Matteus 26: 31-35 en 69-75

Ons gee vandag aandag aan die feit dat ons verlossing, bevryding, vergifnis, en God se genade nodig het. Ons dink na oor wat ons doen met die genade wat ons ontvang.

Ons almal maak soms foute. Niemand van ons is volmaak nie. Iewers langs ons lewenspad het ons al iemand te na gekom, seergemaak of teleurgestel.

Selfs in die Bybel lees ons van gelowiges wat foute maak en wat nie volmaak is nie. Petrus het ’n fout gemaak. Hy het gedink hy kan uit eie krag vir Jesus volg. Hy het gedink hy is getrouer as die ander dissipels – die mees lojale dissipel van Jesus. Tot sy eie teleurstelling was hy dit nie. Toe hy dit besef, het hy bitterlik gehuil. Die Griekse woord wat ons vertaal het met bitterlik, dra die betekenis van selfverwyt, woede en selfveragting (resentment). Dit wat hy gedoen en gesê het, het ’n bitter smaak in sy mond gelos. Petrus het opreg berou gehad oor wat hy gedoen het – sy trane is sy skuldbelydenis.

Wat doen God met Petrus se trane, sy skuldbelydenis? Is Jesus nou klaar met Petrus? Gaan Jesus Petrus nooit vergewe vir wat hy gedoen het nie? Nee, ons sien die herstel van Petrus en Jesus se verhouding in Johannes 21. In Handelinge word vertel wat Petrus doen met hierdie vergifnis en die bevryding wat hy uit God se hand ontvang. Hy verkondig die boodskap van genade, genesing en bevryding. Petrus bly nie vassteek by sy skuld nie. Hy gaan leef in die genade wat hy ontvang het. Hy volg Jesus na.

Petrus se verhaal is ook ons verhaal. Jesus skenk ook aan ons vergifnis, vergewing en genade, wanneer ons soos Petrus berou het oor wat ons doen, ook besef dat ons nie volmaak is nie en dit voor God bely.

Ons berou oor wat ons doen, behoort nie te lei tot ewige selfkastyding en -verwyt nie. Dit behoort ons oop te maak vir God se genade. Ons kan uit die krag van God se genade verder leef; dieselfde maat van genade wat ons van God ontvang, ook aan ander bewys.

Dr Annelie Botha, Universiteit van Pretoria / Kempten

Share via
Copy link
Powered by Social Snap