Jesaja 60: 1-6; Matteus 2: 1-12
Die bestudering van die sterre bring die sterrekykers tot in Jerusalem. Hier profeteer hulle dat daar ’n koning gebore is. Die sterrekykers kon nie net met die stervisioen vir Jesus vind nie. Daarvoor was die skrifte nodig. Die leierpriesters en skrifkenners van Jerusalem het weer die skrifte. Hulle haal dit aan (Miga 5) en kan dit vir koning Herodes uitlê. Ook hulle kon nie die Christus vind nie, want hulle soek Hom nie!
Epifaniefees is die verskyning van Jesus Christus in ons wêreld. Volgens Matteus is die ster van Betlehem die eerste sigbare teken dat die Messias teenwoordig is in ons wêreld. Dié verhaal verkondig dat die koms van God na ons wêreld ook vir heidene bedoel is, en dat die lig van Jesus Christus ook aan hulle gebied word. Die verhaal waarsku ons teen geestelike blindheid: God wat ons wêreld binnekom deur die Christus wat gebore is in Betlehem; God wat daagliks na ons kom deur sy Woord en Gees; en weer sal kom om vir ewig by ons te wees; maar ons eer Hom nie. Ons erken Hom nie as die Here van ons lewe nie. Ons lewe vir die hier en die nou en nie met die oog op sy wederkoms nie. Ons praat mekaar ook nie moed in oor Christus wat weer kom nie (1 Tess 5: 11).
Die simboliek van die ster van Betlehem lê veel dieper as die een wat aan die boonste punt van die Kersboom hang. Die ster van Betlehem is vir ons ’n blywende simbool van die duisternis wat aan die verbygaan is en die ware Lig wat reeds skyn.
Johannes beskryf die verlossing wat Christus bring as ’n lig wat in die duisternis skyn. Selfs nie eens die donker van die graf kon hierdie lig uitdoof nie (Joh 1: 4-5). Dit is hierdie Lig wat die sterrekykers vind as hulle die ster tot in Betlehem volg. Dit is ook hierdie Lig wat ons vind wanneer ons die Woord van God lees en die Heilige Gees ons harte met die blye nuus verlig!
Ds André Thomas, Oos-Moot
