Johannes 11: 45-57
Jesus se woorde en optrede hier op aarde het uit die staanspoor uiteenlopende gevolge. Dit is óf ’n bron van aanstoot en teenstand óf dit wek geloof. In byna elke geval is dit ’n geval van misverstaan. Wanneer Jesus sê Ek is die brood wat lewe gee, is die teenvraag Hoe kan ons sy liggaam eet? Jesus se oormag by die opwekking van Lasarus ontbloot die onmag van die Joodse godsdienstige leiers.
Jesus wek Lasarus uit die dood op. Baie van die Jode het tot geloof gekom, terwyl ander bekommerd is oor die gevolge van Jesus se optrede. Hulle is selfs bevrees dat al die mense in Hom glo, en dan maak die Romeine hul heilige plek toe en laat die hele nasie verlore gaan. Kajafas, daardie jaar se hoëpriester, stem nie saam nie, maar vermaan hulle ernstig: Julle verstaan niks! Sy profetiese woorde verwoord die reddende werk van God in en deur Jesus Christus. Jesus se sterwe sou die kinders van God wat oor die hele wêreld versprei is, tot een volk bymekaar bring. Jesus se oormag en Kajafas se woorde om dit te bevestig, dring die teenstanders tot net een gevolgtrekking: Jesus moet doodgemaak word!
Vandag nog het Jesus se woorde een van twee uitkomste: Glo, gehoorsaam en volg; of glo nié en leef sonder die Here. Waar bevind ons ons in hierdie situasie? Ons het die Woord van God waaruit ons leer. Die Heilige Gees skenk die gawe van geloof. Is Jesus Christus die eerste en die meeste in ons lewe, of is ons besig met ons lewe sonder om werklik te verstaan wat Jesus Christus vir ons gedoen het?
Vraag en antwoord 1 van die Heidelbergse Kategismus dring ons tot volle geloofsoorgawe dat God die werk van sy hande nooit laat vaar nie: Wat is jou enigste troos in lewe en sterwe? Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus, behoort.
Gebed
O Heer van nasies, aan u sorg
wil ons ons toevertrou;
ons wil die toekoms op u Woord
en u beloftes bou.
(Gesang 282: 6)
Ds Leon Geel (sr), Grimbeekpark
