Lukas 23: 34 (AFR2020)
Toe sê Jesus: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.”
Die kruisiging is vol diepe en ontstellende klankbeelde, maar te midde van die rumoer en die geskreeu val daar ’n enkele stem op wat ’n buitengewone boodskap van genade uitspreek. Die stem van Jesus self dra ’n boodskap wat weerklank vind in die harte van almal wat dit hoor: Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.
Stel jou voor dat jy daar by die voet van die kruis staan. Om jou is die geluide van ’n skare. Sommige huil, ander spot en jou Jesus uit. Die soldate dobbel vir Jesus se klere, onbewus van die gewig van die gebeurtenis wat voor hul oë afspeel. En bo dit alles, hoor jy die pynlike gekreun van die gekruisigdes.
Maar Jesus se stem sny deur al die chaos. Dit is nie ’n kreet van pyn of ’n smeekbede om verlossing nie, maar ’n gebed van vergifnis vir diegene wat Hom kruisig. Hierdie woorde dra ’n krag wat verder strek as onmiddellike lyding. Dit is ’n uitdrukking van Goddelike liefde en vergifnis.
Wat ervaar ’n mens as jy hierdie woorde hoor? Dalk is dit ’n gevoel van verstomming oor die diepte van Jesus se medelye selfs in die aangesig van ondraaglike lyding. Dalk hoor jy ’n stem in jou gewete – ’n oomblik van selfondersoek en die besef van die eie tekortkominge en die behoefte aan soortgelyke vergifnis.
Die klanke en stemme wat ons by die kruis hoor, daag ons uit om verder te kyk as ons eie pyn en om die groter beeld van God se plan vir verlossing en vergifnis te sien. Omdat ons sy stem by die kruis gehoor het, kan ons ons nie doof hou vir die roepstemme van ander nie.
Dr Deon du Toit, Pierneef / Hervormde Teologiese Kollege
