Wanneer dinge gebeur wat ons nie verstaan nie, gesels ons met mekaar daaroor. Veral as dit onverstaanbaar is, probeer ons insig en begrip kry.
Op die dag van Jesus se opstanding was twee van Jesus se volgelinge op pad na ’n dorp met die naam Emmaus. Hulle het met mekaar gepraat oor al die dinge wat die afgelope dae gebeur het. Hulle het gepraat oor Jesus se veroordeling, kruisiging en die hoop wat hulle gehad het dat Jesus die verlossing sou bring. Tog was dit al die derde dag ná sy sterwe en hulle het nie geweet dat Jesus reeds opgestaan het uit die dood nie.
Terwyl hulle so gepraat het, het Jesus nader gekom en saam met hulle geloop. Hulle het Hom nie herken nie. Hy vra dan vir hulle: Waaroor loop julle so met mekaar en redeneer? (Luk 24: 17a, AFR2020). Hulle het gedink dat Hy ’n vreemdeling is wat nie van al die dinge weet wat gebeur het nie, en Kleopas het aan Hom verduidelik.
Jesus praat met hulle oor hul insig en geloof. Hy verduidelik dan vir hulle dat baie profete reeds voorspel het dat Jesus die Christus is en verlossing bring.
Jesus wou daarna verder reis. Hulle was feitlik by Emmaus en dit was amper aand. Hulle het by Jesus aangedring om by hulle oor te bly. Dit het die geleentheid geskep vir Jesus om nader aan hulle te kom. Met die ete toe Jesus die brood neem, die seëngebed uitspreek, die brood breek en dit vir hulle gee, het hulle Hom herken. Jesus leef en hulle kon Hom sien! Hulle het dit aan die ander gaan vertel.
Wanneer dinge gebeur waarvan ons ook nie begrip het nie, mag ons die Here toelaat om naby aan ons te kom en ons te leer totdat ons insig kry, beter begryp, en glo.
Ds Kotie Mc Donald, Emeritus
