidelik dan op sy treffende manier hoekom dominees in ons Kerk togas dra. Doen so voort, Oupa Stoep!

Ek sluit graag af deur iets te sê oor die voorbladartikel. Ons het verskillende onderwerpe oorweeg as voorbladtema, maar op die ou end besluit om dr Gerhard Nel te vra om ’n positiewe Paasboodskap te skryf. Lees dit gerus, want dit sal jou help om met nuwe oë die hand te speel wat jy gekry het.

Paasgroete!

Share via
Copy link
Powered by Social Snap