Johannes 20: 19-31
Kerke regoor die wêreld bely elke Sondag: Christus het opgestaan, Hy lewe!
Dis egter nie ’n belydenis wat alle mense op hul lippe sal neem nie. Selfs so vroeg as die tyd van Paulus was daar mense wat nie saam met Christene kon of wou bely dat Jesus opgestaan het nie (1 Kor 15: 12). Ook Tomas het gesê hy sal nie glo dat Jesus opgestaan het nie, tensy hy die merke van die spykers in Jesus se hande sien, sy vinger in die merke van die spykers steek en sy hand in Jesus se sy steek (Joh 20).
In ons tyd is dit ook ’n oortuiging wat al meer na vore kom. Mense is van mening dat, omdat daar geen historiese bewyse aangebied kan word vir Jesus se opstanding nie, dit nie geglo kan word nie. Sien is glo, is die spreekwoord. Van die besware wat aangebied word, is dat daar geen ooggetuie tydens Jesus se opstanding was nie. Ons het slegs vertellings oor verskynings van Jesus ná sy opstanding. Klem word gelê op die verskille tussen hierdie vertellings om die betroubaarheid daarvan in twyfel te trek. Die vertellings verskil byvoorbeeld oor wie eerste by die graf was, wie Jesus eerste gesien het. Soms herken hulle Jesus, soms nie. Soms mag hulle aan Hom raak en andere kere nie (Matt 28; Mark 16; Luk 24; Joh 20).
Die feit dat daar nie fisiese bewyse vir die opstanding van Jesus is nie, beteken egter nie dat die opstanding nie ’n historiese gebeurtenis was nie. Dink aan ’n misdaadtoneel: Miskien het niemand die daad sien gebeur nie, maar die polisie plaas bewyse bymekaar nadat dit gebeur het, om so die saak te bewys. So ook met die opstanding: Al het niemand dit sien gebeur nie, plaas ons agterna in geloof al die getuienis bymekaar.
Vier dinge dien as getuienis vir Jesus se opstanding: Jesus was dood; tog was die graf leeg; daarna het Jesus fisies aan mense verskyn; en dit het mense se lewens verander.
Ds Juanita du Preez, Pierneef
