Efesiërs 3: 14-21; Jesaja 40: 31

Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word (Ef 3: 16).

Elkeen van ons het ’n letsel of twee wat ons al in die lewe opgedoen het. Fisiese letsels wat sigbaar is op ons liggaam het die geneigdheid om uit te loop op die vraag: Wat het daar gebeur? Ek het self ’n paar letsels wat ’n sigbare getuienis is van my grootwordjare en wat ’n stille herinnering is aan die grense wat ons as kinders oorskry het terwyl ons gespeel het.

Letsels kan egter ook geestelik en emosioneel van aard wees. Verliese, soos wanneer ons ’n geliefde aan die dood afstaan of wanneer ons voel dat ons gebede onbeantwoord bly, kan geestelike letsels in ons lewe veroorsaak. Kinders bevind hulle in die middel van emosionele uitdagings wanneer hulle geboelie, uitgetart en gespot word en later selfs begin glo dat hierdie kwetsende woorde waarheid bevat. Dalk beleef jy hierdie uitdaging vandag in jou werkplek of in jou eie huishouding waar jy emosioneel gedreineer voel. Jou menswaardigheid en vertroue in God en jouself hang dalk aan ’n baie dun draadjie. Daardie welbekende hoekom wat ons vra, wat uit ’n plek van desperaatheid kom en met tye so lank onbeantwoord in ons lewe bly, het al menige keer op twyfel uitgeloop en ’n geestelike letsel gelaat wat ons laat voel dat ons gebede nie verhoor word nie.

Die gebed in Efesiërs 3 en Jesaja 40: 31 wil ons vandag opnuut verseker dat God se lewegewende krag ons hoop en redding is. Mense se woorde en dade, myne en joune ingesluit, kan verwoesting saai, of dit kan opbou en herstel. God roep ons op en herinner ons daaraan dat Hy deur sy Gees aan ons die krag gee om innerlik sterk te word. Mag jy opnuut besef dat daar niks is wat jou van die liefde van Christus kan skei nie en dat Hy jou vervul met sy krag – ’n krag wat alles oortref en wat jou lei tot genesing en innerlike versterking. 

Ds Jaco Vogel, Rooihuiskraal

Share via
Copy link
Powered by Social Snap