Johannes 4: 43-54

Johannes doen moeite om aan te toon dat Jesus se eie mense Hom deurgaans verwerp. Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie (Joh 1: 11). Dat Jesus gekies het om ’n gebied te besoek waar Hy nie geëer word nie, lyk vir ons vreemd, maar vir Hom was dit van die begin af deel van die plan. Jesus sou ten spyte van die teenstand aanhou om Homself vir sy eie mense aan te bied. Hy word deur die Galileërs verwelkom, maar Hy is nie eintlik welkom nie. Hulle glo skynbaar, maar eintlik glo hulle glad nie. Teen hierdie agtergrond het die regeringsamptenaar by Jesus opgedaag met die versoek om sy kind, wat tot die dood siek was, te genees. Maar was hy nie ook maar soos die Galileërs nie? As julle nie tekens en wonders sien nie, glo julle eenvoudig nie (Joh 4: 48). Waarskynlik het Jesus hom met hierdie afranseling getoets. Hy het nie eens daarop gereageer nie. Hy het bloot sy versoek herhaal: Here, kom tog voordat my kindjie sterwe (Joh 4: 49). Waarop Jesus hom in vers 50 wegstuur met die woorde: Gaan maar huis toe, jou seun lewe.

Met hierdie wonderteken van Jesus help Johannes ons om die sondige ingesteldheid en blindheid van die Galileërs raak te sien en te vermy. Terselfdertyd beklemtoon hy die heerlikheid van Jesus – sy barmhartigheid en onbeskryflike deernis met mense. In ’n omgewing waar ongeloof en valse geloof aan die orde van die dag was, genees Jesus die seun enkel en alleen omdat Hy ’n genadige God is. Geen sprake van verdienstelikheid of meriete nie. Jesus illustreer nie net sy genade nie, maar ook sy Goddelike mag en krag. Soos God slegs deur te praat die ganse skepping tot stand bring, netso, deur slegs te praat, genees Jesus die seun – oor ’n afstand en onmiddellik.

’n Sterwende seun ontvang die gawe van lewe. Die hele gesin kom tot geloof in Jesus. Dit is wat Jesus in sy heerlikheid gedoen het – die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.

Het jy al Jesus se heerlikheid gesien?

Ds Errol Sheppard, Rietspruit

Share via
Copy link
Powered by Social Snap