Romeine 8: 31-39
’n Mens moet vir baie dinge ’n lisensie hê. Wanneer jy al jou wettige dokumente ingehandig het by die amptelike mense en dit goedgekeur is, het jy vryheid om sekere dinge te doen. Maar jy kan die lisensie verloor as jy dit nie hernu nie, nie meer aan die vereistes voldoen nie, of wanneer jy dit self opgee.
Ons het ook ’n wettige, ewige geloofslisensie. Jesus Christus self het namens ons aan die vereistes voldoen. Wanneer iemand ons aankla, is dit asof daar ’n dokument van reinheid voor die Regter, God die Vader, gebring word. Hierdie dokument het ons naam op en die Heilige Gees se handtekening. Ons word verder verdedig deur die verheerlikte Christus as ons advokaat. Die saak word geskrap, ons naam word skoon verklaar en die aanklaer staan met ’n rooi gesig. Ons kan met vrymoedigheid na God gaan.
Die enigste vereiste van ons kant af om hierdie lisensie te kry en te behou, is egte, suiwer geloof in Jesus Christus en ’n heelhartige liefdesverbintenis met die Drie-enige God. Daarom is dit nodig dat ons geloof getoets moet word deur die golwe van omstandighede wat in elk geval deur ons lewens breek. Selfs Jesus se eie geloof en liefdesverbintenis met sy Vader is getoets op aarde, nie net deur die golwe van omstandighede wat deur sy lewe gebreek het nie, maar ook deur die groot Verleier van die wêreld. Dit is ook so in ons lewens.
Maar daar is geen mag of krag wat ons van die liefde van God kan wegruk en hierdie lisensie van ons kan wegneem nie. Nie in die hemel nie en nie op die aarde nie. Ons kan dit wel self opsê en op daardie wyse verloor wanneer die groot Fopper ons verlei en ons daarvoor swig. Tog het niemand iets teen ons nie. Wanneer ons saak met die Here reg is, kan die wêreld maar raas en lawaai, want wat kan hulle regkry?
Gesang 393 – Middelpunt van ons verlange…
Ds Aniena Jansen van Rensburg, Leeudoringstad
