Romeine 8: 1-11

Wanneer ons dink aan God se werk in die kerk, sien ons onwillekeurig die kerkgebou in ons geestesoog en vergeet ons dat óns die kerk is. Ja, ons met ons sonde en tekorte. Dit is ook dikwels die verskoning wat ons gebruik wanneer ons ander te na kom of kwes met woorde. Ons verweer wanneer ons ongeduldig of afgunstig is teenoor ’n ander, is dikwels: Ek is maar net ’n mens.

Paulus verduidelik egter dat dit nie langer as verskoning vir ’n gelowige kan dien nie. God het deur sy Seun Jesus Christus ons skuld op Hom geneem en ons vry gemaak van sonde. Ons sondige natuur sal nooit verdwyn nie, maar ons is nie meer slawe van die sonde nie. Ons kan as’t ware kies wie ons wil dien: die sonde, of God. Sou ons die sonde kies, loop dit uiteindelik uit op die dood, maar ’n lewe vir en saam met God lei ons tot die vrug van die Gees en vrede. Hoe kies ’n mens dan vir God?

Ons doen dit biddend en deur die leiding van die Heilige Gees. Ons laat toe dat die Heilige Gees ons daagliks vervul en verander sodat ons van nature wil doen wat God van sy kinders vra. Ons kan tog nie ’n instrument in God se hand wees en kerk wees as ons nie toelaat dat Hy deur en met ons werk nie. God se kerk skep vir ons die ruimte en geleentheid om nie net sy koninkryk op aarde sigbaar te maak nie, maar ook sy koninkryk te wees. Die kerk behoort die één ruimte te wees waar ons mense sonder vooroordele en met ope arms verwelkom, juis omdat ons sonde afgeskryf is!

Mag dit ook die kerk se getuienis wees: Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle (vers 9).

Gebed

Gees van God wat lewend maak, vul my meer en meer. Gees van God wat lewend maak, vorm my tot u eer. Troos my, sterk my, leer my, lei my. Gees van God, vul my al meer – vorm my tot u eer. (Gesang 442: 2)

Ds Marissa Kidson, Pretoria-Wes