Markus 14: 1-9 (AFR2020)

In PG du Plessis se drama Siener in die Suburbs sê Tiemie: O, ek wou so graag van geweet wees. Tiemie het ’n naam gehad waaraan sy geken en onthou kon word. Elke keer wanneer lesers Tiemie se woorde lees, sal hulle haar as denkbeeldige karakter onthou. Die naamlose vrou in Markus 14 is geen denkbeeldige karakter nie en word tot vandag toe van geweet. Hoe het dit gebeur?

Dit is interessant dat Markus en Matteus net noem van ’n vrou wat met ’n albasterfles egte, kosbare nardusolie by Simon die Melaatse opgedaag het terwyl almal vir ete aangeleun het. Wie sou sy wees? Naamloos daag sy op met ’n geskenk van driehonderd denarius, die ekwivalent van ’n arbeider se loon vir ’n volle jaar. Die nardusolie was afkomstig van die nardusplant wat in Noord-Indië gegroei het, dus skaars en peperduur.

Jesus en die ander gaste het by die tafel aangeleun. Dalk het diegene aan die tafel haar aanvanklik as ’n diensmeisie beskou. Die geluid van die albasterfles wat breek, het vir seker almal se aandag getrek waar sy haarself agter Jesus geposisioneer het om die kosbare olie oor sy hoof uit te giet. Dit herinner aan Psalm 133: 2 (AFR2020): Dit is soos kosbare olie op die kop wat afloop op die baard, die baard van Aäron, wat afloop oor die kraag van sy klere. Konings en hoëpriesters is met olie gesalf deur dit op hul hoofde uit te giet. Die salwing dui op Jesus se koningskap en die inskripsie aan die kruis (Mark 15: 26) getuig daarvan: Die koning van die Jode. Jesus noem ook dat die salwing met nardusolie op sy naderende begrafnis dui (Mark 14: 8).

Ongeag die verontwaardiging oor die verkwisting, het Jesus haar goeie daad aangeprys. Hy erken dat armes versorging nodig het, maar Hy het ook waardering vir haar wyse van aanbidding. Die woorde van Markus 14: 9 (AFR2020) is betekenisvol: … daar sal ter herinnering aan haar, vertel word van wat sy gedoen het. Dié naamlose sal vir altyd onthou word.

Dr André Ungerer, Hervormde Teologiese Kollege

Share via
Copy link
Powered by Social Snap